ProAgri SA 311

Proagri_311_January_2026-Voorblad
Met hoop en dankbaarheid die nuwe jaar in…
Terwyl ons ’n nuwejaar binnegaan, dink ek terug aan die vele gesprekke wat ek die afgelope jaar op plase langs die lande, op boeredae en by veilings gehad het. Verskillende streke, verskillende uitdagings, maar telkens dieselfde woord wat opduik: hoop.
Hoop vir beter seisoene, hoop vir stabiliteit, hoop vir môre. Dit is juis hierdie hoop wat 2025 vir soveel van ons ’n jaar van dankbaarheid gemaak het, selfs te midde van onsekerheid. En dit is aan hierdie hoop waaraan die Suid-Afrikaanse boer vasklou … die dryfkrag waarmee ons die nuwe jaar, en die nuwe seisoen, binnegaan. Met hierdie hoop vir ’n nuwejaar wil ek en die hele ProAgri-span graag vir elke boer, leser, vennoot en rolspeler in die landboubedryf ’n voorspoedige en geseënde nuwe jaar toewens.
Mag 2026 ’n jaar wees van goeie reën waar dit nodig is, volhoubare pryse, sterk besluite en hoop vir ’n goeie seisoen, in die kraal en met belangrike besluite. Ons weet boerdery bly ’n roeping wat moed, deursettingsvermoë en geloof vra en dit is juis hierdie eienskappe wat die Suid-Afrikaanse boer keer op keer laat uitstaan.
By ProAgri is ons reg vir ’n lekker besige en volgepakte 2026. Die jaar lê voor met ’n propvol kalender van landbougeleenthede, skoue, boeredae en veilings regoor die land. Hierdie geleenthede bly ’n belangrike plek waar kennis gedeel word, verhoudings gebou word en nuwe idees wortel skiet. Dit is ook waar die hartklop van die bedryf die duidelikste voelbaar is.
As jy graag op hoogte wil bly van alles wat in 2026 in die landbou gebeur, van veilings, skoue, ekspo’s tot plaaslike geleenthede, nooi ons jou uit om gereeld ’n draai te maak op ProAgri se webwerf en ons veilingskalender te besoek. Hier sal belangrike datums en gebeure deur die jaar gelys word, sodat jy vooruit kan beplan en niks misloop nie.
Laastens, maar beslis nie die minste nie: dankie vir julle getroue ondersteuning. Dankie dat julle lees, deel, terugvoer gee en ProAgri deel maak van jul boerdery- en landboulewe. Julle vertroue en betrokkenheid maak dit vir ons moontlik om elke maand stories te vertel wat saak maak, stories van mense, tegnologie, hoogtepunte, uitdagings en oorwinnings.
Ons sien uit na ’n lekker 2026!
Landbougroete!
Bianca Pretorius – bianca@proagri.co.za