Categories: NuusPublished On: 13th August 2024

Sakeliga KragDag Sentraal 2024: ’n Viering van Selfstandigheid en Alternatiewe Oplossings

By 3 min read
675 words

IMG-20240812 (3)

Van 8 tot 10 Augustus 2024 het Sakeliga KragDag Sentraal 2024 plaasgevind op Diamantvallei Landgoed, net 20 km oos van Pretoria. Hierdie jaarlikse ekspo, wat bekend is vir sy klem op alternatiewe energie en selfstandigheid, het weereens besoekers van heinde en verre gelok, met ’n tema wat die kern van self- en gemeenskapsversorging aanspreek: “Daar is ’n Alternatief – Neem self verantwoordelikheid en stel die voorbeeld”.

Die ekspo, wat vanjaar vir die 15e keer aangebied is, het ’n platform gebied vir individue en gemeenskappe om te ontdek hoe om ’n vryheidsleefstyl te omhels in die lig van die groeiende maatskaplike en ekonomiese verval wat in Suid-Afrika waargeneem word. Die ekspo het gewys hoe selfstandigheid en individuele verantwoordelikheid die sleutels is tot ‘n beter toekoms.

Praktiese Oplossings vir ’n Selfstandige Toekoms

Die ekspo het besoekers blootgestel aan ’n verskeidenheid praktiese oplossings wat daarop gemik is om die uitdagings van die moderne lewe te oorkom. Van alternatiewe energiebronne tot waterbesparing en veilige gemeenskappe, KragDag het ’n wye reeks uitstallers en demonstrasies gehad wat die waarde van selfstandigheid onderstreep het.

’n Paar voorbeelde van hierdie oplossings sluit in:

  • Eie kragvoorsiening: In reaksie op die aanhoudende uitdagings van beurtkrag, lasvermindering en prysverhogings het uitstallers verskeie opsies vir alternatiewe kragvoorsiening uitgestal.
  • Waterontginning en -opberging: Besoedelde water en onderbrekings in watervoorsiening kan met selfstandige oplossings aangespreek word, wat by die ekspo uitgestal is.
  • Gesondheidsorg-alternatiewe: Uitstallings het ook gefokus op privaat gesondheidsorg as ’n alternatief vir die staatshospitale.
  • Onderwys: Alternatiewe opvoedingsmetodes, soos privaat- en tuisonderrig, het ’n prominente rol gespeel.
  • Infrastruktuur en Konstruksie: Gemeenskapsgebaseerde instandhouding van infrastruktuur is as ’n oplossing vir die verval van openbare dienste voorgestel, asook verskeie alternatiewe kontruksiemetodes.
  • Veiligheid en sekuriteit: Paraatstraat het gefokus op persoonlike en gemeenskapsveiligheid met uitstallers wat die nuutste in sekuriteitstegnologie en -dienste aangebied.
  • Buitelugkragtoerusting en Vervaardiging: Verskeie uitstallers het gefokus op batteryaangedrewe en brandstofaangedrewe tuin-en-plaas toerusting.

Uitbreiding van die Ekspo en Nuwe Afdelings

Sakeliga KragDag Sentraal het vanjaar ’n noemenswaardige uitbreiding ondergaan, met die ekspo-terrein wat van 6 hektaar na byna 11 hektaar vergroot is. Hierdie uitbreiding het die toevoeging van nuwe afdelings moontlik gemaak. Een van die opwindendste nuwe toevoegings was die Vervoer-afdeling, wat besoekers in staat gestel het om die nuutste tegnologieë in padvragvervoer en alternatiewe vervoeroplossings te verken.

Die Landbou Sub-Ekspo, in samewerking met TLU SA, het vanjaar sy vyfde herdenking gevier met 108 uitstallers wat ’n wye verskeidenheid landbou-innovasies en -oplossings aangebied het. Tuinbou-uitstallers is ook vanjaar saamgevoeg in ’n nuwe afdeling, waar vertikale plantpotte,akwaponika- toerusting, kompos en saailinge gekoop kon word.

Hoogtepunte en Prestasies

Die KragDag-span is baie dankbaar om aan te kondig dat die ekspo aangebied is met ‘n totaal van 660 ondernemings, en 34 200 besoekers oor die drie ekspo-dae.

Besoekers het die geleentheid gehad om ses verskillende programme te besigtig, wat in die Inyati Arena, Lynnridge Timbers Sandput, PretoriaFM Kopskuif Ateljee, Kuierkraal Verhoog, ATTSA Verhoog in die RFA Biertuin en in die Skouring aangebied is.

Die Entrepreneuria Junior Entrepreneurskompetisie, wat deur Capitec, Fergusmor en Solidariteit Helpende Hand geborg is, was ’n hoogtepunt van die ekspo. Jong entrepreneurs het hul vaardighede ten toon gestel en die wenners is as volg vir die Doelgerig afdeling:

  • 1ste Plek: Michelle van Der Vyver (19) met Modular Agri Solutions (Hoenderhokke)
  • 2de Plek: Mariney Grobler (13) met Bobalish (Boba tee)
  • 3de Plek: Andre Smit (17) met Rooibok (Leerprodukte)

Die “Voete Natmaak” afdeling het jonger deelnemers aangespoor om hul eerste treë in die wêreld van entrepreneurskap te gee, met die volgende wenners:

  • 1ste Plek: Johanko en Tanika Fourie (9) met Tuisgemaakte Lemonade Stroop
  • 2de Plek: Taria en Elmary Coetzee (12) met Blommetjie Gedenk Aan My (Blokkie blomme)
  • 3de Plek: Mieke-Marie Fourie (10) met Reënboog Salon

Sakeliga KragDag Sentraal 2024 het weereens bewys waarom dit ’n noodsaaklike platform is vir enigeen wat ernstig is oor selfstandigheid en onafhanklikheid. Met sy uiteenlopende uitstallers, inspirerende tema, en praktiese oplossings, het die ekspo ’n noodsaaklike bymekaarkomplek geword vir dié wat hul lewens wil beheer en hul eie toekoms wil verseker. Die ekspo het nie net oplossings aangebied nie, maar ook hoop gegee aan diegene wat in uitdagende tye op soek is na alternatiewe.

Sakeliga Kragdag Sentraal 2025 vind DV 7-9 Augustus 2025 plaas.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0