Produksieskatting vir somergewasse: Geskatte mielie-oes 19,32% kleiner

corn-field-440338_1920
Foto: Pixabay
Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 13,256 miljoen ton gestel, wat 7,69% of 1,104 miljoen ton minder is as die vorige skatting van 14,359 miljoen ton. Die verwagte opbrengs van mielies is 5,03 t/ha. Die geskatte mielie-oes is 19,32% of 3,174 miljoen ton minder as die 2023-oes.
Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes provinsies, gaan na verwagting 79% van die 2024-oes produseer.
Die produksieskatting van witmielies is 6,277 miljoen ton, wat 10,85% of 763 900 ton minder is as die 7,040 miljoen ton van die vorige skatting. Die hersiene oppervlakteskatting vir witmielies is 1,555 miljoen ha en die verwagte opbrengs is 4,04 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 6,979 miljoen ton, wat 4,64% of 339 650 ton minder is as die 7,318 miljoen ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir geelmielies is 1,082 miljoen ha en die opbrengs is 6,45 t/ha.
Neem kennis dat inligting van die objektiewe opbrengs-opname van die Konsortium vir die Mpumalanga provinsie, in April 2024 gerapporteer word en vir die Vrystaat en Noordwes provinsies in Mei 2024. Die huidige opbrengs syfers is hoofsaaklik verkry vanaf produsente in die verskillende provinsies.
Ander somergewasse:
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 589 000 ton, wat 12,23% of 82 100 ton minder is as die vorige skatting van 671 100 ton. Die hersiene oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 529 000 ha (vanaf 559 500 ha die vorige maand se skatting), terwyl die verwagte opbrengs 1,11 t/ha is.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is verminder met 15,22% of 325 690 ton na 1,814 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is hersien na 1,151 milj. ha (vanaf 1,122 miljoen ha die vorige maand se skatting), met ‘n verwagte opbrengs van 1,58 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes is op 57 610 ton gestel, wat 10,54% of 6 785 ton minder is as die vorige skatting van 64 395 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 41 200 ha, terwyl the verwagte opbrengs 1,40 t/ha is. Die produksieskatting van sorghum is 89 630 ton, wat 19,09% of 21 150 ton minder is as die 110 780 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 42 100 ha, en die verwagte opbrengs is 2,13 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting 54 120 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 39 550 ha, en die verwagte opbrengs is 1,37 t/ha.
Neem asseblief kennis dat die derde produksieskatting vir somergewasse vir 2024, op 25 April 2024 vrygestel sal word. Die voornemens om wintergewasse te plant vir 2024 sal ook op 25 April 2024 vrygestel word.
Bron: Oesskattingskomitee