Categories: ArtikelsPublished On: 8th August 2024

Raakvatter-vroueboer deel haar storie: Die wonder van groei uit jou swaarkry

By 6 min read
1278 words

IMG_4486

Tannie Baps van Jaarsveld is op haar gelukkigste tussen haar mooi rooi beeste.

‘n Baie formidabele en inspirerende vroueboer, tannie Baps van Jaarsveld boer op die plaas Rusfontein, tussen Balfour en Villiers. Oor die jare kom daar baie mense oor jou pad, en sommige mense het die gawe om ‘n merkwaardige merk in jou lewe te los. Tannie Baps is beslis een van hulle. Van boerdery, boervrou en vrou wees kan Tannie Baps jou baie leer.

Tannie Baps bly al vir 48 jaar op die plaas en vertel dat sy 90% van haar tyd uitleef tussen haar beeste en dit waarvan sy hou van om te doen.

“‘n Mens moet gemaak wees vir die plaas! Jy moet baie lief wees vir ‘n plaas. Jy moet uithou deur goeie en slegte jare,” sê sy.

 Tannie Baps vertel dat sy eintlik ‘n onderwyseres was en nadat haar man ‘n skielike beroerte gekry het toe hulle so twaalf jaar getroud was, was sy genoodsaak om hand op die plaas by te sit. Sy vertel: “Ek het baie meer betrokke geraak by die boerdery. Ek het toe alles van boerdery geleer. Ek het uitgebrei op dit wat hy my geleer het en ons het die boerdery saam uitgebrei. Dit was baie goeie jare.”

Tannie Baps en haar man het sewentien jaar saam geboer en na sy afsterwe het sy die moed en wilskrag gehad om die boerdery oor te neem en steeds voort te gaan daarmee. “Die Van Jaarsveld-familie is al vir vyf geslagte hier op die plaas en hier is baie geskiedenis in die omgewing en mooi herinneringe op die plaas. My seun, Louis Pieter, het mettertyd ook betrokke geraak by die boerdery en help my vandag met die saaiery,” voeg sy by.

‘n Liefde vir die plaas en vir haar beeste

Sy vertel: “Ek is baie gelukkig op die plaas. Ek is baie lief vir die plaas en vir dit wat ek doen. Dit is vir my so belangrik dat ek elke dag by my beeste op die plaas uitkom. Die boerdery het vir my ‘n geweldige uitdaging geword, omdat dit so verander het. Jy kan nie meer net sê dit is vir jou lekker en jy geniet dit nie. Dit moet nou ‘n saak wees waar jy ‘n lewe uit boerdery kan verdien.”

Tannie Baps vertel toe hulle destyds hulle melkery gestaak het, het hulle daardie beeste as veldbeeste aangehou en sy het oor die jare die beesboerdery aangepas na ‘n meer Bonsmara-tipe boerdery.

“Die meeste van my beeste lyk na Bonsmaras. Ek hou van die rooi tipe beeste. Ons gebruik soms Bovelder-bulle ook, maar dit is uiteindelik vir ons belangrik om ‘n sterk bees met sterk kloue te teel om hier in die berge goed te kan funksioneer en aanpas.

“En natuurlik moet dit tog lekker wees om na ‘n mooi bees te kyk. Hulle moet altyd mooi en vet wees. Hulle moet altyd tevrede lyk. ” voeg sy laggend by.

Kynoch se betrokkenheid die afgelope 40 jaar

Vir die beeste om mooi rond en gesond te wees, is dit ook noodsaaklik dat hulle voldoende voedingstowwe inneem. Kynoch se kunsmis wat op die weiding uitgestrooi word, verbeter die gehalte van voedingstowwe in die gras wat die beeste benut en dra by dat tannie Baps se mooi rooi beeste iets vir die oog is.

Tannie Baps vertel: “Die vennootskappe en verhoudings wat ek oor die jare gebou het met mense in die bedryf, rolspelers en verskaffers, het ook ‘n merkwaardige bydrae in ons boerdery gemaak. In die 48 jaar het ons van drie verskillende kunsmismaatskappye gebruik gemaak. Die eerste maatskappy het tot niet gegaan en met die tweede maatskapppy het ons nie so goed klaargekom nie. Daarna is ons bekendgestel aan Kynoch en sedertdien is dit al wat ons gebruik en ken.

