Só word voermasjiene vir die veebedryf gemaak by Rumax

DSC_1167
Gehalte is die wagwoord in elke deel van die vervaardigingsproses by Rumax. Van die skets en ontwerp van die verskillende masjiene wat hulle vervaardig tot waar die finale produk gelaai word om na die klant te gaan, word alles met sorg hanteer.
“Elke produk begin in die kantoor, op die rekenaar,” vertel Jaco Pieters van Rumax. “Ons begin deur dit te skets op SolidWorks, ‘n ontwerpprogram wat ons toelaat om elke komponent te ontwerp en aanskou vanuit alle hoeke, ook hoe dit inskakel by ander komponente en dan stuur ons dit na die fabriek.”
Hierdie bloudruk word gebruik om die komponente te vervaardig. Staalplate word gesny en gebuig en alles, van die plate tot die kleinste skroefie, word dan stap vir stap saamgevoeg en vasgesweis of vasgedraai tot die hele masjien aanmekaar is.
Die fabriek was een van die eerstes in die land om van driedimensionele drukkers gebruik te maak om sekere komponente te vervaardig.
Rumax vervaardig ‘n wye verskeidenheid veevoermasjinerie
Rumax is vervaardigers van hamermeulens, verpillers, strooiers, mengers en voeraanlegte. Deesdae is ‘n voeraanleg veral gewild onder Rumax se klante.
Die fabriek is in Worcester, maar produkte kan verskeep word na enige plek in die wêreld.
“Dit is baie belangrik vir ons om ons eie goed te vervaardig,” noem Jaco. “Daarom het ons selfs ‘n gietery met hittebehandelings.”
Hy verduidelik dat dit beter so is, want dit maak hulle nie afhanklik van ander vervaardigers vir onderdele wat hulle moet uitkontrakteer nie. “Uitkontraktering maak jou afhanklik van ander mense se uitdagings met kragonderbrekings en beskikbaarheid van materiaal. Om alles binneshuis te hou gee ons meer beheer oor ons eie proses.”
Rumax spreek hulle eie kraguitdagings deur sonpanele en ‘n kragopwekker aan.
“Ons probeer eintlik onafhanklik van ander mense wees sodat ons betyds elke produk kan lewer,” vertel hy.
- Die lasermasjien sny die patroon – die grondslag van elke produk – uit die staal.
- Voeraanlegte is deesdae in groot aanvraag. Hierdie is die struktuur vir ‘n vervoerband.
Rumax neem ons deur die vervaardigingsproses
“Alles begin by die rekenaar. Tans is alle bestaande produkte reeds geteken en gereed: Ons stuur net die inligting na die masjiene.
“Die laser sal begin deur die nodige komponente uit te sny uit ‘n staalplaat. Van daar af gaan dit na die buigmasjien of roller waar die onderdele gevorm word. Volgende in die ry sal die meganiese komponente na die draaibank of enige ander werkstasie gaan waar die elemente gemaak word. Dit sluit in die sny van ratte met die CNC-masjien, waarna dit deur ‘n hittebehandeling gaan en getoets word vir hardheid.
“Hierna word die masjien aanmekaar gesit en die plate word vasgesweis. As dit ‘n volledige masjien is, word dit geverf in ons kenmerkende blou en geel.”
Jaco sê selfs na die verf is die proses nog nie klaar nie. Dan word die laaste hidroulika en skale bygevoeg waar nodig. Die vervaardigingsproses eindig waar die masjien, hetsy ‘n menger, hamermeul of verpiller, eers getoets word voordat dit gereed is vir plaas toe gaan.
- Verder in die proses word al die komponente wat gesweis moet aanmekaar gesweis
- Alles begin op die rekenaar soos Jaco hier demonstreer.
- Selfs in toonbankdiens blink Rumax uit! Hier is Piet van der Schyff van die onderdele-afdeling besig om ‘n klant blitsig te help met die onderdele wat hy nodig het.
“Rumax fokus daarop om alles te bou wat die boer gebruik in die voerbedryf. Daar is ‘n hele reeks hamermeulens wat alle behoeftes dek. Ons kan almal help, van die boer wat net mielies vir eie gebruik maal tot by groot ronde bale vir voermengsels of die hele aanleg waar jy ruvoer en lusern kan maal, meng en verpil. Ons maak dan ook ‘n vol reeks voermengers en konsentraatmengers wat net fyngoed meng. Dit loop gewoonlik saam met ‘n hamermeul. Dan is daar twee soorte verpillers (een ton en ‘n half ton) vir boere se eie gebruik.
“Verder vervaardig ons ook misstrooiers vir wingerde, bankiesnyers en ander kleiner produkte op aanvraag,” sluit hy af.
Vir meer inligting kontak Jaco op Jaco@rumax.co.za of skakel (+27)82-335-3970 of (+27)23-342-6070




