Categories: Resource managementPublished On: 13th June 2016

Shell vloei deur oom Piet Faure se are

By 4 min read
823 words

shell xx

NAMPO is vanjaar 50 jaar oud en daar is een persoon wat kan sê dat hy amper elke liewe Oesdag bygewoon het. Sy naam is oom Piet Faure en hy was die afgelope 50 jaar betrokke by Shell, eers as werknemer en later as konsultant. Oom Piet kan lekker gesels oor Shell se betrokkenheid by die beginjare van NAMPO, wat eers SAMPI was: “Die eerste jaar het SAMPI hulle skou op Donkerhoek in die Bloemfontein-distrik gehou. Drie van Shell se boere-kliënte was stigterslede van die skou en hulle het ons toe gevra om te kom uitstal. Ons stalletjie en uitstalling het bestaan uit ’n kleinerige tent met ’n halfdosyn blikke olie binne-in en ’n plaastenk met ’n paar Shell-embleme langsaan. Daar was slegs agt uitstal-lers en daar het 321 mense opgedaag. Ons kon dus maklik ons kliënte en die boere met braaivleis en ’n drankie trakteer,” sê hy.

“As jy dink waar NAMPO vandag staan met sy meer as 70 000 besoe-kers, is dit ongelooflik om te dink waar het ons begin en hoe ons betrokkenheid uitgebrei het.” Shell se bydrae het mettertyd van slegs ’n uitstaller na ’n permantente borg gegroei en hulle was die eerste petroleummaatskappy wat as borg genader is.

“Na kollege het ek op 1 Augustus 1951 by Shell in Bloemfontein begin werk. Ek was vir so ’n jaar op kantoor voor ek as verkoopsverteenwoordiger vir die Oos-Vrystaat, Senekal toe geskuif het. Na sewe jaar is ek Kaap toe om in die hoofkantoor te gaan werk. Daarna is ek in Kimberley as distrikbestuurder vir die Noord-Kaap aangestel. Daar het ek weer vir sewe jaar gewerk voor ek terug Bloemfontein toe is, waar ek na 41 jaar by Shell as die streeksverkoopsbestuurder vir die Vrystaat afgetree het.

“Shell het my toe gevra om met ’n spesiale veldtog te help om die landboumark in koöperasies uit te brei. Ek het die hele land platgery. Die projek sou ses maande duur, maar eers na vyf jaar is die kontrak beëindig. My totale diens by Shell het toe op 47 jaar gestaan. Sedertdien het ek weer met spesiale projekte gehelp, soos om by NAMPO te help en om die uitsaaiateljee in die Shell-gebou te beman.”

Shell se huidige baksteengebou is ’n hele ruk gelede op die huidige NAMPO-terrein opgerig. Shell het besluit om ’n aankondigingsdiens vanuit die klein kantoortjie langs die ingangsportaal te lewer. Voordat Graan SA Radio die radiostasie vier jaar gelede oorgeneem het, het oom Piet vanuit die kantoortjie aankondigings vir die NAMPO-gangers gemaak. “Dit was vir my baie spesiaal om te help om die diens te lewer, omdat ek so baie van my vorige kliënte kon sien,” sê hy.

“Daar is advertensies en boodskappe uitgesaai vir verlore motorsleutels en persone. Ons het baie grappies gemaak en snaakse boodskappe uitgesaai. Eendag het ’n man na my gekom en gevra of ek die volgende sou uitsaai: ‘Sê asb vir my vrou ek moes haar ’n sekere tyd hier gekry het en sy hoef nie meer te kom nie, want ek ry nou…’.”

Oom Piet is nou 83 jaar oud en was vanjaar weer op NAMPO om te kom oë wys. Hy is tans die president van die PROBUS-klub (Professional and Business People), ’n internasionale bewe-ging wat bestaan uit afgetrede professionele mense en sakelui. Oom Piet het Nampo as ’n besienswaardige gebeurtenis geïdentifiseer en die klub se lede deur die terrein geneem. Hy is ook nou betrokke by die pensioenarisvereniging vir Shell in Bloemfontein.

“As ek terugkyk, het ek ’n wonderlike loopbaan by Shell gehad. Die petroleum is in my bloed en ek sou nooit iets anders wou doen nie. So lank as wat Shell in Suid-Afrika bestaan, sal hulle seer sekerlik die landbou ondersteun en borge bly. Landbou is ’n groot sektor van Shell se onderneming en ons het altyd probeer terugploeg in die landbou omdat ons baie sake met die landbou doen,” sê hy.

Shell SA het sy toewyding aan landbou gewys met ‘n baie welkome R1 miljoen-skenking vir droogtehulp aan die Droogte-rampfonds wat deur Agri SA ge-stig is. Die skenking gaan spesifiek aangewend word om boere in Namakwaland te help.

Anton Niemann van Shell verduidelik: “Landbou was nog altyd ‘n kerndeel van ons bedryf oor die 113 jaar wat Shell in Suid-Afrika is. Ons is trots daarop om deur al die jare met landbou verbind te word en ons besef hoe belangrik ‘n produktiewe en doel-treffende landbousektor vir die land is. Met hierdie gebaar van hulp wil ons graag ons waardering toon.” 

Kontak gerus jou naaste verspreider vir meer inligting oor Shell se opwindende reeks produkte.

Oom Piet Faure (regs) het nog noue kontak met die Shell-span en was vanjaar weer by NAMPO. Anton Niemann is die hoofbestuurder, Smeermiddels Suid-Afrika, Samantha Oatley is die bemarkingsbestuurder vir Smeermiddels en Réomè van der Westhuizen is die bemarkingsbestuurder vir Brandstof.

Oom Piet Faure (regs) het nog noue kontak met die Shell-span en was vanjaar weer by NAMPO. Anton
Niemann is die hoofbestuurder, Smeermiddels Suid-Afrika, Samantha Oatley is die bemarkingsbestuurder vir Smeermiddels en Réomè van der Westhuizen is die bemarkingsbestuurder vir
Brandstof.

Oom Piet Faure verwonder hom aan die nuwe, vermaaklike tegnologie by Shell se NAMPO-stalletjie. Hier reis hy binne in ’n diesel-enjin rond met behulp van ’n Oculus Rift.

Oom Piet Faure verwonder hom aan die nuwe, vermaaklike tegnologie by Shell se NAMPO-stalletjie. Hier reis hy binne in ’n diesel-enjin rond met behulp van ’n Oculus Rift.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0