Met opregte dankbaarheid kyk Boschoek Bonsmaras en Vriende terug na puik produksieveiling

WhatsApp Image 2026-07-18 at 07.04.50
Die stof het skaars gaan lê ná Boschoek Bonsmaras en Vriende se produksieveiling, wat op Vrydag 17 Julie 2026 by Warmbad Veemark aangebied is, maar die opgewondenheid oor die dag se sukses leef steeds voort. Die veiling is deur Vleissentraal Bosveld in samewerking met SwiftVEE se aanlynplatform aangebied en het weereens bewys dat gehaltegenetika altyd sy waarde behou.
Dit was ’n besonder suksesvolle dag vir Boschoek Bonsmaras, sowel as die Vriende, wat hul stoet- en kommersiële vroulike diere op die veiling aangebied het. Elke dier wat deur die veilingsring gestap het, was ’n toonbeeld van die Bonsmara-ras se gehalte, funksionaliteit en uitstekende genetiese potensiaal.
André van der Heyde, eienaar van Boschoek Bonsmaras, het sy opregte waardering uitgespreek teenoor almal wat die dag moontlik gemaak het. “Baie dankie aan elke persoon wat die veiling bygewoon en ondersteun het, van naby en ver. Dit is vir ons ’n voorreg om hierdie veiling saam met ons Bonsmara-vriende aan te bied en saam te bou aan iets groter. Uiteindelik gaan hierdie bedryf oor mense, vriendskappe en die vertroue wat ons in mekaar plaas.”
Boschoek Bonsmaras en Vriende kyk met opregte dankbaarheid terug na ’n uitstekende produksieveiling waar stoetbulle, stoetvroulike diere en kommersiële vroulike diere besonder goeie pryse behaal het. Die sterk belangstelling van kopers getuig van die vertroue wat veeboere in die gehalte van die diere en die telers se genetika het.

Die duurste bul van die dag was Lot 12, AH 23-77, wat vir R260 000 verkoop is aan Nic Chapman van Chappies Bonsmaras. Kyk hier.

Die duurste vroulike dier was Lot 41, LAR 23-206, ’n dragtige vers van Up George Bonsmaras, een van die gasverkopers op die Boschoek-veiling. Sy is vir R130 000 aangekoop deur Thea van der Merwe van Sathara Bonsmaras. Kyk hier.
Die volledige veilingsresultate verskyn hieronder:
Boschoek Bonsmaras en Vriende spreek hul opregte dank uit aan elke koper, verkoper, borg, ondersteuner en spanlid wat bygedra het tot die sukses van die dag.
Baie geluk aan al die verkopers met uitstekende pryse en aan elke koper met hul belegging in topgehalte Bonsmara-genetika. Mag hierdie diere vir baie jare waarde toevoeg tot jul kuddes.