“Vir my en vir my seun wat betrokke is by die saaiboerdery is dit lekker om te weet wat jy kry, om te weet waarmee jy te doen het, en die ondersteuning wat ons van ons Kynoch-agent kry help ons om ons boerdery vorentoe te vat. Kynoch help ons nie net met die voorsiening van kunsmis op ons gesaaides nie, maar ook met die kunsmis wat ons oor ons veld strooi vir weiding vir die beeste en boonop kan my beeste ook heerlik wei en smul aan die reste na ‘n suksesvolle oes.

“Hoewel dit maar tog op die ou einde ‘n wedersydse verhouding is, is dit belangrik dat ons ook uitreik na ons agent wanneer ons hulle raad en ondersteuning nodig het.”

Tannie Baps se beeste is haar trots.

Dryfkrag agter alles

Tannie Baps vertel: “Soms voel dit jy is nie sterk genoeg nie; daar is met tye gesondheidsprobleme wat dit vir ‘n mens uitdagend maak, maar dit is elke oggend vir my so ‘n groot genade om te kan opstaan; om te kan sien hoe mooi dit in die omgewing is, en dat die Here my uitgekies het om hierdie plek waar ons bly vir ons nageslag op te bou en te behou, te kan liefhê, en te kan waardeer.

“Een van die grootste lesse wat ek oor die jare uit boerdery kon leer is daar is baie goeie jare, en daar is baie swaar jare, maar ek leer altyd ons het genoeg. Ons het genoeg om te kan eet. Ons het genoeg om vir ander te kan uitdeel; om ander te help. Ons self het nog nooit swaargekry in die sin dat ons nie iets gehad het om te kan vooruitgaan nie.”

Hoogtepunte

 Tannie Baps vertel: “Deur my lewe was ek werklik geseën met gawes en dinge wat oor my pad gekom het. Een van my grootste hoogtepunte was beslis om hier op die plaas op te kon eindig, om so ‘n ver pad te loop en steeds hier en betrokke te kan wees. Ek het nooit gedink dat ek op die plaas sou beland en dat dit my hele lewe sou word nie, maar ek is so dankbaar vir die geleentheid. Dit is werklik ‘n present wat ek gekry het. Die lekkerste van die plaas is dat alles wat versorg word mooi is, en ek is trots daarop. Ek het my deel gedoen en dit was goed.”

Vroue in landbou

Tannie Baps meen dat vroue op plase moet meer betrokke raak by die gemeenskap. “Vroue kan net so ‘n groot rol en impak in die landbougemeenskappe hê soos die mans. Ek dink ons as vroue doen nog te min. Vroue kan op soveel plekke in die landboubedryf ‘n groter impak hê, selfs met die bestuur van brandbestryding, organisasies, besparingsprojekte ensovoorts,” sê sy.

“Baie vroue in die landboubedryf dink hulle is maar net op die plaas, maar ek glo dit is van uiterse belang om deel te word van die plaas. Word deel van die besluitneming op die plaas, nie net dit waarin jy belangstel nie. Klim in die bakkie en ry saam. Klim in die stroper en stroop saam. Dit is om saam opgewonde te wees oor ‘n goeie oes en om saam op jou knieë te gaan in tye wanneer dit sleg gaan. En net so belangrik is dit om ons kinders op die plase op te voed dat hulle ook hulle deel moet bydra op die plaas en ook betrokke gemaak word op die plaas.

“Daar is nie elke jaar ‘n goeie oes nie; daar moet vir swaarder jare begroot word. Vroue moet by die finansiële sy van ‘n plaas betrokke wees om te sien hoe swaar kry die mansboere. Daar is regtig ‘n wonderlike toekoms vir vroue in die boerdery en landboubedryf. Dit is maklik om te kan doen wat jy wil doen, as jy wil,” sluit sy af.

Kynoch vier merkwaardige vroue in die landboubedryf en wens alle vroue ‘n gelukkige vrouedag- en maand toe.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0