Categories: Artikels, Meganisasie, PlanttoerustingPublished On: 26th November 2021

Só demp grondverdigting produksie

By 4 min read
679 words

Soil-Compaction

Probeer mielies of koring op ՚n pad plant en kyk hoe ver kom jy. Reeds in die gelykenis van die saaier gebruik die Bybel pogings om op ՚n harde pad te plant as voorbeeld van dwaasheid wat net op ՚n volkome misoes kan uitloop.

Maar hoe lyk ons lande? Is party van hulle nie ook maar harde grond met ՚n ondeurdringbare ploegblad nie?

Kunsmatige grondverdigting is ՚n negatiewe verskynsel wat wyd voorkom en erge kommer wek oor die langtermyn-lewensvatbaarheid van landbougrond. Verhoogde gebruik van swaar landbougereedskap, toename in grondbewerking, kort hersteltydperke tussen plantseisoene en intensiewe weiding dra alles by tot grondverdigting.

Die uitwerking van verdigting op grondeienskappe, en veral grondvrugbaarheid, is redelik nadelig. Verdigting verminder die aktiwiteit van die grondlewe, sowel as die deurlaatbaarheid van die grond vir lug en water. Wat omgewingsbewaring betref, veroorsaak grondverdigting onder meer verhoogde gevare van erosie, oppervlakgrondverskuiwings en afloop van plaagdoders en kunsmis na damme, spruite en riviere om uiteindelik grondwater te besoedel.

Plante wil graag snoesige, sagte, maar ferm grond hê waarin hulle hulle wortels gemaklik en behaaglik so ver en so diep as wat hulle wil kan uitskop om water en voedingstowwe op te neem. Verdigte grond beperk wortelindringing sodat die plant honger en dors ly en nie na behore groei nie, en sodat die boer uiteindelik ՚n geringe opbrengs op al sy moeite en koste kry.

Boonop is verdigte grond moeiliker om te bewerk sodat dit werktuie vinniger laat slyt en brandstofverbruik die hoogte laat inskiet.

Spoorverkeer is ‘n goeie manier om grondverdigting in lande te voorkom.

Verkeerde bewerking kan gronddigtheid verander deur die gewenste eienskappe te verminder en die ongewenstes te vermeerder. Daarom bereken die wyse boer baie fyn wat die invloed van sy bewerking op sy grond gaan wees en beplan sy boerdery daarvolgens.

Die duur van grondvoorbereiding word bepaal deur ՚n aantal faktore, insluitende die hoeveelheid grondwater teenwoordig, die geskiktheid van die voorbereidingswerktuig, die korrekte aanwending en gebruik van die voorbereidingswerktuig, die toediening van versoepelingsmiddels, die dreinering van grond indien nodig, en die daaropvolgende bewerkingspraktyke. Wanneer dit by Suid-Afrikaanse omstandighede kom, is hierdie eienskappe deurslaggewend, maar die tipe grond is ook belangrik om in ag te neem.

Een van die besluite wat die boer moet neem, is of grondbewerking hoegenaamd nodig is of nie. Dit is hier waar geenbewerking, minimumbewerking en strookbewerking ter sprake kom. Dit verminder grondverdigting en plaas ook plantreste in die grond terug, wat die grondtekstuur en grondlewe verbeter.

Dit is welbekend dat grondverdigting ՚n beduidende bydraer tot opbrengsverlagings in die landbou is. Wanneer verkeerde bestuursbesluite geneem word, byvoorbeeld wanneer grond onnodig diep bewerk word of wanneer ՚n onstabiele grond diep bewerk word, het dit regstreekse geldelike gevolge, sowel as onregstreekse gevolge, byvoorbeeld lae opbrengste.

Een van die feite van die lewe is: Hoe kleiner die voetspoor, hoe groter die verdigting. Dit geld ook andersom: Hoe groter die voetspoor, hoe minder die grondverdigting. Dit is hoekom boere in Hoopstad se sandlande graag rusperbandtrekkers gebruik — die massiewe voetspoor veroorsaak minder grondverdigting.

Figuur 1: Skematiese voorstelling van die verskillende tipes en posisies van grondverdigting wat in wingerde voorkom.

Maar ons ander boere kan ook gerus op hulle trekkers se banddruk let: Hoe stywer die band gepomp word, hoe kleiner die voetspoor en hoe meer die grondverdigting. ՚n Laer banddruk veroorsaak ՚n groter voetspoor en minder verdigting — volg maar die aanwysings van die trekker- en bandvervaardigers.

՚n Ander manier waarop wyse boere grondverdigting verminder, is om hulle landerye so uit te lê en hulle werktuie so aan te pas, dat daar telkens op dieselfde spore deur die land beweeg word. Die trekkers, planters, spuite en stropers trap dan die spore so vas as wat hulle wil terwyl die res van die land ongeskonde bly.

Stuit grondverdigting en boer op jou hele plaas — nie net die paar sentimeter bogrond nie.

Verwysings:

  1. Ungureanu, N., Vlăduţ, V., & Cujbescu, D. (2019, August 20). Soil compaction under the wheel of a sprayer. Beskikbaar by: https://doi.org/10.1051/e3sconf/201911203027
  2. Ungureanu, N., Vlăduţ, V., & Cujbescu, D. (2019, August 20). Soil compaction under the wheel of a sprayer. Beskikbaar by: https://doi.org/10.1051/e3sconf/201911203027

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0