Categories: Crop production, IrrigationPublished On: 22nd September 2017

Senter360 maak suikerboerdery soet

By 6 min read
1191 words
Senter360

senter 1

Johann Breet en Marius Appel is onderskeidelik HUB en streeksverkoopman van Senter360. Hulle het gehelp dat Cobus Müller en sy pa, Helgard, nou hulle suikerriet deurlopend doeltreffend kan besproei.

Die lewe lyk mooier vir agt suikerrietboere van Noord-Natal wat altesaam 26 Senter360-hoëprofielspilpunte gekoop het. Verlede maand het drie van die boere vertel hoekom hulle na besproeiing oorgeskakel het en hoekom hulle spilpuntkeuse Senter360 was.

Nou kry nog drie boere kans om hulle suksesstories met ons te deel:

Vir Helgard Müller gaan dit oor rand, sent en diens

Helgard Müller het tans nege spilpunte op sy plaas buite Pongola, waarvan die twee nuutstes Senter360’s is, en hy gaan binnekort nog twee oprig om lande van 55 en 35 hektaar te besproei. Hy gaan vanjaar ook kunsmis deur die spilpunte toedien en Senter360 se spilpunte is gereed daarvoor, want die pype is volversink.

“Toe ek ’n paar jaar gelede ’n volgende spilpunt wou oprig, het Willie Vosloo van Aqua Nyoni op die dorp vir my vertel van die spilpuntmaatskappy wat nuut in die streek betrokke raak. Hy het vir my ’n petrolkoepon in die hand gestop en my Klerksdorp toe gestuur om na hulle aanleg te gaan kyk. Ek het vir Theuns Dreyer ontmoet wat my deur die hele fabriek geneem het. Een van my vorige spilpunte wat se versterkingstruktuur wat van hoekyster gemaak is, het omgewaai en ek het in die fabriek gesien dat Senter360 s’n van staalpyp gemaak was, sodat dit baie moeiliker is om om te waai.”

So het Helgard met Senter360 kennis gemaak. “’n Hoëprofiel Senter360-spilpunt se wiele is 6,5 meter uitmekaar, wat ’n hele meter meer is as my vorige spilpunte s’n. Dit maak dat dit nog moeiliker vir die wind is om dit om te waai,” sê hy verder.

Helgard het toe twee Senter360’s opgerig. Elkeen het hom R280 000 minder gekos as hulle eweknie van ’n ander fabrikaat. Twee jaar gelede het hy ’n buurplaas gekoop wat reeds drie ander spilpunte opgehad het. Hy het toe ’n vierde spilpunt, ’n sewetoring Senter360, opgesit en daarmee nog R180 000 bespaar.

Die nuwe KOMET-sproeier wat Senter360 onlangs begin gebruik het en waarmee hulle nou hulle nuwe spilpunte as standaard toerus, het Helgard ook beïndruk. Dit kan onder baie lae druk werk, wat baie goed saam met Helgard se swaartekragwatertoevoer werk. Met verlede jaar se droogte kon hy met die bietjie beskikbare water selfs 5 mm toedien wat minstens sy riet aan die lewe kon hou, sodat hy darem iets kon oes. Elke sproeier het ’n keramiekballetjie aan die onderkant en na toetse van 10 000 uur doen hulle nog steeds hulle werk.

“Uiteindelik gaan dit oor rand en sent en diens. Met Senter360 se spilpunte wat al hoe meer in die streek begin inkom, sal die onderdele vermeerder en die diens net verbeter,” sê Helgard.

Senter360

Helgard Müller se Senter360-hoëprofielspilpunte se torings stap soos soldate in gelid deur sy suikerrietlande, selfs waar dit ongelyk is.

Charl Senekal en sy plaasbestuurders is ewe ingenome met Senter360

Charl Senekal het geen bekendstelling nodig nie. Hy gaan binnekort nog twee Senter360-spilpunte oprig om nog lande van 75 en 69 ha te besproei. Dit is deel van sy 5 000 hektaar onder besproeiing.

Hy het onlangs ’n vergadering met sy bestuurders gehad en gesê hy wil nog ’n paar spilpunte oprig. Hulle keuse was eenstemmig Senter360.

Danie Willemse is een van Charl se plaasbestuurders. “Ek het oor die afgelope twee-en-’n-half jaar nog nie ’n probleem met die Senter360-spilpunte gehad nie. Die ratkaste, motors… alles werk uitstekend. Die werking van die beheerkaste is ook baie eenvoudig en die sproeiers maak maklik skoon.”

