Categories: NuusPublished On: 28th March 2022

SA Kaasfees verras met verlaagde kaartjieprys en ekstra dag

By 4 min read
871 words

kaasfees

Die Suid-Afrikaanse Kaasfees het pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat buitelug-venues nou 50% vol mag wees, met vreugde aangehoor en moedig kaas-en-wynliefhebbers aan om dit onmiddellik te begin benut. Fees-entoesiaste sal dadelik baat deur ‘n kaartjie teen ‘n verlaagde prys te koop.

“Die President het ons ‘n rede gegee om fees te vier, so nou kan mense dit aangryp,” sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, die organiseerder van die veelbekroonde SA Kaasfees sedert 2002. “Ons verwelkom die ekstra feesgangers met ope arms en is dankbaar dat ons hierdie besonderse ervaring teen ‘n meer bekostigbare prys kan aanbied.”

EENDERS, MAAR AVONTUURLUSTIG ANDERS

Die SA Kaasfees innoveer vanjaar deur oor twee naweke by twee verskillende bestemmings aan die Weskus en in die Wynland op te wip: Saterdag 23 en Sondag 24 April by Groote Post buite Darling aan die Weskus en Saterdag 30 April, Sondag 1 Mei en Maandag 2 Mei by Sandringham buite Stellenbosch. Kaartjies kos R290 p.p. per dag. Die feestye is van 10:00 tot 18:00 daagliks.

Volgens Ehlers kan hulle die kapasiteit van besoekers nou by Sandringham verhoog en ‘n ekstra feesdag op die Werkersdag-vakansiedag toevoeg: “Ons het die fees oorspronklik beplan met regulasies soos wat dit in plek was, maar pas voortdurend ons aanbod aan om besoekers en uitstallers te akkommodeer.”

Ehlers sê gaste kan dieselfde unieke ervaring van gehalte waarvoor die SA Kaasfees reeds vir twee dekades bekend is, verwag. “Almal ken Sandringham-landgoed as die tuiste van die SA Kaasfees, terwyl Groote Post ‘n spesiale ervaring bied om plattelandse gasvryheid op die ongelooflike Pentz-familie se geskiedkundige 18de eeuse plaas te geniet.”

ONTDEK ‘N FEES VAN OPWIP-ERVARINGS BY DIE SA KAASFEES

Die SA Kaasfees bied ‘n ware waarde vir geld-ervaring – jou toegangskaartjie koop vir jou inderwaarheid ‘n hele fees van opwip-ervarings:

  • ‘Kaas dit en geniet dit’: Die hart van die SA Kaasfees bly die unieke ervaring om die grootste verskeidenheid kase – ou gunstelinge én innoverende nuwes – te kan proe en koop.
  • ‘WineFest, BeerFest, Gin’OClock: Kom ervaar kuier-kuier ‘n uitgesoekte versameling bekroonde wyne, boetiekbier en -jenewer – jou toegangsfooi sluit immers ‘n eksklusiewe steellose SA Kaasfees-glas in.
  • Proe dit eerste: Talle uitstallers benut die SA Kaasfees as ‘n platform om nuwe produkte bekend te stel en die mark te toets – ontdek dit hier vóór dit op die winkelrakke verskyn.
  • ‘Standard Bank Travel & Taste: Kaas trou hier met wyn, bier en elke nuwe gier saam met bekende glans-sjefs en wynkenners. Kom kyk, luister en proe teen geen ekstra koste nie. Elke dag om 13:00 sal sjef Tiaan Langenegger ‘n voorsmakie van sy splinternuwe Tiaan Proe-televisieprogram gee saam met Ladismith Cheese (met sy akteurmaat Neels van Jaarsveld wat ‘n draai aan sy tafel maak op 23 April en 1 Mei). Sjef Isabella Niehaus, wat verlede jaar in Parys ‘n toekenning vir haar kookboek Duinhuis gewen het, bring haar beroemde gerooktesnoek-kaaskoek saam. Kom leer meer oor die pas en proe van wyn saam met kenners van die Chenin Blanc-vereniging, die Groote Post-wynmaker Lukas Wentzel en die jarelange SA Kaasfees-gunsteling, die oorspronlike glans-sjef Jenny Morris.
  • ‘#SupportSmallCheesemakers’: Kom ondersteun entrepreneurs wat ondanks vele uitdagings van heinde en verre kom om hul unieke handgemaakte kase aan kaasliefhebbers bekend te stel, moontlik gemaak in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou.
  • ‘Cape Made: Taste the Alternatives’: ‘n Vars van die plaas-versameling van alternatiewe produkte soos olywe, tapenades, bessies, sampioene en selfs boegoewater en hidroponiese kruie te kies en te keur … met winskopies direk van produsente, danksy ‘n vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou.
  • ‘Boetiek is bobaas’: Ondersteun boetiekvervaardigers terwyl jy nuwe smaakervarings leer waardeer – van koedoe-salami tot gin met heuning, amandel, boegoe, aarbei of chai.
  • ‘Die Ladismith Kaaskerfkompetisie’: ‘n Daaglikse hoogtepunt – skryf gratis by die fees in (plek is beperk). Bewys jou kreatiwiteit, kerf ‘n kaas en wen groot pryse!
  • Die Hollard Band Stand’: Kom geniet jou aankope op die ritme van gewilde kunstenaars – van Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Watershed, Ard Matthews en Kurt Darren, tot die rockgroep Flat Stanley wat vir die eerste keer in jare optree, die nuwe gunsteling Will Linley en vele plaaslike kunstenaars.
  • ‘Die Afgri Feeds Milk Factory’: Besoek die vriendelike koeie by die Melkfabriek en leer meer oor hierdie opregte melkdiere, die begin en die belangrikste deel van die produksielyn in die kuns van kaasmaak. ‘n Bekende en genotvolle ervaring by die jaarlikse SA Kaasfees!
  • ‘Foodies #GoingPlaces’: Kosstalletjies bedien watertanddisse met net nog meer kaas!
  • ‘Wees veilig’: Die SA Kaasfees bevorder die verantwoordelike gebruik van alkohol. Maak gerus gebruik van pendeldienste en taxi’s vir ‘n fees vol gemoedsrus.
  • ‘Maak dit ‘n kuiernaweek’: Sandringham is gerieflik geleë langs die N1, by die Stellenbosch-afdraai (afrit 39), tussen Kaapstad en die Paarl. Groote Post is tussen Darling en Yzerfontein geleë. Kontak www.yzerfonteinaccommodation.co.za of www.visitstellenbosch.org.
  • ‘Wees verantwoordelik’:’n Covid-19-toegangsbeleid van bewys van inenting of ’n negatiewe toetsuitslag sal geld.

KOOP KAARTJIES HIER

Kaartjies is by Webtickets (bit.ly/sacheesefest-popuppicnics) en Pick n Pay te koop. Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie. Slegs ‘n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar.

Die 2022 SA Kaasfees word ondersteun deur platinumvennote, die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Standard Bank, asook ander vennote. Vir meer inligting, besoek www.cheesefestival.co.za, Twitter @SACheeseFest, Facebook @SACheeseFestival of Instagram @sacheesefest, of kontak Agri-Expo by tel 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0