Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 17th April 2024

Sterkfontein Farms groei sterk: Van stadsjapies tot megaboere

By 7 min read

20

՚n Boer moet ՚n plan hê, weet in watter koers hy met sy boerdery wil gaan en die sakewêreld verstaan. So glo Rohan Meintjes, die pa in die pa-en-seun-span van die sterk boerdery, Sterkfontein Farms. Sterkfontein-boerdery behels hoofsaaklik hoenders terwyl die 26-jarige Dylan Meintjies in beheer is van hulle Boran-, Ankole- en deesdae Beefmasterstoet.

Rohan se ma, Charlene Klinkert, is die wakker boer wat die boerdey in 1987 by Tarlton aan die Wes-Rand begin het as Klinkert-boerdery. Rohan vertel laggend dat hulle gedink het hulle koop braaikuikens toe koop hulle eintlik lê-henne. “Ons het hulle toe maar oor naweke aan die werkers in die area verkoop as lewende hoenders, en dit is hoe ons begin het.” In 1990 het hulle hulleself in Swartkrans gevestig op ՚n plaas wat net ՚n klein tweespoorpaadjie en geen ander boere gehad het nie.

Dit was die begin van Sterkfontein Poultry en die familie se boerderyverhaal. Waar hulle voorheen hulle hoenders in ՚n motorhuis gehuisves het en oor die heining verkoop het, het hulle nou ՚n slagpale en gevestigde hoenderhokke. In 1997 is Charlene se man in ՚n plaasaanval doodgeskiet en sy en haar seuns het die onderneming uitgebrei. Later het Rohan Sterkfontein Chicks ook by die saak gevoeg.

In 2010 het hulle met beeste en wild ook begin boer. “Eintlik het ՚n buurman my ՚n paar rand geskuld en toe vir my tien beeste gegee,” verduidelik Rohan.

“Ek wou hulle nie eintlik hê nie, maar toe ons begin kyk na die waarde van beeste het ons gesê kom ons probeer. Dylan het toe met die Sussex-ras voortgegaan. Hy was maar net dertien jaar oud.” Hy vertel dat dit nog altyd Dylan se droom was om te boer, en selfs op skool as sy ouers onder die indruk was dat hy besig was om te leer, sou hy eerder ՚n landboutydskrif lees.

Sterkfontein Poultry

Oor die jare het hulle hulle hoendersaak ten volle geïntegreer en vandag het hulle hulle eie slagpale, broeikaste, broeiers en lêhenne. Hulle maak glad nie gebruik van kontrakleweransiersnie.

Sterkfontein Boran en Ankole

Dylan het die afgelope paar jaar daardie kuddetjie van tien beeste uitgebrei tot waar hulle vandag ՚n Boranstoet, Ankolestoet en Beefmasterstoet ook het. Hy het mettertyd die Sussexstoet begin spoel en embrio’s gebruik om die stoet oor te skakel na ՚n Boranstoet. Dylan het ՚n oog vir ՚n bees en is kieskeurig met die beeste wat hy gebruik om sy stoeterye uit te brei. In 2017 het hulle met Ankole-beeste begin boer. Dylan het hulle die eerste keer in 2005 by Disneyland gesien, en het vir sy pa foto’s teruggebring.

“Ek het so klein filmkameratjie gehad. Ek het hierdie langhoringbeeste gesien en hulle afgeneem. Dit was die eerste ding wat ek vir my pa kom wys het toe ek terugkom. Ons het gehoor dat Cyril Rhamaposa hulle ingevoer het van Uganda, maar hulle was nog nie beskikbaar vir die publiek nie. Hulle het eers in 2017 Ankoles aan die publiek begin verkoop, so ek moes twaalf jaar lank wag vir my droom om waar te word,” verduidelik Dylan.

Rohan voeg by: “Ons vat dit stadig met die beeste, Dylan het nou laaste die Beefmasters bygevoeg. Die spesifieke stoet is nog klein, maar ons het besluit om met die Beefmasters te begin omdat voerkrale in die Wes-Rand meer van die rooi beeste hou.”

Dit was Dylan Meintjes se droom om Ankolebeeste te besit en deesdae het hy ՚n pragstoet.

Sterkfontein se uitdagings

Die pa en seun vertel dat daar baie uitdagings in Suid-Afrika en die landboubedryf is en dat mens moet diversifiseer om suksesvol te wees. Rohan het in Roodepoort grootgeword en vertel dat die eerste eland wat hy ooit gesien het, op die plaas was toe hulle daar aankom. Die gesin moes alles van boerdery leer soos wat hulle gevorder het. Net soos Rohan oor hoenders moes leer, moes Dylan ook maar oor beeste leer.

