Rumax luister na boere … en maak koningsvoer vir vee

20250515_080724
Jaco Pieters gesels met besoeker by hulle NAMPO 2025 stalletjie.
Rumax maak nou al vir 25 jaar voermaaktoerusting met boere se insette aan die voorpunt van hulle ontwerpe.
Die eienaar van BJP Supplies/Rumax, Jaco Pieters, vertel dat hy 25 jaar gelede die onderneming in sy agterplaas op die been gebring. Hy was by die boeregemeenskap in die Wes-Kaap betrokke en het agtergekom dat daar ‘n behoefte onder boere was vir toerusting wat die voerproses kan vergemaklik.
In 2000 het hy sy eerste voermenger verkoop.
Sedertien het Rumax nog net vooruitgang beleef en vandag vervaardig hulle voermengers, hamermeulens, pilmasjiene, misstrooiers en meganiese snylemme.
Alles word self by hulle fabriek ontwerp en vervaardig, en Jaco vertel dat elke masjien sy basiese konsep het maar dat nie alle boere se behoeftes dieselfde is nie, daarom kan hulle jou masjien aanpas volgens jou behoeftes.
“Die insette van die boere is eintlik maar wat die produk maak. Dit is vir ons belangrik om na die boere te luister, want hulle werk elke dag met hierdie masjiene,” voeg Jaco by.
![]() |
![]() |
![]() |
Voermengers
Rumax vervaardig konsentraat- en volvoermengers in verskeie groottes met verskeie byvoegings.
Hulle konsentraatmengers begin by ‘n halftonmenger en gaan op na ‘n tweetonmenger. Hulle kan op wiele gebou word, met ‘n kragaftakker of elektries aangedrewe.
Omdat die meeste mense oorgaan na sonkrag, bou hulle ook die halftonweergawe van hierdie menger in enkelfase.
Hierdie mengers meng die voer deeglik in net drie minute en die Rumax 15, Rumax 9 en Rumax 7 kan selfs rondebale hanteer met hulle uitstekende sny- en mengvermoëns.
Pilmasjiene en hamermeulens
Rumax bou ook ‘n 4 kW hamermeule as ‘n enkelfasemasjien vir die wat met sonkrag werk.
Hulle ander hamermeulens is stofvry en kom in ‘n 7,5 kW, 11 kW, 22 kW en ‘n 30 Kw, en hulle bou ‘n 11 kW pilmasjien wat om-en-by 500 kg/h kan vervaardig.
Misstrooiers
Met die misstrooier bou hulle ook kleiner weergawes wat vir tafeldruiwe gebruik kan word. Die misstrooier pas onder die kappe van die wingerd in. Daar is ook misstrooiers vir vrugtebome en wingerde.
Om meer te leer oor Rumax se wye reeks produkte, besoek hulle webtuiste by www.rumax.co.za.


