Sterk pryse en uitstekende opkoms by Vlakte Bonsmara Studiegroep se 20ste produksieveiling

724142902_1529217342343605_7839632846415679549_n
Verkopers van die vier duurste bulle van die dag. Al vier behaal ’n prys van R100 000 elk. V.l.n.r: Henk Pretorius van Thaba Kwena Bonsmaras, Leon Riekert van LFR Bonsmara Stoet en Andries Kruger van Kameeldoring Bonsmaras.
Die Vlakte Bonsmara Studiegroep het op 11 Junie 2026 hul 20ste produksieveiling op die plaas Doornpan buite Roedtan, Limpopo, met groot sukses aangebied, met ’n indrukwekkende opkoms en pryse wat die mark oortref het.
Van vroeg af was die belangstelling in die aanbod reeds sigbaar en die kopers het nie teleurgestel nie. Die bulle het ’n stewige gemiddeld van R70 000 behaal, terwyl vier topbulle elk vir R100 000 verkoop is – ’n duidelike bewys van die gehaltediere en die topgenetika wat aangebied is.
Volgens Kobus du Toit, voorsitter van die Vlakte Bonsmara Studiegroep, het die dag alle verwagtinge oortref: “Ons staan hier aan die einde van ons 20ste produksieveiling, en wat ’n dag was dit nie! Ons het ’n ongelooflike goeie opkoms gehad en die diere het uitstekend verkoop.”
Die vroulike diere het besonder goed presteer en ver bo markverwagtinge verkoop, terwyl die vetvee- en jongbees-aanbiedinge ook sterk belangstelling gelok en goeie pryse behaal het. Dit bevestig weereens die vertroue wat kopers in die Vlakte-groep se diere en telingstandaarde het.

Kobus du Toit, voorsitter van die Vlakte Bonsmara Studiegroep ná afloop van ’n uiters suksesvolle 20ste produksieveiling.
Uitslae van die stoet- en aanteeldiere

Uitslae van die slagvee en jogbees



Kobus het beklemtoon dat die sukses van die dag nie sonder die ondersteuning van rolspelers moontlik sou wees nie: “Ons is werklik baie geseënd met die dag en die opkoms wat ons gehad het. Baie dankie aan al ons kopers, verkopers, borge en uitstallers wat deel was van die dag.”
Vooruitsig: Bulveiling reeds op die kalender
Die studiegroep rus nie op hul louere nie en nooi belangstellendes uit na hul volgende groot geleentheid. Die 17de bulveiling vind plaas op 16 Oktober 2026, waar sowat 50 bulle en ongeveer 250 vroulike diere, insluitend uitgesoekte stoetvroulike diere, aangebied sal word.
“Ons ontvang julle graag op die dag,” het Kobus gesê.
Met die konsekwente gehalte en sterk markvertroue wat weer tydens hierdie bewys is, bly die Vlakte Bonsmara Studiegroep ’n betroubare vennoot in die Bonsmara-bedryf.
Vir meer inligting oor Vlakte Bonsmara Studiegroep se gebeure en komende veilings, volg hul Facebook-blad of besoek hul webwerf.

Verskeie borge het die groep tydens hierdie mylpaalveiling ondersteun.

