Categories: NuusPublished On: 27th February 2025

Sentrum van Uitnemendheid versterk plaagmonitering

By 2 min read
339 words

musk-ram-4343564_1920

Foto: Pixabay

Die stryd teen indringerplae het pas momentum gekry met die bekendstelling van die FruitfFy Africa (FFA) Sentrum van Uitnemendheid vir plaagmonitering. Hierdie baanbreker-inisiatief, deur die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryfsorganisasie Hortgro, is daarop gemik om die bedryf se toekoms te beveilig en produsente ’n mededingende voordeel te gee.

Met die toenemende bedreiging van indringerplae soos die Oosterse vrugtevlieg, stompkopkewer (PSHB) en suzuki-asynvlieg (SWD), poog hierdie nuwe inisiatief om plaag opnames, vroeë opsporing en intervensiestrategieë te versterk. Die sentrum sal die kundigheid en infrastruktuur van FFA benut – wat sedert 2001 ’n belangrike rol speel in die opsporing, monitering en beheer van skadelike plae.

Hortgro se uitvoerende direkteur, Anton Rabe, beklemtoon die belangrikheid van proaktiewe plaagbestuur: “Ons moet verstaan waar plae voorkom en waar nie, aangesien dit direkte implikasies het vir gewasbeskermingstrategieë en -praktyke. As ’n indringerplaag onmiddellik opgespoor word, kan dit dalk uitgeroei word voordat dit vestig, en ons ook kosbare tyd gee om bestuursstrategieë te ontwikkel.”

‘n Gesamentlike poging om Suid-Afrika se vrugtebedryf te beskerm

FruitFly Africa bedryf meer as 6000 plaagmoniteringslokvalle oor die belangrikste sagtevrugteproduksiegebiede. Die Sentrum van Uitnemendheid sal hierdie netwerk uitbrei en fokus op sleutelpeste wat ’n bedreiging vir die appel-, peer- en steenvrugsektore inhou, maar wat moontlik ook bessies, wyn- en tafeldruiwe kan affekteer.

Kernkomponente van die inisiatief sluit in:

•Vroeë waarskuwingstelsels – Versterking van die moniteringsnetwerk om nuwe plaagbedreigings so gou moontlik op te spoor.
•Uitgebreide plaagmonitering – Fokus op hoërisiko-plae soos die stompkopkewer en suzuki-asynvlieg wat reeds in Suid-Afrika opgespoor is.
•Geïntegreerde plaagbestuur – Verbetering van biologiese beheermaatreëls, insluitend die steriele insek-tegniek, waar tot 65 miljoen steriele Mediterreense vrugtevlieë per week gedurende die 2023/24 somerprogram vrygelaat is om plaagbevolkings te verminder.
•Bedryfssamewerking – ’n Gesamentlike benadering om plaagbestuurkundigheid te deel en ’n breër spektrum van die landboubedryf te bevoordeel.

Bogenoemde inisiatiewe sal samewerkend met die Departement van Landbou en ander nasionale en provinsiale pesvoorkomings-inisiatiewe geskied.

Die bekendstelling van hierdie sentrum is ’n stap om die volhoubaarheid en internasionale mededingendheid van Suid-Afrika se sagtevrugtebedryf te verseker, en versterk sy posisie as ’n wêreldleier in innoverende plaagbestuur.

Bron: Hortgro, FruitFly Africa

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0