Sagtevrugte gaan Woordfees toe

us woordfees
As jy gedink het Eva het vir Adam met ‘n appel verlei, of dat Granny Smith jou oumagrootjie se kleinniggie is, wag daar ‘n groot verrassing op jou. Die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf is vol geskiedenis, stories, staaltjies, wetenskap en propvol nuwe smake, en ons is vanjaar vir die heel eerste keer by die Toyota US Woordfees.
Die Sagtevrugtefynproe word op 13 Maart by Die Khaya in Ryneveldstraat, Stellenbosch aangebied, vanaf 12:00 die middag.
Kom hang aan die lippe van sagtevrugtekenners, Buks Nel en Henk Griessel, van Tru-Cape, en Petru du Plessis, steenvrugboer en kenner. En, kom proe kultivars waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Pak jou eie sak vrugte, en stap weg met ‘n resepteboek wat deur bekende chefs saamgestel is.
Griessel en Nel, skrywers van die boek Apples in the Early Days at the Cape, is besige manne met Griessel wat jaarliks pa-staan vir die gehalte van meer as ‘n miljard appels en pere, terwyl Nel onlangs sy tweede boek oor appels geskryf het.
Feesgangers wat die fynproe bywoon sal leer oor die Witte Wijnappel, die eerste appel wat in 1662 aan die Kaap gepluk is en onlangs weer in die Kompanjiestuin, in Kaapstad, herplant is. Die storie kronkel verder na Adam en Eva (wat definitief nie appels gehad het nie), na Kazakstan waar appelbome wild in die berge groei. Du Plessis gaan jou aan vreemdsoortige pruimesoorte laat proe wat jou tone gaan laat krul van plesier.
Sagtevrugtekenners gaan raadgee oor: hoe om jou vrugte optimaal te berg; ‘n wetenskaptruuk met appels word gewys; leer oor ‘n mondspoelmiddel waarmee jy jou vriende kan betower; en ‘n verklaring word gegee oor hoekom jy nie ‘n Granny Smith-appel gaan kry, wanneer jy ‘n Granny Smith saadjie plant nie!
Daarbenewens word daar sagtevrugte geproe, sider gedrink en gesmul aan sagtevrugte lekkernye. Kaartjies vir die 90-minute feesproe is R130 elk van Computicket of R150 by die deur. Let wel, kaartjies is beperk. Vir meer inligting: https://woordfees.co.za
Bron: Hortgro