Categories: Artikels, Vee en Wild, VeilingsPublished On: 15th September 2025

Soutpansberg Bonsmaras nooi jou na hulle produksieveiling by Vivo

By 4 min read
700 words

soutpansberg 1

Die tyd het weer aangebreek vir die Soutpansberg Bonsmara Produksieveiling. Die geleentheid wat jaarliks boere van regoor Limpopo en selfs verder na Vivo lok. Hierdie jaar se veiling vind plaas op Vrydag 10 Oktober om 11:00 op die plaas De Ruigte, net buite Vivo, en beloof om van die beste Bonsmara genetika in die streek aan te bied.

Die Soutpansberg Bonsmara stoet, geleë op die plaas Spitskop, het ’n trotse geskiedenis wat terugstrek na 1995. Hierdie area grens aan die legendariese Mara Navorsingstasie, waar Prof. Jan Bonsma en Manie Eloff baanbrekerswerk gedoen het in die ontwikkeling van die Bonsmara-ras. Dit is ’n streek wat bekend is vir uitdagende toestande, van Hartwater tot Asiatiese Rooiwater, wat beteken dat diere hier goed aangepas moet wees om te oorleef en te presteer.

Aanvanklik is daar met Afrikaner- en Simmentalerbeeste geboer, maar in 2006 het Louis van der Walt en sy span besluit om voluit op Bonsmara te fokus. Hierdie besluit was nie toevallig nie: die Bonsmara is ’n ras wat uitstekende groei toon, sterk aanpasbaarheid het en ekonomiese waarde lewer met gehalte karkasse. In 2009 is die Soutpansberg Bonsmara stoet amptelik geregistreer, en sedertdien word daar jaarliks intensief op genetiese vordering en kwaliteit gefokus.

“Ons glo aan kudde-diversiteit en teeldoelwitte wat met moderne tegnologie ondersteun word,” verduidelik Bouts Botha, bestuurder van die stoet.

“Ons gebruik kunsmatige inseminasie en die BenguFarm Genetics-tellingsmodule om seker te maak ons kudde bly op die voorpunt van genetiese vooruitgang.”

Streng seleksie is die sleutel tot Soutpansberg Bonsmara se sukses. Elke jaar word sowat 400 bulkalwers gebore, maar slegs ongeveer 60 daarvan word teruggehou om op die veiling aangebied te word. Almal ondergaan Fase B- of Fase D-toetse en word streng gekeur. “As ’n bul nie aan ons standaarde voldoen nie, word hy uitgeskot, ongeag hoe goed sy toetsuitslae is,” sê Louis. Hierdie strengheid gee kopers die vertroue dat enige bul wat onder die Soutpansberg Bonsmara-vlag verkoop word, geneties betroubaar is en sonder vrees in enige kudde gebruik kan word.

Die Soutpansberg-span verstaan dat sukses in die beesbedryf nie net oor genetika gaan nie, maar ook oor verhoudings. “Vertroue tussen koper en verkoper is vir ons kernbelangrik,” voeg Bouts by. “Ons glo in eerlike besigheidsbeginsels, goeie dienslewering en ’n langtermyn-verhouding met ons kliënte.”

Hoogtepunte van die 2025-veiling
Hierdie jaar se produksieveiling bring weereens ’n uitstekende aanbod na die mark. Daar sal 25 Bonsmara-bulle aangebied word, saam met 250 kommersiële vroulike Bonsmara-diere in alle produksie stadiums. Dié diere is aan streng gesondheidstoetse onderwerp deur plaaslike veeartse, insluitend TB-, BM- en Vibriose-toetse, asook vrugbaarheid- en Trichomoniase-sifting vir die bulle.

Vir diegene wat op soek is na top genetika, is dit die moeite werd om mooi te kyk na Lot 4, 6, 8, 9, 10, 11 en 12 – veral Lot 10 en 11 wat uitstekend geskik is vir stoetdoeleindes.

Soutpansberg Bonsmara is trots om ook vanjaar ’n sterk groep gasverkopers by die veiling te hê, insluitend JD Venter Bonsmaras, F F Boerdery (Fanie van Jaarsveld en Fielie du Toit), Pierre Burger Boerdery, JMB Bonsmaras (Mynhard Botha en Rickus Bothma) en Botha Bonsmaras (Henk Botha). Hierdie gaste bring ’n waardevolle bydrae en bied pragtige verse aan wat enige boer se kudde sal aanvul.

Boerdery met ’n visie
Die Soutpansberg-groep se visie is om volhoubaar te boer en ’n verskil te maak vir kommersiële produsente. “Ons wil nie net bulle verkoop nie, ons wil vir boere die genetiese boustene gee om hulle kuddes op te hef en winsgewendheid te verbeter,” sê Louis.

Hy gee ook raad aan opkomende boere: “Begin met die regte genetika en hou aan leer. Bly positief, maak genoeg voer in die goeie jare, en wees gedissiplineerd en konsekwent – dit is die pad vorentoe.”

Moenie hierdie veiling misloop nie
Vir boere wat op soek is na gehalte Bonsmara-genetika wat getoets, gekeur en reg is om onmiddellik waarde tot hul kuddes toe te voeg, is hierdie veiling ’n gulde geleentheid.

Die veiling vind plaas op Plaas De Ruigte, Vivo op Vrydag 10 Oktober 2025 om 11:00. Vir meer inligting, kontak vir Louis van der Walt by 082-411-0796 of vir Bouts Botha by 082-339-2471 of stuur ‘n e-pos aan soutpansbergbonsmara@gmail.com.

Lees ook meer oor die veiling op Agri4all.com.

Kyk die video hier:

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1