Smith Power stel die nuwe Kubota L47 bekend by NAMPO Kaap 2025

DSC00543
Smith Power het vanjaar by NAMPO Kaap 2025 ’n opwindende nuwe toevoeging tot hul produkreeks bekendgestel: die Kubota L47 mini TLB. Ná die groot sukses van die L45, wat vir jare een van hul mees gesogte mini TLB’s was en nou volledig uitverkoop is, is die L47 die natuurlike opvolger, met meer krag, beter ergonomie en ’n hele paar slim verbeterings.
“Die L47 is ’n modulêre trekker wat soos ’n landboutrekker aangewend kan word, maar ook ’n volledige TLB is,” sê Dennis van der Merwe, nasionale verkoopsbestuurder vir Kubota by Smith Power Equipment. “Hy het ’n hidrostatiese aandrywing, ’n bak voor en ’n slootgrawer agter, dit is ’n masjien wat regtig alles kan doen.”
Kompak, maar kragtig

Die Kubota L47 is deel van Kubota se L-reeks en is ontwerp vir beide landbou- en konstruksietoepassings. Met ’n 47,1 perdekrag (35 kW) diesel-enjin en ’n HST Plus hidrostatiese ratkas met drie versnellingsreekse, bied die L47 gladde hantering en uitstekende werkverrigting. Die trekker kan tot 22,7 km/h beweeg, wat hom ideaal maak vir verskeie werksituasies.
Voorlaaier en graaf
Die TL1300 voorlaaier kan tot 1 139 mm hoog lig en het ’n indrukwekkende bakbreekkrag van 2 055 kg. Aan die agterkant is die BT1000B graaf, wat tot 3 070 mm diep kan grawe en ’n graafkrag van 2 642 kg het. Verskillende bakgroottes maak dit maklik om die regte gereedskap vir die werk te kies.

Hidrouliese krag en robuuste bou
Met ’n hidrouliese vloei van 95 liter per minuut en ’n druk van 186 bar, is die L47 gebou vir harde werk. Die masjien weeg ongeveer 3 268 kg en het ’n brandstoftenk van 67 liter, wat beteken jy kan lank werk sonder onderbreking.

Gemak vir die bestuurder
Die L47 is nie net sterk nie, maar ook slim ontwerp vir die bestuurder se gemak. Met hidrouliese stuur, nat skyfremme, en ’n vierpaal ROPS/FOPS beskermingstelsel, is veiligheid en gerief voorop. Die ergonomiese uitleg en vinnige siklustye (slegs 3,2 sekondes om tot volle hoogte te lig) maak dit ’n plesier om mee te werk, selfs op lang dae.
Die L47 is geskik vir klein tot middelgrootte plase, boorde en wingerde, grondvoorbereiding, slootgrawe en materiaalhantering, grawe, gelykmaak en vervoer.
As jy op soek is na ’n kompakte maar kragtige TLB wat betroubaar is en gebruikersvriendelik is, is die Kubota L47 ’n uitstekende keuse. Smith Power Equipment se bekendstelling van hierdie model by NAMPO Kaap wys hulle toewyding aan boere en kontrakteurs wat toerusting nodig het wat werk.
Besoek gerus hulle webtuiste by www.smithpower.co.za om jou L47 in die hande te kry.