“Ons was dorpsjapies wat kom boer het,” sê Rohan laggend. Vir hulle was daar drie groot uitdagings toe hulle begin boer het, en dit is uitdagings wat hulle soms vandag nog in die gesig staar. Een van die uitdagings, vertel Rohan, was banke wat nie wou help met lenings nie. Nog een is veiligheid op plase, iets waarvan die gesin ongelukkig te veel weet. Behalwe vir hulle en hulle werkers se persoonlike veiligheid, is daar ook die veiligheid van hulle diere. Dan is Rohan van mening dat ՚n onvermoë om invoere en uitvoere te balanseer ook probleme kan skep.

“My produksiekoste per hoender was in ՚n stadium R23,50 maar ek kon hulle invoer teen R19. Mens kan nie daarteen meeding nie.”

Een van die boerdery se grootste uitgawes is diesel. Op hulle plase het hulle meer as veertig kragopwekkers en as beurtkrag op vlak ses val kan dit hulle tot R1-miljoen per week aan diesel kos, om nie eers te praat van die onderhoud aan hulle kragopwekkers nie. Daar is ՚n sonpaneelprojek in Tarlton, maar Rohan het vir eers ՚n tweede soortgelyke projek stop gesit omdat hy duidelikheid wil kry oor hoe ՚n mens elektrisiteit kan bank en terugverkoop aan die verskaffer Hy noem dat die elektriese infrastruktuur ook nie voldoende is vir hulle boerdery nie. ՚n Konstante kragtoevoer word benodig om hulle masjiene optimaal te laat werk, maar omdat die kragtoevoer nie altyd konstant is nie, moet hulle dikwels hulle kragopwekkers gebruik, selfs al is die ligte aan.

Sterkfontein en tegnologie

Die Sterkfontein-boerdery hou aan uitbrei en die opgradering van hulle tegnologie gaan daarmee gepaard.

“Hoenders is seker een van die boerderye wat die meeste gevorderd is ten opsigte van genetika en voer, omdat dit een van die goedkoopste en gewildste bronne van proteïne is,” sê Rohan. Daarom is al hulle masjiene outomaties en word hulle yskaste deur ՚n maatskappy oorsee gemoniteer. In een van die ou gedeeltes van hulle hoenderboerdery het hulle steeds iemand wat elke dag hulle yskaste en masjiene moniteer, maar by die nuwe gedeelte van die plaas word dit vir hulle gedoen.

“As die grense in die yskaste, slagmasjiene, water of enigiets wat met temperatuur beheer word, af is, dan laat weet hulle ons en verduidelik wat kan fout wees en hoe ons dit kan regmaak. Hierdie tegnologie het baie verbetering gebring. Jou produksiekoste daal, want nou werk jou yskas optimaal.” Maar dit is nie net die hoenders se tegnologie wat uitbrei op die plaas nie. Dylan het aan die begin van 2024 ook nuwe tegnologie ingebring ten opsigte van geslagsbepaalde semen.

“Die saad van jou bulle word versamel en kan dan gesplit word om te verseker dat jy meer verskalfies kry,” verduidelik Dylan. Hy voeg by dat jy met hierdie tegnologie tussen 95 en 99 persent verskalfies kan kry. Hulle het nog nie resultate op die grond nie omdat die proses so nuut is en eers aan die begin van die jaar by hulle ingevoer is, maar dit sal baie vir hulle stoete beteken indien dit werk.

“Dit is ՚n baie duur proses, so ek dink nie ՚n mens sal dit in elke liewe geval gebruik nie. Ek dink jy moet oordeelkundig daarmee werk. Omdat dit duur is, stel ek voor dat ՚n mens dit probeer met in vitro-spoelings, dan kan jy twee koeie spoel en jy gebruik miskien drie of vier strooitjies om net jou koste af te bring,” stel Dylan voor.

Wat lê voor vir Sterkfontein?

Rohan is van die mening dat ‘n mens nie meer kan fokus op volume nie, maar eerder moet fokus op gehalte, en dit is presies wat hulle gaan doen. “Ons gaan nie die mark storm nie.” Hulle gaan nou werk aan hulle Beefmaster-stoet en nie nou 100 koeie koop en mal gaan nie, maar eerder ՚n plan vasstel en daarnatoe werk.

Rohan wil ook die hoenders wyer in die land in skuif en nie sy hele ketting op een plek hou nie, want soos hy verduidelik: “As die eerste skakel breek, dan is jy in die moeilikheid. Die mark is vol, so ՚n mens gaan nou moet konsolideer op gehalte en produksiekoste.” Hy glo in die toekoms gaan boere moet gehalte produseer, produksiekoste laag hou en hulle eie prosesse ontwikkel om vooruitgang te bewerkstellig. Die gehalte van hulle diere word ook elke jaar by hulle veiling ten toon gestel. Rohan vertel dat dit Dylan se spoggeleentheid is om vir sy pa en ander die gehalte van sy stoete te wys.

“Goeie goed sal altyd verkoop, dit is wat ons deesdae opmerk by veilings.” Dylan het vanjaar op 18 April sy vierde veiling op hulle plaas aangebied.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment