Rooibosteeboere praat nou uit een mond

raad 5
Rooibostee is ՚n produk van die plant Aspalathus lineari en kom net in die Cederberge rondom Clanwilliam voor. (Foto: Rooibosraad)
deur Tisha Steyn
Die eerste amptelike vereniging vir rooibosteeboere is pas gestig. Rooibosteeboere het bymekaargekom by Marcuskraal, sowat 20 km buite Citrusdal.
Die vereniging is verteenwoordigend van die dertien streke waar rooibostee verbou word. Werner Nieuwoudt is as voorsitter aangewys en die ander bestuurslede is JP Theron, die ondervoorsitter, Wian Niewoudt, AJ Marais, Sybrand de Beer, Schalk-Willem Laing, Bertie Grobbelaar, Ian Brand, Gys Dippenaar, HW Liebenberg, Pieter Albertyn en Japie Nel.
Die lede is sorgvuldig gekies sodat nie een van hulle botsende belange kan hê as direkteur of met enige ander betrokkenheid by die verwerkers nie. Slegs sake van belang vir rooibosteeboere sal by vergaderings bespreek word en oplossings gevind word vir hulle unieke probleme.

Helena van Eeden (Agri Wes-Kaap), Wian Nieuwoudt, HW Liebenberg,
Braam Marais en JP Theron. Agter: Louis Wessels (Agri Wes-Kaap),
Pieter Albertyn, Sybrand de Beer, Japie Nel, dr Jan van der Merwe,
Werner Nieuwoudt (voorsitter), Gys Dippenaar, Ian Brandt, Schalk-Willem Laing en Jannie Strydom (Agri Wes-Kaap). (Foto: Adéle Chanquin, Agri Wes-Kaap)
Uitdagings
“Die doel van die vereniging is om as spreekbuis vir rooibosteeboere op te tree en ons saak in die bedryf te stel,” sê Werner Nieuwoudt. Daar is sowat 300 groot boere en heelparty kleinboere. Tot dusver het die boere nie ՚n amptelike liggaam gehad wat hulle gemeenskaplike belange kon aanhoor of namens hulle kon optree nie. Elkeen was maar op homself aangewese. Die vereniging sal die boere se belange ondersteun ter wille van die volhoubaarheid en groei van die bedryf en te midde van vele uitdagings.
Navorsing
Inligting wat aan die boere oorgedra word is skraps en die grootste probleem is die gebrek aan statistiek en geloofwaardige, bewese data. Navorsing is beperk en nie gekoördineerd nie. Hoewel navorsing by verskillende universiteite gedoen word, is die navorsing nie holisties nie, en boere wat weet waaroor die bedryf gaan, word nie daarby betrek nie. “Dit is vir ons ՚n groot kwessie om die volhoubaarheid van ons plantmateriaal en grondgesondheid te verseker, waarby klimaatsverandering ook ՚n groot rol speel.
“Die navorsing, bedryfsinligting en statistiek word nie volledig aan die boere deurgegee nie. Hier en daar gee verwerkers beperkte inligting, maar dit is te gebrekkig om die boere te help om ingeligte besluite te neem. “ Rooibosteeboere het gevolglik beperkte insae in statistiek wat markneigings aantoon.
“Beter koördinering tussen al die rolspelers, van die produsente tot die verwerkers en bemarkers is nodig sodat ons ՚n holistiese strategie kan hê.” Rooibosteeboere moet weet wat die mark verwag sodat hulle beter kan beplan. Tans is die pryse baie wisselvallig. Wanneer die prys hoog is, plant boere meer aan en dan val die pryse. Wanneer die prys laag is, koop verwerkers rooibos aan en berg dit op. Die gebergde rooibostee kom niks oor nie, maar die boere sit dan met ՚n oorskot wat hulle goedkoop van die hand moet sit. Volgens Werner bestaan daar ՚n inligtingsvakuum wat met navorsing gevul moet word. Navorsing oor grondgesondheid, plantgenetika en boerderymetodes soos herlewings- en organiese boerdery is nodig.
“Sertifisering vir organiese asook vohoubare boerdery raak al belangriker in die buiteland en ons het navorsing nodig sodat ons die mark kan laat groei.” Die vereniging wil ook meer inligting aangaande die bedryf bekom sodat hulle met meer gesag daaroor kan praat.
“Met die uitdagings met beurtkrag kon ander bedrywe hulle behoeftes deel, maar die rooibosteebedryf het nie ՚n gemeenskaplike spreekbuis gehad wat ons saak kon aanvoer nie.
“Ons is nie ՚n rebelle-organisasie wat ՚n prysoorlog met verwerkers wil verklaar nie, maar ons moet saam besluite neem en uit een mond praat tot voordeel van ons bedryf. Dit sal ons ook makliker toegang tot kapitaal gee sodat ons ons boerderye kan ontwikkel en uitbrei,” sê Werner.