Charl sê: “Eerstens hou ek van die konstruksie. Alhoewel die spilpunte so hoog is, is dit baie stewig en die pype gaan hou want dit is volversink. Ek hou van die waarborg en die naverkopediens. Theuns was al drie keer by my op die plaas. Ons kon handskud, ek voel ek is by die regte adres. Daar is baie sinergie tussen my en hom en elke klein probleempie wat ek ondervind het, kon Theuns onmiddellik oplos. Dit is baie belangrik vir my. Hy stuur topgehalte manne na my toe om die spilpunte op te rig. Dit maak dit vir my baie makliker. Diens is vir my uiters belangrik en ek is so beïndruk met die produk dat ek ’n bietjie terughou met die drupbesproeiing.”

Charl sê hy kan homself nie indink dat hy weer ’n ander spilpunt in die volgende tien jaar gaan koop nie.

Charl is nie lief daarvoor om kunsmis deur sy spilpunte te stuur nie, maar as dit regtig nodig is sal hy ’n 6:1:0 deurstuur om aanvullings te doen. Hy sit egter met ’n geruste hart gereeld onkruiddoder deur.

“Ek kan vir jou sê dat ander spilpunte baie sal sukkel om Senter360 se waarde vir geld te klop. Die mense praat met hoë lof van Senter360. In hierdie wêreld is die pad vir hulle geteer. Senter360 is eg Suid-Afrikaans en ’n gehalte produk.”

Senter360

Charl Senekal en sy plaasbestuurder, Danie Willemse, is baie tevrede met die eenvoudige en maklike gebruik van die nuwe Senter360-spilpunte wat hulle drie jaar gelede begin aankoop het.

Senter360

Charl Senekal gebruik nog Senter360 se vorige generasie I-wob-sproeiers, maar dit werk steeds uitstekend vir hulle.

RCL Foods vervang met Senter360

Willem Tempel is RCL Foods se produksiebestuurder en hy sê: “Ons het ’n enorme aantal spilpunte wat deurlopend op ons 14 500 ha vervang moet word. Ons het onlangs prysvergelykings met die ander handelsmerke gedoen.” Hulle was baie beïndruk met Senter360 se pryse en het toe hulle fabriek besoek om te kyk of daar nie ’n kinkel in die kabel is en of dit nie ’n swakker produk is nie. “Ons het ook boere gaan besoek waar Senter360’s al vir vier, vyf en ses jaar lank loop om die besluit te neem.”

RCL Foods het toe oor die afgelope twee jaar ses Senter360-spilpunte gekoop en hulle hou nog baie goed, maar Willem sê die aankoopprys was die groot dryfveer agter die besluit – en boonop dink hy dit is ’n gehalte produk.

“Ons het verlede jaar die spilpunte begin outomatiseer. Oral waar ons die beheerpanele van die spilpunte vervang het, het ons outomatisasie ingespan. Daardie spilpunte skakel dan outomaties aan en af. Ons het ook wisselendespoedaandrywers (VSD’s) in die pompstasies begin installeer met ’n sentrale rekenaar wat die pompe aan- en afskakel, die pompspoed verstel en die afsluitkrane oop- en toemaak,” sê Willem. Die Senter360’s pas soos ’n handskoen in hierdie reuse proses.

RCL Foods het ’n kompostee-aanleg wat suikerrietblare gevoer word om dit vinniger af te breek. Die vloeistof word dan onder meer deur die Senter360-spilpunte gepomp om kunsmis te bespaar en om voordelige bakterieë, protosoë, mikrobes en fungusse weer terug in die grond te sit.

Senter360

Willem Tempel, produksiebestuurder, en Tyronne de Bruin, plaasbestuurder van RCL Foods, is baie tevrede met die Senter360’s wat nou op die suikermeule se plase begin werk het.

Senter360

RCL Foods het ’n kompostee-aanleg gebou om die suikerrietblaarmassas vinniger te laat verrot. Dit bespaar kunsmis en plaas die mikro-organismes weer terug in die grond. Die kompostee word ook deur Senter360 se spilpunte gepomp.

Skakel vir Theuns Dreyer by 082-564-5955 of 018-469-1331 of e-pos theuns.dreyer@senter360.co.za of besoek http://www.senter360.co.za/about-us/contact-us/project-team

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0