Suid-Afrika bly die wêreldleier in makadamias te midde van druk: Ambermacs Expo wys die pad vorentoe

1 Macadamia orchards 2026 Witrivier3
Klimaatuitdagings bly ‘n realiteit: Onlangse stormskade in makadamiaboorde in die Laeveld ná buitengewone reënval. Foto: Verskaf
Suid-Afrika bly een van die wêreld se voorste uitvoerders van makadamias en dra sowat 30% van wêreldproduksie by met ’n jaarlikse oes van ongeveer 85 000 ton. Die bedryf skep na raming 97 500 permanente en seisoenale poste, en speel ’n toenemend belangrike rol in die land se landbou-ekonomie. Maar groei bring ook druk: markversadiging, veranderende handelsdinamika en klimaatsuitdagings vra nuwe oplossings én samewerking.
Teen hierdie agtergrond vind die vyfde AmberMacs Macadamia Expo van 5 tot 6 Februarie 2026 in Witrivier plaas. Die Expo het ontwikkel tot Suid-Afrika se grootste gespesialiseerde makadamiaplatform en dien as ’n belangrike ontmoetingspunt vir rolspelers regdeur die waardeketting.
Vanjaar se program is sterk praktykgerig. Dit sluit ’n makro-ekonomiese oorsig deur die ekonoom Dawie Roodt in, asook aanbiedings oor grondregstelling, biologiese insekbestuur en die toepassing van plantfisiologie in besproeiingsbeplanning.
Gert van Tonder, InteliGro se Area Bestuurder vir die Laeveld en KwaZulu‑Natal, beklemtoon dat die ekspo veel meer is as net ’n uitstalling. “Binne twee dae word produsente blootgestel aan beproefde benaderings en tegnologieë wat direk op plaasvlak toegepas kan word. Die waarde lê in die kombinasie van tegnologie, navorsing en werklike boerdery‑ervarings.”
DIE WÊRELDMARK: ’N VERANDERENDE SPEELVELD
Suid-Afrika se makadamiabedryf het die afgelope dekade sterk uitgebrei, veral in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu‑Natal. Maar produsente boer nou binne ’n komplekse internasionale mark, waar pryse steeds onder druk is en faktore soos logistiek, verskepingskoste en tariewe ’n groter rol speel.
Volgens Van Tonder bly Suid-Afrika die grootste produsent wêreldwyd, met Australië tweede en China derde – hoewel China vinnig eie aanplantings uitbrei.
Hy sê daar is wel tekens van herstel ná ’n moeilike pryssiklus, maar dat die tempo stadiger is as wat gehoop is. Die onlangse buitengewone reënval het verdere finansiële druk op produsente geplaas.
’N LANGTERMYNBELEGGING WAT BY DIE GROND BEGIN
Makadamiaboorde is langtermynbeleggings van 30 tot 50 jaar, wat deeglike grondvoorbereiding en volhoubare bestuur vereis.
Schalk Lombaard, InteliGro se Tegniese Bemarkingspesialis vir plantvoeding, waarsku dat korttermynbesparings blywende gevolge kan hê. “Vergelykende navorsing toon dat besnoeiing op voeding of gewasbeskerming uiteindelik opbrengspotensiaal en neutgehalte benadeel,” sê hy.
Volgens Lombaard bied grondontledings ’n kritieke basis vir langtermynbesluitneming. Suurgraad (pH), fosfaatvlakke en watergehalte is veral belangrik, aangesien makadamias deel is van die proteafamilie en sensitief is vir hoë fosfaat.
Hy sê ’n holistiese benadering bly noodsaaklik. “Benewens die chemiese komponent fokus ons ook op grondbiologie. In boorde wat op voormalige tabakgronde in die Laeveld gevestig is, is biologiese strategieë dikwels nodig om wanbalanse reg te stel en boomgesondheid oor die lang termyn te herstel.”
GEÏNTEGREERDE PLAAGBESTUUR WORD AL HOE BELANGRIKER
In die makadamiabedryf lê die toekoms van plaag- en siektebeheer volgens Martin Booyens, InteliGro se Tegniese Bemarkingspesialis vir biologiese oplossings, in goed beplande, geïntegreerde programme wat op langtermynvolhoubaarheid gemik is.
“Strenger regulatoriese vereistes, insluitend GLOBALG.A.P.-standaarde en EU-residubeperkings, versnel die aanvaarding van biologiese benaderings,” sê hy. “Dit gaan nie net oor nakoming nie, maar oor oplossings wat oor tyd beter inpas by grondgesondheid en weerstandbestuur.”
Booyens verduidelik:
- In die Hoëveld en dele van die Laeveld bly stinkbesies ’n groot uitdaging. Eierparasiete wys reeds goeie resultate om bevolkings vroeg in die seisoen te onderdruk.
- In KwaZulu‑Natal bly die makadamianeutboorder ’n kernplaag, waar eierparasiete soos Trichogrammatoidea cryptophlebiae en aalwurms as deel van geïntegreerde beheerprogramme gebruik word. Korrekte tydsberekening, veral die beheer van die eerste generasie, is bepalend vir sukses oor die res van die seisoen.
- Blaaspootjies, veral in boordgebiede naby sitrus, bied ‘n komplekse uitdaging en hier toon predatoriese myte potensiaal as ’n moontlike langtermyn-oplossing.
- Nuwe blomverwelkingsiektes vereis programbestuur en nie slegs eenmalige beheer nie.
“Biologiese beheer is nie ’n kitsoplossing nie,” waarsku Booyens. “Dit verg beplanning, geduld en ’n stelselbenadering, veral in jong boorde. Geleenthede soos die AmberMacs Expo help produsente om meer te leer oor hoe om hierdie oplossings verantwoordelik en doeltreffend in hul boerderystelsels in te bou.”
SAMEWERKING ONDERSTEUN VOLHOUBAARHEID
Hoewel klimaatwisselvalligheid en logistieke knelpunte, veral by hawens, steeds uitdagings bly, is daar tekens van stabilisering in sekere insetkoste en toenemende samewerking regdeur die waardeketting.
“Sukses begin op jou plaas,” sê Van Tonder, “maar langtermynvolhoubaarheid word gebou deur kennisdeling en samewerking binne die bedryf.”
Meer inligting oor uitstallers, seminare en sprekers is beskikbaar op die AmberMacs Expo-webwerf by ambermacs.com/. Aanlynregistrasie is verpligtend en beperk tot 3 000 besoekers. Kaartjies kos R75 per persoon by Quicket, geldig vir albei dae.
Bron: InteliGro