Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 22nd September 2025

ProAgri SA 307

By 2 min read
376 words

Proagri_307_September_2025_Cover

Beste ProAgri-leser,

Die somer son is weer hier en bring met hom daardie heerlike belofte van ’n nuwe seisoen. Elke oggend se sonsopkoms voel soos ’n sagte herinnering dat die winter sy tasse pak en dat die warmer dae op ons wag. Dit is ’n tyd van hoop…hoop vir nuwe plantseisoene, vir vars groei, met soveel verwagting na uitsien.

Mag hierdie nuwe seisoen vir jou ’n tyd van oorvloed en seën wees, ons bid en vertrou saam met jou vir daardie broodnodige reënbuie wat die lewe weer in die lande sal bring.

Vir ons by ProAgri is hierdie maand egter ook ’n tyd van diepe refleksie en rou. Ons harte is swaar nadat ons moes afskeid neem van ’n groot reus in ons span, oom Buks Barnard. Vir ons was oom Buks veel meer as net ’n taalversorger; hy was ’n mentor, ’n vriend, en ’n man wat onwrikbaar vir Afrikaans gestaan het. Hy was ’n gesoute joernalis met ’n onmiskenbare liefde vir die landboubedryf en sy taal.

Min mense het soveel trots in Afrikaans gedra soos hy. Sy nalatenskap sal vir altyd in ProAgri se bladsye leef en sy passie sal ons bly inspireer om elke uitgawe met dieselfde toewyding en liefde vir taal en landbou aan jou te bring.

In hierdie uitgawe bring ons vir jou ’n paar lekker leesstories en nuusbrokkies uit die landbou-wêreld. Op ons voorblad kyk ons na Jupidex se Andreoli 2000L ECO VAC-spuite wat nuwe standaarde in Wes-Kaapse proewe stel. Verder deel ons ’n opsomming van die sesde NAMPO Kaap, wat van 10 tot 13 September te Bredasdorp aangebied is. Hierdie jaar het die skou ’n rekordgetal van 49 326 besoekers gelok en die geleentheid het weer bewys dat dit een van die toonaangewende platforms vir landbou in die Wes-Kaap is. Lees meer op bladsy 25.

Ons kyk ook na Mahindra Trekkers se groot aankondiging by NAMPO Kaap: hulle nuwe telematika sagteware program, AgriWys, wat boere nuwe insigte en beheer gee oor hul vloot en bedrywighede. Mag hierdie uitgawe vir jou inspirasie bring, jou bemagtig met kennis, en jou herinner dat landbou in Afrika ’n storie van hoop en volharding is, ongeag die uitdagings wat voorlê. Lekker lees!

Landbou groete!

Bianca Henning – bianca@proagri.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0