Up George Bonsmaras behaal R183 733 gemiddeld met R2 miljoen-topbul as hoogtepunt

WhatsApp Image 2026-07-06 at 12.45.18
Lot 12, LAR 22-403, die topbul van Up George Bonsmaras se 28ste Produksieveiling, is vir R2 miljoen verkoop aan André van der Heyde van Boschoek Bonsmaras en Francois Bornman van Ons Tuiste Bonsmaras.
Wanneer die beesbedryf oor topgehalte Bonsmara-genetika praat, is Up George Bonsmaras ‘n naam wat telkens met respek genoem word. Die jaarlikse Up George Bonsmara-produksieveiling op Wasbank, KwaZulu-Natal, het oor byna drie dekades ontwikkel tot een van die mees gesogte Bonsmara-veilings in Suid-Afrika en volgens baie telers selfs wêreldwyd. Weereens het die 28ste produksieveiling bewys waarom kopers jaar ná jaar bereid is om toppryse vir hierdie genetika te betaal.
Derek en Tutu Ralfe het op 3 Julie 2026 weer ‘n indrukwekkende groep Bonsmara-diere aangebied wat kopers van regoor die land na Wasbank gelok het. Die veilingskrale en pawiljoene was stampvol, terwyl aanlyn deelname deur SwiftVEE ewe sterk was, met meer as 90 geregistreerde aanlyn bieërs wat vir die gesogte genetika meegeding het. Die veiling is deur AAM aangebied en die afslaer was Brandon Leer.

Die kopersbanke was van vroeg af stampvol.
Die gehalte van die aanbod is weerspieël in die uitslae. Altesaam 75 bulle is teen ‘n uitstekende gemiddelde prys van R183 733 verkoop.

Die hoogtepunt van die dag was Lot 12, LAR 22-403, wat vir R2 miljoen verkoop is aan André van der Heyde van Boschoek Bonsmaras en Francois Bornman van Ons Tuiste Bonsmaras. Kyk die video hier.

Nog ‘n hoogtepunt was Lot 8, LAR 21-400, wat vir R1,3 miljoen aan Sebadja Bonsmaras verkoop is, nóg ‘n bewys van die geweldige aanvraag na Up George se genetika. Kyk die video hier.
Die vroulike diere het ook uitstekende belangstelling geniet. 49 Stoet vroulike diere is verkoop, met koeie en kalwers wat gemiddeld R81 000 behaal het, terwyl dragtige verse teen ‘n gemiddelde van R43 974 verkoop is.

Die duurste vroulike lot van die dag was Lot 81, LAR 23-296, wat vir R240 000 aan Genetic Link verkoop is.
Die gemiddelde van die dag was as volg:

Vir die Ralfe-familie gaan hierdie dag egter oor veel meer as net rekords en pryse. Dit gaan oor jare se toegewyde seleksie, volhoubare teeldoelwitte en ‘n passie om Bonsmara-genetika te ontwikkel wat werklik waarde vir stoet- en kommersiële boere toevoeg. Die vertroue wat kopers jaar ná jaar in Up George Bonsmaras stel, spreek vanself.
Die Ralfe-familie het hul opregte waardering uitgespreek teenoor elke koper wat hulle tydens die 28ste produksieveiling ondersteun het. Hulle sien daarna uit om die prestasie van hul genetika in nuwe kuddes te volg en om die impak daarvan op Bonsmara-boere regoor Suid-Afrika te beleef.
Met uitsonderlike gemiddeldes, miljoenrand-bulle en kopers wat van oral saamtrek, het Up George Bonsmaras weer eens bewys waarom hierdie veiling een van die absolute hoogtepunte op die Bonsmara-kalender is en waarom die naam Up George sinoniem bly met uitnemendheid in Bonsmara-genetika.