Senepol wys waarom eenvoud en winsgewendheid hand aan hand loop

Senepol_NLS_Jul2026
Wat 25 jaar gelede begin het as ’n enkele vrag van 20 volwasse diere en agt kalwers wat uit Zimbabwe na Suid-Afrika gebring is, het vandag ontwikkel tot ’n ras met ongeveer 5 000 geregistreerde diere en 45 toegewyde telers. Die Senepol-beesras het hom gevestig as ’n praktiese, winsgewende en aanpasbare vleisras wat toenemend die aandag van beide stoet- en kommersiële boere trek.
Die ras beleef steeds bestendige, organiese groei in Suid-Afrika. Benewens die stoetbedryf word beraam dat daar reeds sowat twee keer soveel kommersiële Senepol-diere in produksie is – ’n getal wat jaarliks toeneem namate meer boere die ras se voordele eerstehands ervaar.
Die invloed van Suid-Afrikaanse Senepol-genetika strek reeds verder as ons landsgrense. Kuddes is gevestig in Angola, Namibië, Botswana en Mosambiek, waar boere deurgaans uitstekende terugvoer gee oor die ras se vermoë om uitdagende omgewings te trotseer. Veral die Senepol se uitstekende hitteverdraagsaamheid en natuurlike weerstand teen insekte en bosluise word as groot voordele uitgelig.
Vir enige beesboer bly winsgewendheid die uiteindelike doelwit, en dit begin by ’n ras wat maklik bestuur kan word en minder insette verg. Dit is juis hier waar die Senepol uitblink.
Die ras se gewilde eienskappe sluit onder meer poenskopdiere, ’n gematigde temperament, ’n gladde haarkleed, medium raamgrootte, goeie bosluisweerstand, uitstekende vrugbaarheid en lae geboortegewigte in. Hierdie kombinasie maak die Senepol besonder geskik vir kommersiële vleisproduksie én kruisteelprogramme.
Een van die ras se grootste sterkpunte is dat baie van hierdie eienskappe sterk oorerflik is. Danksy die Senepol se hoë erfdwang is hierdie voordele dikwels reeds in die eerste kruisteelgenerasie sigbaar, ’n belangrike rede waarom die ras toenemend in kommersiële kuddes benut word.
Moderne genomiese tegnologie voeg verdere waarde tot die ras se ontwikkeling. Telers laat hul diere deurlopend genomies toets, en die resultate bevestig onder meer die unieke dubbele gladdehaargeen en dubbele poenskopgeen wat in die ras voorkom.
Nog ’n besonder opwindende aspek is vleisgehalte. Met behulp van genomiese data word ’n vleissagtheidsyfer bepaal. Waar baie vleisrasse tipies tussen 2 en 3 op ’n skaal van 1 tot 6 behaal, het talle getoetste Senepol-diere reeds tellings van 4 behaal, met sommige wat selfs ’n uitsonderlike telling van 5 toon. Hierdie genetiese inligting, tesame met funksionele bouvorm en prestasie, speel ’n al groter rol wanneer stoet- en kommersiële boere hul volgende teelbulle selekteer.
Gehalte staan sentraal
Kopers kan uitsien na uitstekende genetika tydens die Senepol-veiling wat op 22 Augustus om 11:00 by Airborne (Emoya), Bloemfontein, aangebied word.
Die stoet- en kommersiële diere wat aangebied word, voldoen aan streng gesondheid- en gehaltestandaarde. Alle diere is teen bek-en-klouseer ingeënt en vir besmetlike misgeboorte (BM) getoets, terwyl die bulle ook vrugbaarheidstoetse ondergaan het en vir trigomoniase, TB en vibriose getoets is. Selfs die kommersiële diere word streng gekeur om ras-tipies te wees.
Met genetika wat internasionaal kan meeding, bewese aanpasbaarheid onder Suid-Afrikaanse toestande en ’n sterk fokus op funksionele winsgewendheid, beloof die 2026 Senepol-veiling om weer ’n uitstekende geleentheid vir stoet- én kommersiële boere te wees om in topgehalte Senepol-genetika te belê.