Categories: NewsPublished On: 29th June 2016

SA maak die deur toe vir Namibiese vee

By 1 min read
237 words

beestelimousin

Die Suid-Afrikaanse regering se nuwe regulasies op die invoer van vee sal die Namibiese veebedryf raak en kan produsente se inkomste verminder.

Die nuwe invoerregulasies vir die uitvoer van beeste, skape en bokke van Namibië, Botswana, Lesotho en Swaziland na Suid-Afrika is daarop gemik om die land se dieregesondheidstatus te beskerm.

Die nuwe regulasies, wat vanaf 1 Julie in werking gestel word, sluit streng dieregesondheidstoetsing in.

Die hoofveeartsenykundige beampte van Namibië, Milton Maseke, sê: “Namibia voer gemiddeld rondom 250 000 speenkalwers en net soveel bokke en vetstertskape na Suid-Afrika uit.”

Die nuwe SA-bepalings sal ekstra toetsing en kwarantyn vir diere vereis wat lei tot minder diere wat geskik sal wees vir uitvoere.

“Deur vorige ervaringe is ons slegs in staat om 10% van diere onder hierdie omstandighede te sertifiseer,” sê die veearts; dit beteken meer diere sal in Namibië bly.  Hierdie sal die druk op skaars hulpbronne soos weiding as gevolg van die droogte en ‘n gebrek aan bemarkingsopsies vir produsente verhoog.

Anja Boshoff van die Namibiese Vleisraad bevestig dat die nuwe regulasies diere-uitvoere na Suid-Afrika sal vertraag en kostes vir produsente om hulle vee uit te voer, sal verhoog.

“Dit sal ekstra inenting beteken en beplanning gaan moeilik wees met dieregesondheidstoetse aangesien ons land nie baie veeartse het nie,” sê sy.

Anja sê daar is nog onderhandelings aan die gang oor die uitvoer van slagvee, maar sy raai produsente aan om voorbereid te wees op die nuwe regulasies.

Bron:  Bizcommunity

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0