Só wen die pikswart Drakensbergers dokter van Noord-Wes se hart

363415317_976913916997904_7944864304466531044_n
In die Noord-Wes sorg dr. Johann Fourie daagliks vir sy pasiënte se welstand, maar wanneer hy huis toe gaan is dit ’n kalf van ’n ander kleur. Swart om presies te wees … want hier is hy ’n Drakensberger boer.
Dit is immers die boerdery wat hom van die stad se liggies af weggelok het na die platteland. Met ’n mediese praktyk in Klerksdorp en ’n Drakensberger-stoet so entjie uit die dorp uit, hou Johann al twee balle in die lug.
Die Black Fox stoet
Hy vertel dat sy pa in 1976, Uys beeste gekoop het by CJJ Uys in die Heilbron-distrik, dit was Drakensberger beeste.
“Voor die amptelike erkenning van die Drakensberger as beesras, in 1947, het families die beeste nie formeel as Drakensbergers registreer nie, maar behou as Uys beeste,” verduidelik Johann.
Die Uys-familie was ’n prominente familie in die geskiedenis van die Drakensbergerbeesras.
Johann se familie het met sewe koeie en twee bulle voortgegaan en in 2003 amptelik hulle stoet geregistreer as: Die Black Fox stoet.
“Die naam is verleen uit die swart beeste (Black) en my plaas se naam is Jakkalsfontein, (Fox),” vertel Johann.
Waarom juis Drakensbergers?
Johann vertel dat daar eers Rooi Poenskoppe op die plaas gewei het, daarna was dit ’n kruising met ’n ander ras. Maar die beeste het baie kalf- en temperament probleme opgelewer.
Daardie jare was daar nog plaastelefone en werkers moes na die buurman toe loop, en hoop dat hy by die huis is, sodat hulle sy telefoon kon gebruik om Potchefstroom toe te bel as daar ’n probleem was.
“Dit was ’n ander teler, oom Kooitjie Badenhorst se swart beeste, Drakensbergers, waarna ons elke naweek gaan kyk het. Mediumraam diere, rustige temperament, goeie moeders en beskermend teenoor die kalwers, wat my pa sekerlik laat besluit het om die sinvolle besluit te neem om te verander. Die beste besluit ooit.”
Hoe lyk die ideale Drakensberger?
Volgens Johann is hulle mediumraam diere, met ’n matige temperament, vrugbaar, goeie moeders met konstitusie. Hulle moet veldaangepas wees om by sy boerdery omstandighede in te pas.
“Ek het ook ’n stukkie grond in die Molopo, waar daar ook Drakensbergers loop. Hulle hanteer die hitte baie goed, en daar is geen onderskeid tussen die Drakensbergers en enige ander ras wat hitte hantering aanbetref nie.”
Boerdery en die praktyk
Vir Johann het die boerdery ’n groot invloed op hom en hy vertel dat die persoonlikheid wat in sy beroep geld, kan nie verander nie. Hy poog dan ook om hierdie persoonlikheid in die boerdery te laat geld. Al is dit soms ’n uitdaging.
“Sosiale aktiwiteite oor naweke kan slegs ingepas word indien die boerdery verpligtinge dit toelaat, wat nie ’n probleem is nie.”
As Johann vir ander boere iets oor die mooi ras kan vertel dan sal dit wees dat die Drakensbergerbeeste jou nooit sal teleurstel nie. Ook nie hulle kalwers nie.
Om meer oor hierdie pragtige beesras en die Black Fox stoet te leer, skakel gerus vir Johann by 082 772 7716.