Stygende insetkoste hou ernstige risiko’s in vir toekomstige voedselproduksie

fuel-1596622_1920
Photo: Pixabay
Stygende insetkoste, soos noodsaaklike landbou-produksie insette, direkte arbeid en ander oorhoofse kostes, veroorsaak ernstige uitdagings vir voedselproduksie in Suid-Afrika.
“Die koste van kunsmis, onkruiddoders, verpakking, diesel, elektrisiteit, arbeid en ander insetkostes neem vinnig toe en maak dit byna onmoontlik vir baie boere om voedsel volhoubaar te produseer,” waarsku Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.
Agri SA doen dus ’n beroep op alle belanghebbendes, insluitend die regering, om in te gryp ten einde die koste van kritieke insette te verminder. “Dit is belangrik om insetprodukte wat plaaslik beskikbaar is, te optimaliseer ten einde ’n dreigende krisis in terme van volhoubare voedselproduksie en dus voedselsekerheid, af te weer.”
Hierdie oplossings en insetprodukte is op ons drumpel te vinde, verseker Van der Rheede. Terwyl internasionale kunsmispryse toenemend oor die afgelope jaar gestyg het, beskik Suid-Afrika oor een van die wêreld se vernaamste produsente van fosfaat en fosforsuur, naamlik Foskor. Volgens ’n onlangse studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) word Suid-Afrika egter gereken as die derde duurste land in terme van kunsmiskoste wat graan- en oliesadeprodusente betref.
“In onlangse jare het Suid-Afrika toenemend afhanklik geraak van ingevoerde kunsmis as gevolg van Foskor se onvermoë om bekostigbare fosfaat aan die Suid-Afrikaanse kunsmismark te verkoop,” sê Van der Rheede.
“Suid-Afrika voer tans ongeveer 80% van fosfaat vir kunsmisvervaardigers in. Dit het ’n nadelige uitwerking op kunsmispryse, wat dan aanleiding gee tot aansienlike stygings in die veranderlike produksiekoste van boere.”
Dit is welbekend dat Foskor van die beste gehalte fosfaat-hulpbronne ter wêreld het asook die vermoë om fosfaat aan Suider-Afrika te lewer. Bestuur- en voorraaduitdagings verhoog egter die fosfaatprys en veroorsaak vertragings. Dit word vererger deur die herhaaldelike sluiting van vervaardigingsaanlegte in Richardsbaai, wat ontwrigting in die waardeketting veroorsaak.
“Die kombinasie van prystygings vir boere en ontwrigting in die voorraad hou tans ’n risiko in vir voedselsekerheid en het ’n vernietigende uitwerking op die winsgewendheid en volhoubaarheid van boere,” maan Van der Rheede.
Agri SA doen ’n beroep op die IDC en die Ministerie van Handel en Nywerheid om met die landboubedryf en ander belanghebbendes te skakel met die oog op optimalisering van Foskor se uitset en om te verseker dat die landboubedryf voordeel trek uit gereelde voorsiening en bekostigbare pryse.
“Dit is noodsaaklik aangesien verskeie groot kunsmisvervaardigers in Europa gedwing is om produksie af te skaal weens hoër gaspryse.”
Die prys van aardgas wat gebruik word om kunsmis te produseer, het aansienlik gestyg. Onlangse kragbeperkings en -onderbrekings oor China heen as gevolg van steenkooltekorte het ook mededinging verskerp tussen Asië en Europa om energiebronne te verkry.
Agri SA het ook kennis geneem van die feit dat jaarlikse brandstofinflasie sedert April 2021 voortdurend hoër is as algehele oorhoofse inflasie. Volgens Statistieke SA styg voedselinflasie toenemend, met tot 4,8% in Augustus vanjaar en tot 5% in September. Die potensiële verandering in brandstofpryse is baie kommerwekkend, met aanplantings onderweg vir die someroesseisoen.
Volgens die Automobiel Assosiasie (AA) dui die huidige wisselkoers kommoditeitsdata op prystoenames van ‘katastrofiese afmetings’ teen die einde van Oktober, met petrol wat met 99 sent per liter en diesel met R1,41 per liter styg. “Dit is werklik kommerwekkend en sal ’n vernietigende uitwerking op die winsgewendheid van baie boerderye hê.”
Agri SA doen dus ’n beroep op die Departement van Minerale en Energie om die brandstofprys te dereguleer, met onmiddellike effek. “Ons kan nie langer gyselaar gehou word deur beleid en beleidmakers wat groter regeringsbeheer oor die ekonomie en kritieke kommoditeite soos brandstof, elektrisiteit, water en gas wil uitoefen nie. Ons word hierin ondersteun deur die Nasionale Tesourie, wat in 2019 ʼn besprekingsdokument uitgevaardig het waarin hulle reeds die deregulering van die land se brandstofprysaanbeveel as een van menige maatreëls om ekonomiese groei te stimuleer en die koste van diesel te verlaag.”
Verder het Suid-Afrika ook toegang tot ’n oorvloed steenkoolreserwes. Hierdie hulpbron moet geoptimaliseer word om goedkoper brandstof aan alle ekonomiese sektore beskikbaar te stel, veral die landbousektor.
“Fossielbrandstof soos gas is ook volop in die streek en kan aangewend word vir verskeie energieprogramme.”
Die produksie van bekostigbare, goedkoop en gesonde voedsel moet Suid-Afrika se nommer-een-prioriteit wees. “Dink aan die maatskaplike onrus wat sal volg indien voedsel te duur word of as ons ’n voedseltekort in die land sou ervaar. In die afwesigheid van produsente-ondersteuning, is dit uiters belangrik dat insetkoste in toom en op ’n bekostigbare vlak gehou word. In hierdie verband het die regering, in samewerking met alle landboubelanghebbers, ’n kritiek belangrike rol te speel om die landbousektor winsgewend en mededingend te hou!”
Bron: Agri SA