R1,1 miljoen bul bekroon uitsonderlike Nasionale Beefmaster-veiling

737467723_2920723424941278_1631423497380817473_n
Lot 17 van Janmarck Beefmasters was die ster van die 2026 Nasionale Beefmaster-veiling toe hy vir 'n indrukwekkende R1,1 miljoen aan Just Beef van KwaZulu-Natal verkoop is.
Die Nasionale Beefmaster-veiling, wat op 2 Julie 2026 by die Afridome in Parys aangebied is, het die ras se gewildheid en die vertroue van kopers opnuut bevestig. Met ‘n 100%-verkoopsyfer op al die diere wat aangebied is, was die veiling ‘n besondere hoogtepunt op die Beefmaster-kalender.

Die grootste belangstelling van die dag was op Lot 17, ‘n uitsonderlike bul van Janmarck Beefmasters, wat vir ‘n indrukwekkende R1,1 miljoen verkoop is. Die bul is aangekoop deur Just Beef van KwaZulu-Natal en was die duurste dier van die veiling.
Nog ‘n hoogtepunt was Lot 14 van Wilru Campher van Loumotta Beefmasters, wat vir R325 000 aan PSB Beefmasters verkoop is. Wilru Campher se bulle het ‘n uitstekende gemiddelde prys van R202 058 behaal, wat die gehalte en aanvraag na sy genetika weerspieël.
By die vroulike diere het Janmarck Beefmasters ook die duurste dragtige vers van die dag gelewer, wat verkoop is vir R220 000. Die duurste 3-in-1-koei met kalf is deur BosBlanco Beefmasters aangebied en vir R230 000 verkoop.
Die uitstekende veilingsuitslae is des te meer merkwaardig in die lig van die uitdagende ekonomiese en landbou-omstandighede waarin produsente tans boer. Die sterk belangstelling en mededinging tussen kopers het weereens bevestig dat gehalte Beefmaster-genetika steeds hoog aangeslaan word.
Uitslae was as volg:

Die veiling is deur Vleissentraal aangebied, wat hul waardering uitgespreek het teenoor Beefmaster SA vir die geleentheid om die nasionale veiling aan te bied. Dank is ook uitgespreek aan die kopers, Meerkat, Afridome, Magda en die volledige Vleissentraal-span vir hul bydrae tot die sukses van die dag.
Met uitstekende pryse, ‘n 100%-verkoopsyfer en ‘n nuwe miljoen-rand-bul as hoogtepunt, sal die 2026 Nasionale Beefmaster-veiling onthou word as ‘n bewys van die ras se volgehoue waarde en die vertroue wat veeboere in Beefmaster-genetika plaas.