Rooibosboere beskerm belangrike biodiversiteit

sederboom rooibos
Klimaatsverandering en die verlies aan biodiversiteit is wêreldwyd ՚n groot kopseer, maar in die Cederberge staan rooibosboere saam om hulle kosbare stukkie aarde te herstel en te bewaar. Rooibosboere en die bewaringsinstansies CapeNature, Cape Leopard Trust en Sustainable Ceder snoer kragte saam om die ikoniese rooibos, die luiperd en die Clanwilliamsederboom vir die nageslag te bewaar.
Volgens die Suid-Afrikaanse Rooibosteeraad het die land tussen 1990 en 2018 jaarliks sowat 0,12% van die natuurlike plantegroei verloor; tussen 2014 en 2018 was die verliese dubbel soveel en die verliese hou ՚n ernstige bedreiging vir ons biodiversiteit in.
Volgens Mathane Swart van die Rooibosteeraad bewys die Rooibosbedryf dat volhoubare landboupraktyke bedreigde spesies kan beskerm, natuurlike habitat kan herstel en dat samewerking tussen rooibosboere en bewaringsinstansies kan bydra om die verlies aan biodiversiteit te stuit. Volgens Marthane dra rooibosboere aktief by tot bewaring. “Baie rooibosboere neem stappe om die unieke biodiversiteit van die Cederberge te herstel en te bewaar. Dit sluit die herstel van habitatte, die bewaring van inheemse plantspesies en die beskerming van bedreigde wildlewe soos die luiperd in. Ons boere bewys dat volhoubare landbou en natuurbewaring hand aan hand kan werk.”
Luiperds en sederbome
Luiperds wat in die Wes-Kaapse berge voorkom se habitat word toenemend bedreig deur die mens se aktiwiteite soos die ontwikkeling van landbou en menslike nedersettings. Hoewel die luiperd se oorlewing steeds in die weegskaal is, dra rooibosboere in samewerking met Cape Leopard Trust, by tot hulle bewaring. Op sommige plase is grond vir bewaring opsygesit waar wildlewe onverstoord kan voortbestaan.
Sustainable Cedar is ՚n instansie wat toegespits is op die bewaring van die Clanwilliamseder (Widdringtonia cedarbergensis), wat feitlik totaal uitgewis is. Rooibosboere werk nou saam met rehabilitasieprojekte om die streek se unieke fynbosstelsel, wat die bome insluit, te herstel. Dawie Burger, besturende direkteur van Sustainable Cedar, glo die rooibosbedryf kan ՚n beduidende rol in die rehabilitasie van dié krities bedreigde boom speel.
“Dit is noodsaaklik vir die bewaring van die gebied se unieke biodiversiteit dat die seder moet herleef. Baie rooibosboere dra by tot die bewaringsaksie, maar nog meer mense moet betrokke raak. Groter samewerking sal nie net die omgewing se volhoubaarheid versterk nie, maar ook bydra tot die opheffing van die gemeenskap én bewys dat landbou en bewaring kan saamwerk.”
Monique Ruthenberg, CapeNature se bewaringsbestuurder vir die Cederberg-kompleks, sê samewerking tussen CapeNature en Sustainable Cedar, die plaaslike gemeenskap en rooibosboere, lewer ՚n groot bydra tot die herstel van die ikoniese boom.
“Ons gesamentlike poging sluit die skep van kwekerye, die kweek van saailinge en die plant van duisende seders in. Ons doen ook bewusmaking van veldbrande en skep in die proses talle werkgeleenthede.”
Volhoubare landbou
Baie rooibosboere volg volhoubare landboumetodes soos wisselbou, organiese boerdery en beperkte gebruik van chemiese middels, sinvolle benutting van skaars waterbronne en bevordering van grondgesondheid. Volgens haar ervaar boere wat volhoubare landboupraktyke toepas langtermyn voordele vir hulle oeste en vir die omgewing. “Deur biodiversiteitskorridors en vermyding van monokultuurpraktyke help hulle die delikate balans van die ekostelsel bewaar.”
Deur betrokkenheid by internasionale inisiatiewe soos die Union for Ethical Biotrade (UEBT) and Rainforest Alliance, bevestig die rooibosbedryf sy toewyding tot volhoubaarheid. Rooibosboere wat deelneem aan hierdie programme doen tans rehabilitasie op 500 ha grond. Dit sluit die Groter Cederberg Biodiversiteitskorridor in wat behels dat 70 406 ha onder rentmeesterooreenkomste deur CapeNature bestuur word. Nog 282 953 ha vorm vrywillig deel van biodiversiteit- en sakesprojekte in die rooibos- en ander landboubedrywe. Betrokkenheid by hierdie inisiatiewe dra daartoe by dat landbou nie ten koste van biodiversiteit uitbrei nie.
Ekotoerisme
Die Rooibos Erfenisroete is geskep met die doel om die gebied se unieke biodiversiteit en kulturele betekenis ten toon te stel, wat verder tot bewaring bydra. Die roete loop deur die hart van die rooibosbedryf en bied insigte in volhoubare landboupraktyke, plekke van kulturele belang en die natuurlike wonders van die Cederberge.
Ekotoerisme dra by tot bewusmaking van die erns van bewaring en verskaf vir die boere ՚n ekstra inkomste. Die rooibosbedryf se bewaringspogings is in ooreenstemming met die Kunming-Montrel Global Biodiversity Framework (GBF), ՚n internasionale ooreenkoms wat ten doel het om die verlies aan biodiversiteit teen 2030 te stuit en om te keer. Volgens Marthane bring die rooibosbedryf sy kant. “Deur habitatrestourasie, volhoubare landbou en samewerking met bewaringsvennote dra ons boere direk daartoe by dat die 2030-doelwitte behaal word.
“Die volgehoue uitbreiding van bewaringsgebiede, volhoubare landbou-inisiatiewe en ekotoerismeprojekte word nie net die omgewing beskerm nie, maar ook die voortbestaan van rooibosboerdery verseker.”
Kontak Brigitte Taim by (+27)82-410-8960 brigittet@meropa.co.za vir meer inligting.