Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 23rd June 2026

ProAgri SA 316

By 2 min read
385 words

Pioneer_SA316_Front Cover

Daar is sekere dae op die landboukalender wat net anders voel … dae wat jou herinner hoekom jy doen wat jy doen. Die onlangse Stroperresies was beslis een van daardie dae. Die beplanning, geesdrif, entoesiasme en opwinding onder landbouhandelsmerke wat betref goeie en gesonde kompetisie … en uiteindelik het Case IH koning gekraai.

Blaai gerus na bladsy 4 om meer te lees oor die hoogtepunte van vanjaar se Stroperresies. Op ons voorblad fokus ons hierdie
maand op Pioneer se nuutste bydrae tot plaaslike graanproduksie, ’n nuwe droëland-geelkultivar , P29050PW, wat ontwikkel is vir boere met ons uitdagende toestande in gedagte. In ’n tyd waar elke besluit op die plaas tel, bly genetika en kultivarkeuse een van die belangrikste besluite vir sukses.

Maar tussen al die nuwe tegnologie en ontwikkelings, is dit soms goed om net weer stil te staan en na die groter prentjie te kyk. As boer voel dit party dae of jy teen alles werk – teen die weer, insetkoste, markte en siektes. Die jongste syfers skets egter ’n ander prentjie. Volgens AgriSA se eerste kwartaalverslag het Suid-Afrikaanse landbou ’n rekordhandelsoorskot van $1,55 miljard aangeteken, die hoogste nog vir ’n eerste kwartaal.

Maar as ek dit deur ’n boer se oë lees, sien ek meer as net die positiewe. Ja, uitvoere het sterk gebly op $3,30 miljard, maar die werklike rede vir die groter oorskot lê in laer invoere. Met ander woorde, ons het nie noodwendig meer verkoop nie, ons het net minder van buite af nodig gehad. Dit laat ’n mens dink: hoe bou ons verder op hierdie momentum?

Wat wel duidelik uitstaan, is die krag van ons tuinbousektor. Met 55% van alle uitvoere wat uit hierdie segment kom, bly dit die ruggraat van ons landbou-ekonomie. Van sitrus en druiwe tot neute en bessies, dit is produkte wat wêreldwyd hul plek volstaan. Maar ons weet ook dit is nie sonder sy uitdagings nie. Bek-en-klouseer bly ’n groot struikelblok vir die rooivleisbedryf, en uitvoere na sekere markte, waaronder die VSA, het skerp gedaal.

Ons hoop en bid steeds dat hierdie markte binnekort weer sal oopgaan en terugkeer na normaal sodat ons veeboere ook verligting kan kry. Ons dink ook steeds aan ons boere wat besig is tydens hierdie strooptyd en mag daar goeie oeste vanjaar afkom!

ProAgri-groete!

Bianca Pretorius – bianca@proagri.co.za

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1