Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 22nd January 2024

Stroop vinniger met CLAAS se LEXION 8700

By 4 min read
822 words

Foto: Die swart kat productions.

“Ek het drie dae vinniger gestroop as gewoonlik met die nuwe stroper en ook die skoonste koring in 30 jaar gestroop.” So sê Piet Louw van Louw Boerdery in Hopetown, Noord-Kaap van, sy CLAAS LEXION 8700-stoper.

Hy loop al jare die pad met CLAAS en is die eerste boer in die Noord-Kaap wat die indrukwekkende stroper besit. Daar is nog nie baie van die stropers in Suid-Afrika beskikbaar nie. Dit is van die grootste masjiene wat CLAAS vanaf Duitsland na Suid-Afrika invoer.

Piet voeg by dat nie enige stroper koring behoorlik kan stroop nie, maar CLAAS is baas op die koringland, verklaar Piet.

Piet is nie net ՚n boer nie maar ook ‘n werktuigkundige en ken daarom die stroper van hoek tot kant. Sy twee seuns, Charlie en Pieter, boer saam met hom en Charlie en Piet versien ook self hulle werktuie na elke seisoen.

Piet loop behoorlik oor van opwinding en inligting: “Die stroper stroop outomaties en ry min of meer 5 km/u,” sê Piet. Hy stroop tussen 50 en 60 ton koring per uur en 6 tot 7 hektaar per uur met die LEXION 8700.

CLAAS het die kajuit van die stroper groter gemaak, wat dit gemaklik maak vir die boer om lang ure te stroop. Daar is ՚n lekker yskas in vir jou verversings en ՚n lugverkoeler sodat jy nie die 40-grade hitte buite voel nie.

Die sitplekke kan verstel word om warm of koud te maak. “Dit is veral lekker in die winter wanneer dit so koud is in die aande,” sê Piet.

Hy sê jy hoef nie alles van die stroper te weet nie; die tegnologie is gevorderd en lei die boer.

“’n CLAAS-stroper het van die beste tegnologie in die wêreld,” sê Piet.

Piet Louw van Louw Boerdery glimlag breed in sy nuwe CLAAS LEXION 8700 stroper. Die stroper maak sy strooptyd maklik, lekker en vinnig.

Met die tegnologie kan die boer ook die stroper se werking vanaf sy selfoon dophou as iemand anders die stroper bestuur. CLAAS maak gebruik van die CEBIS-skerm. “Daar is drie skerms in die stroper. Die een wys die boer hoe hy sy gewas se opbrengs lyk, die vogvlakke, wanneer die graantenk vol is en vele meer. Die tweede skerm is die presisie skermwat die rooi kolle in die land wys. Dit is waar die grond meer aandag nodig het en waar die boer weet hy meer kunsmis moet gee. Die derde skerm is die GPS van die masjien,” sê Piet.

Die LEXION 8700 het ‘n konkaafoppervlakte van 1,55 m². Piet sê dit is maklik om te vervang. Die konkaaf het ‘n segment of gedeelte wat uitgehaal en vervang kan word vir verskillende gewasse. ‘n Oorladingbeskermingstelsel bied ook beskerming teen blokkasies.

Die stroper het ՚n gewone hardebed- (rigid) -tafel. “Die tafelmes kan ook verder uitstoot vir ander gewasse.”

Die volumes graan wat die graantenk kan hou wissel tussen 10 000 en 18 000 liter.

Daar is sewe verskillende aflaaiawegare beskikbaar en die aflaaispoed wissel tussen 110 ℓ/s en 130 ℓ/s. Hierdie pype is tot 12 meter lank.

Daar is ook ’n 180 ℓ/s weergawe beskikbaar vir die LEXION 8700-model. Om die afvoertrokke en tapkarre so presies as moontlik te laai, kan hierdie awegaar se werkspoed verlaag word na 90 ℓ/s.

Onder die uitgooipyp is ‘n kamera wat sorg dat die operateur vanuit die kajuit gemaklik in die tapkar kan inkyk. So kan die boer die aftapproses vanuit die kajuit dophou. Die stroper werk baie goed saam met ‘n tapkar wat 20 ton kan hou.

Wanneer die graantenk leeggetap is, skakel die awegaar binne die bak outomaties eerste af terwyl die awegaar in die aflaaipyp nog draai om die pyp behoorlik leeg te maak.

Foto: Die swart kat productions.

Die verkoeler sit bo-op rug van die stroper wat maak dat hy skoon lug kry en nie vol stof raak nie.

Piet brand ook nie die land nadat die koring gestroop is nie want die LEXION se kafkapper en strooier versprei alles wat die stroper uitgooi regoor die snyoppervlakte.

“Jy sal nie gesnyde kaf op die koring kry nie.”

Die stroper het ook ՚n APS SYNFLOWHYBRID-dwarsdrom. Dit is ՚n kombinasie van ’n rotor en ’n sekondêre dwarsdrom. Die dorsdrom se deursnit is vergroot tot 755 mm. Dit word gevolg deur ’n nuwe, groter voerdrom met ’n deursnit van 600 mm. Die groot deursnit van die dorsdromme veroorsaak ’n lae-kontakhoek van 132 grade.

Hierdie eienskappe, saam met die sinkronisasie van die spoed waarteen die dromme draai, verseker ’n egalige materiaalvloei wat die stroper ligter op brandstof maak.

Die LEXION 8700 het ‘n Perkins-enjinin ooreenstemming met die CLAASPOWER SYSTEMS-konsep.

Die boer hoef ook nie bekommerd te wees om heelnag te stroop nie, want die skerp LUD-ligte laat die nag soos dag lyk. Die lang reeksligte skyn ver en die belangrike masjiendele het onderhoudbeligting. Piet is baie tevrede met Kimberley Agri Onderdele en Hopetown Agri se goeie diens wat hy ontvang het.

Foto: Die swart kat productions.

Besoek gerus www.claas.co.za om te kyk wie jou naaste handelaar is om jou LEXION aan te skaf.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0