Categories: NuusPublished On: 16th April 2018

Sagtevrugte-verenigings verander naam

By 1 min read
236 words

steenvrugte – perskes en appelkose

Die twee grootste sagtevrugte bedryfsverenigings en die hooflede van Hortgro, die Suid-Afrikaanse Appel en Peer Produsente Assosiasie (SAAPPA) en die Suid-Afrikaanse Steenvrugte Produsente Assosiasie (SASPA) sal voortaan as Hortgro Pome en Hortgro Stone bekend staan.

Die oorkoepelende organisasie van die sagtevrugtebedryf, Hortgro, het in ’n verklaring die naamsverandering bekend gemaak en meen dit sal in die toekoms dienste en kommunikasie meer vaartbelyn maak en die bedryf se identiteit en handelsmerk versterk.

Anton Rabe, Hortgro se uitvoerende direkteur, sê dat: “Binne die Hortgro-groep is ons verbind tot deurlopende en pro-aktiewe aanpassing by ’n dinamies-diverse omgewing. Terselfdertyd poog ons om duplisering te verminder en ’n koste-effektiewe diens aan ’n wyd-uiteenlopende reeks belangegroepe te lewer. Derhalwe dan die herstrukturering en belyning van besluitneming- en bedryfsbedieningstrukture om aan hierdie snel-veranderende eise te voldoen.”

Al die verskeie bedryfsrolspelers het ingestem tot hierdie veranderinge. Die twee entiteite sal steeds nie-winsgewende organisasies bly, terwyl die voorsitters van die onderskeie verenigings ook dieselfde bly, naamlik Nicholas Dicey as voorsitter van Hortgro Pome en André Smit as voorsitter van Hortgro Stone. Die aantal direkteure van beide organisasies word egter verminder terwyl gefokusde portefeuljes geskep is.

Hortgro het sy wortels in die Sagtevrugte-raad wat in 1939 gestig is as ’n bedryfsbeheerliggaam. Met die deregulering van landbou in 1997 het dit die sagtevrugteprodusentetrust geword, en nog later Hortgro.

Hortgro is ’n heffings-befondsde bedryfsorganisasie wat hoofsaaklik hulle hooflede steenvrugte- en appel- en peerprodusente sowel as ander tuinbougroepe, bedien.

Bron: Hortgro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0