Produksieveiling van net die beste: Mertoun en Thaba Kwena dormers geteel uit van die beste bloedlyne in die land

DSC_0896
In die hartjie van die Drakensberge, in Rhodes in die Oos Kaap, in die Suidelike Drakensberge teen die Lesotho-grens, het Mertoun Dormers ongeveer agttien jaar gelede sy ontstaan gehad.
Hierdie dormers oorleef en floreer teen steil hellings, uiters strawwe winters in die berge tot 2 500 meter bo seevlak.
Gerrit Henning, eienaar van Mertoun Dormers, vertel: “Deur die jare het die natuur ons geleer om diere te teel wat aanpas by ons omgewing, op die veld.”

Gerrit brei ook meer uit oor Mertoun Dormers se teelbeleid:
Eksperimenteer en behou die beste: Oor die jare heen het ons met verskeie bloedlyne en bekende genetika geëksperimenteer en die beste behou.
Seleksie van ramme: Selekteer ramme volgens rasstandaard met ‘n bogemiddelde groei en skrotumomtrek.
Die gebruik van jong ramme: Gebruik jong ramme op ‘n vroeë ouderdom op klein groepies ooie om moontlike kuddevaars en ramme vir veilings te identifiseer.
Ooie op die veld: Ons ooie moet die veld optimaal kan benut – ons fokus op korrekte voedingaanvullings, veral tydens die eerste 90 tot 100 dae van dragtigheid (embrioniese en fetale fase), omdat dit die primêre tydperk van plasenta-ontwikkeling en meeste ander fetale ontwikkelings is. Plasentagrootte het die grootste invloed op die geboortegewig van lammers wanneer ooie volgens behoefte gevoer word, en nie oorvoer word nie! Ons fokus ook daarop om ooie volgens hierdie byvoedingsprogram aan te bied op veilings.
Grootmaak van ooilammers: Die grootmaak van ooilammers is uiters noodsaaklik soos geadviseer deur dr Jasper Coetzee (lees meer hier). Ons karring nie aan ons beleid ten opsigte van die grootmaak van ooilammers op die veld nie. Ons glo om ons ooie, wat ons fabriek is, met teling te verbeter en nie met voer nie.
“Ons ooie is absoluut ons trots,” meen Gerrit.
Thaba Kwena Dormers

Thaba Kwena Dormerstoet is geleë in die hartjie van die Waterberge in Limpopo. Thaba Kwena Dormers is deel van Thaba Kwena Boerdery wat bestaan uit ’n bonsmarastoet en krokodilboerdery.
Thaba Kwena Dormers se nommer een teeldoelwit is vrugbaarheid en daarmee saam loop die ander teelwaardes, want hulle moet die beste genetika moontlik in die stoet genereer.
Henk Pretorius, eienaar van Thaba Kwena Dormers, vertel: “Met die fokus op streng seleksie volgens hoë-produserende, vrugbare diere wat insluit meerlinge, goeie moederseienskappe, goeie melkproduksie en genetiese teelwaardes, is dit ons strewe om ons stoet fyn te bestuur volgens die rasstandaarde.”
Henk vertel verder dat die uitdagings van hartwater van die kernstoet oorbrug is, en vandag floreer die nuwe nageslag in ‘n hartwateromgewing.
Thaba Kwena spog met voerkraallammers met ‘n ongelooflike gemiddelde daaglikse toename (GDT). Thaba Kwena Dormers doen prestasietoetse baie akkuraat en veral speen- en na-speeninligting speel ‘n baie belangrike rol by seleksie. “Om ‘n swaar speenlam sowel as ‘n speenlam wat goeie groei in ‘n voerkraal toon te teel, is ons doelwit,” vertel Henk. Net die beste is goed genoeg! Die dormer wat streng geneties geselekteer word vir groei het nie sy gelyke in die voerkraal nie.
Gerrit sluit af: “Ons is trots om te kan sê dat Mertoun Dormers oor agttien jaar van die beste bloedlyne en genetika in ons stoet gebruik, en nooi alle skaapboere en dormertelers uit na ons jaarlikse produksieveiling saam met Thaba Kwena Dormers wat op 9 Maart by Be Human, Bloemfontein, gehou sal word. Moenie die geleentheid misloop om van die beste dormergenetika te bekom nie.”
Mertoun en Thaba Kwena Dormers is passievol en opgewonde oor die toekoms van die dormer hetsy vir die stoetbedryf, kommersieel of kruisteling, en is toegewyd daartoe om nie iets aan ons medeboer aan te bied waarmee ons nie self sal boer nie.