word. (Foto: Rooibosraad)
Agri Wes-Kaap
Werner is dankbaar vir die hulp wat die Agri Wes-Kaap tot dusver aan die rooibosboere verleen het. Agri WesKaap het gehelp om die vereniging te stig en is aangewys om die sekretariaat van die vereniging te hanteer.
Rooibosraad
“Die vorige Rooibosraad het produksienavorsing gedoen, maar dit het opgedroog,” sê Werner. Die nuwe Rooibosraad, wat navorsing oor die gesondheidsaspekte doen, is op verbruikers gerig en nie op boere nie. Sowat die helfte van die totale produksie word uitgevoer. “Altesaam 8 744 546 kg is volgens ons rekords in 2022 uitgevoer,” sê Marthané Swart van die Rooibosraad.
“Hiervan is 85% na die top tien (van 57) lande uitgevoer. Die meeste daarvan is na Japan, gevolg deur Duitsland, Nederland, Brittanje, die VSA, Poland, Botswana, Sri Lanka, Zambië en Zimbabwe uitgevoer.”

Rooibosraad)
Gebied
Rooibostee is ՚n produk van die plant Aspalathus lineari en kom net in die Cederberge rondom Clanwilliam voor. Die gebied is sowat 200 km noord van Kaapstad in ՚n gebied waar die fynbosbioom, wat deel is van die Kaapse Floristiese Koninkryk, met die winterreënvalgebied oorvleuel. Buiten ՚n klein gebied by Nieuwoudtville in die Noord-Kaap, word die meeste rooibostee in die Wes-Kaap verbou. Die streek bied besondere uitdagings. Rooibos groei slegs in diep sand- en leemgrond in die Sandveld, die Cederbergreeks, Gifberg en die Suid-Bokkeveld. Die hartland van die bedryf is die onherbergsame berg agtige gebiede weerskante van die Olifantsriviervallei en hange en valleie van die Cederberge, waar dit bloedig warm in die somer en bitter koud in die winter word.

grond en Mediterreense klimaat met temperature van tussen 0 °C en 45 °C
ideaal vir die verbouing daarvan is. (Foto: Werner Nieuwoudt )
Verwerking
Meer as 20 000 ton rooibos word jaarliks in die streek produseer waarvan sowat die helfte na meer as 60 lande wêreldwyd uitgevoer word. Duitsland, Nederland, Japan, die Verenigde Koninkryk en die VSA is die grootste invoerders. Rooibos is inheems en groei slegs in die gebied waar die growwe, sanderige grond en Mediterreense klimaat met temperature van tussen 0 °C en 45 °C ideaal vir die verbouing daarvan is. Die plant is aangepas by arm grond met min voedingstowwe. Aanplantings het min bewerking nodig en hoef nie besproei te word nie. Net sowel, want die gemiddelde reënval in die streek is tussen 150 en 300 mm per jaar. Die Nieuwoudtvillegebied asook die Swartland is tradisioneel hoër reënvalgebiede.
Rooibossaad word in Februarie en Maart in kwekerye ontkiem. Van Junie tot Augustus word saailinge in die landerye uitgeplant. Dit duur sowat 18 maande voor die plante vir die eerste keer geoes kan word. Rooibos word jaarliks vir sowat vier, vyf jaar lank geoes, waarna die landerye twee jaar lank met ander gewasse soos hawer, korog, lupiene, en dies meer beplant word as dekgewasse. In die tydperk kry die landerye kans om te rus en te herstel, terwyl die wisselbougewasse die grond van noodsaaklike voedingstowwe voorsien.
Vir meer inligting, kontak Werner Nieuwoudt by 082-451-4850 of werner.nieuwoudt@belinzona.co.za
Verwysing: Rooibosraad https://sarooibos.co.za/
Vars die boer af