Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 1st November 2023

Sonneblom is allermins ’n afskeepgewas

By 4 min read

sunflower-3550693_1280

Bron: Pixabay

Syngenta Suid-Afrika deel waardevolle insigte oor sonneblomproduksie en hoe Syngenta produsente kan help om die volle potensiaal van hierdie gewas te ontgin.

“Baie Suid-Afrikaanse graanboere beskou sonneblom dikwels as ’n tweedevioolgewas in plaas daarvan dat hulle dit as dié ster van hul boerdery behandel. Derhalwe is hulle geneig om nie genoeg tyd, aandag en hulpbronne in die gewas te belê nie,” sê Muntingh Hamman, bemarkingsbestuurder (rygewasse Weste) by  Syngenta.

“Sonneblom is egter allermins ’n afskeepgewas. Sonneblom is meer aangepas vir produksie onder droër toestande en hierdie voordeel, in kombinasie met laer insetkoste, betroubare markpryse en ’n opsie om ‘n premie te beding vir olie-inhoud maak dit ’n gewas wat op gelyke voet met ander graangewasse kan kompeteer.”

Sonneblom se aanpasbaarheid by verskillende omgewingstoestande word toegeskryf aan sy verdraagsaamheid vir beide lae en hoë temperature. Sonneblom se vermoë om droogtetoestande beter te hanteer, kan in die komende seisoen, in die lig van voorspellings dat El Niño laer as gemiddelde reënval gaan veroorsaak, voordelig wees.

Die tragedie van die oorlog in Oekraïene het sonneblompryse aanvanklik die hoogte laat inskiet, siende dat dié land (tesame met Rusland) die wêreld se grootste sonneblomproduseerder en -uitvoerder is. Landbou in daardie streek het intussen tot ’n mate gestabiliseer en teen die middel van Oktober hierdie jaar het sonneblomgraan rondom R9 000/ton verhandel. Alhoewel dit heelwat laer is as die R12 000/ton waar die prys gedraai het, is sonneblom steeds ’n opsie wat oorweeg kan word aangesien sojabone, wat gewoonlik bo sonneblom verkies word, nie beduidend hoër pryse haal nie.

Hamman wys daarop dat die verskil in markprys opgeweeg moet word teen die laer insetkostes en veral die feit dat sonneblom die antwoord kan wees vir graanproduksie onder droër toestande. “’n Groot bron van onbenutte potensiaal is egter die premie wat produsente kan verdien vir sonneblomgraan met ’n hoë olie-inhoud.”

Syngenta word allerweë beskou as die wêreldleier in sonneblomgenetika en met die samesmelting van Syngenta en Sensako, het produsente nou direkte toegang tot top sonneblomgenetika onder die Sensako-handelsmerk. Dit bied aan produsente die voordeel van kultivars met ‘n hoë olie inhoud en toleransie teen onkruiddoders.

SY 3970 CL en SNK 270 CL is twee van Syngenta se sonneblombasters wat geplant kan word met die oog op hoë olielewering. “Die toekoms van sonneblom lê in olie. In die verlede was die fokus altyd op graanopbrengs, met verwerkers wat aan die kortste ent getrek het. Die nuwe fokus is op kultivars met ’n hoë olie-inhoud wat tot die verwerker en produsent se winsgewendheid kan bydra,” sê Charles Basson Sonneblomteler en Hoof van Produkplasing by Syngenta.

Die huidige standaard vir olie-inhoud van sonneblomgraan is tussen 36% en 38%, maar met SY 3970 CL het produsente die afgelope paar jaar tussen 42% en 50% olie behaal. “Daar is heelwat nuwe kultivars in die Syngenta-pyplyn en produsente kan uitsien na produkte wat nie net hoë olie gaan lewer nie, maar ook goed sal presteer wat graanopbrengs betref,” sê Basson.

Met die regte ondersteuning en beplanning, wat gewasbeskerming insluit, kan produsente ’n uitstekende opbrengs op ’n belegging in sonneblom realiseer.

“Syngenta bied ’n volledige gewasbeskermingspakket vir sonneblom en saam met ons sonneblombasters en uitstekende gehalte saad, gee ons aan produsente omtrent alles wat nodig is om die meeste uit ’n sonneblomaanplanting te haal,” sê Hamman.

Die westelike gedeeltes van die somergraanproduksiegebied is tradisioneel sonneblomwêreld, maar sonneblom kan ook met groot sukses in ander produksiegebiede verbou word. “Dis verstaanbaar dat sommige produsente verkies om sojabone te plant omdat opbrengs gewoonlik beter is, maar met METAGAN® Gold wat grasse voor opkoms beheer en uintjies onderdruk, en CAPTORA® wat  breëblaar- en sekere grasonkruide na opkoms in bedwang hou, kan onkruidkompetisie tot ’n groot mate beperk en sonneblomsaailinge effektief beskerm word,” sê Hamman.

Later in die seisoen sal produkte soos AMISTAR® en AMPLIGO® onderskeidelik swaminfeksies en insekskade bekamp en selfs verhoed. Blaarvoedings op die regte tyd maak ook ’n noemenswaardig positiewe verskil.

“‘n Holistiese benadering sal ’n sonneblomoes beskerm en produsente in staat stel om opbrengs en wins te maksimaliseer,” sê Hamman. Sodanige benadering sluit wisselbou in om veral Sclerotinia sclerotiorum, die swam wat stamvrot veroorsaak, hok te slaan. Dit is ook belangrik om sonneblom op die regte tyd te plant. Alhoewel produsente grappenderwys sê dat mens tot op 35 Januarie sonneblom kan plant wanneer die mielieseisoen laat loop, is November die beste tyd om saad in the grond te kry. Deur net vroeër te plant, kan produsente hoër sonneblomopbrengs en beter winsgewendheid verseker.

Indien produsente mik na optimale opbrengs en olie-inhoud, moet sonneblom nie net as ’n vanggewas beskou word nie. “Sonneblom verg dieselfde bestuur en verbouingspraktyke as ander gewasse. Wanneer produsente sonneblom in die optimale plantvenster plant en goeie bemesting- en bestuurspraktye volg, staan hulle ‘n uitstekende kans om goeie geld met die geel blomme te maak,” sluit Hamman af.

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment