Styg uit met lugbespuiting
Die artikel is deel van ’n reeks oor spuite en spuitmetodes. Lees in ProAgri 176 meer oor sleep- en selfl oopspuite. Volgende keer bespreek ons boord- en wingerdspuite.
Daar is abbaspuite, sleepspuite, selflopers, die moontlikheid om middels deur besproeiingstelsels toe te dien, maar lugbespuiting het ook sy plek in die boer se wapenarsenaal teen peste en plae wat sy gesaaides bedreig.
Gewasbespuiting is nie ’n ding wat ’n boer maar kan doen wanneer hy ’n kansie kry of daarna voel nie: Wanneer stronkboorders aan jou mielies knaag, moet jy gou speel anders vreet hulle jou hele duur oes op. Dit beteken dat jy dadelik moet inklim en jou hele land so gou as moontlik moet bespuit.
Maar die natuur laat die boer nie toe om te spuit wanneer hy wil nie. Soms waai die wind te sterk sodat jou duur spuitstof op jou buurman se grond beland. Ander kere reën dit sodat jy glad nie kan spuit nie, en as dit klaar gereën het, is jou land soms so nat en modderig dat jy nie eers kan hoop om daarin te beweeg met enigiets wat op wiele loop nie.
Lugbespuiting vanuit vliegtuie laat jou toe om die tydjies wat die natuur jou vir bespuiting toelaat, beter en gouer te benut. Dit het belangrike voordele wat elke boer maar gerus in ag kan neem.
Met lugbespuiting kan gewasbeskermingsmiddels tydig en doeltreffend toegedien word. Nat grondtoestande belemmer ’n vliegtuig se beweging glad nie, sodat jy veel gouer nadat dit gereën het tot jou gewasse se redding kan kom.
Baie boere kry ’n kosteskrik as hulle die woord, “vliegtuig”, hoor, maar grondlangse spuite en trekkers en operateurs kos ook nie niks nie. Wanneer ’n boer sy sommetjies begin maak en lugbespuiting se tydigheid, deeglikheid en positiewe bydrae tot groter oeste byreken, dan is lugbespuiting se koste glad nie so hoog nie. Vir die bespuiting van veral groot gebiede kan dit beslis meer ekonomies wees.
’n Belangrike vereiste vir suksesvolle oesbeskerming, is vinnige toediening. As peste jou gesaaides bedreig, duur die vernietiging in die res van die lande voort terwyl jy ry op en ry af met jou spuit en trekker kruie. Lugbespuiting dek die hele land veel gouer en stuit die aanslag teen jou gesaaides veel tydiger. Boonop trap lugbespuiting nooit gesaaides dood nie; dit kompakteer nooit jou lande nie en dit laat geen wielspore nie.
’n Probleem met grondlangse gewasbespuiting kan wees dat trekkerwiele swamspore kan help om in die land te versprei, sodat jy dikwels die een probleem oplos, maar terselfdertyd ’n ander probleem aanhelp. Lugbespuiting doen dit nie.
Sedert ’n vliegtuig in 1921 die eerste keer vir lugbespuiting gebruik is, het dié praktyk vele belangrike ontwikkelings ondergaan. Die poeier wat aanvanklik gebruik is, is met wateropgeloste middels vervang, spuite, sproeiers en druppelgroottes vir maksimum doeltreffendheid is gevind, spesiale stewige, kragtige vliegtuie is ontwikkel en globaleposisioneringstelsels is ontwikkel om presies op ’n tiekie te spuit sodat dit nou nie meer nodig is vir werkers met vlae om te wys in watter baan die vliegtuig elke keer moet vlieg nie.
Vandag gebruik lugbespuiters benewens GPS-stelsels, ook GIS (geografiese inligtingstelsels), weermetingstelsels, vloeibeheerkleppe vir wisselende toediening en rookopwekkers om windrigting en -spoed te bepaal. Lugbespuiting is ’n presiese en verfynde metode van oesbeskerming en niks word aan toeval oorgelaat nie.
Lugbespuitingoperateurs is deesde nie maar blote vlieëniers wat heen en weer oor ’n land vlieg nie – hulle is hoogs opgeleide en ervare kundiges wat landbou verstaan en, in pas met die gevorderdste boerderybeginsels, vir die boer ’n diens lewer waarop hy kan reken.