ProAgri SA 272

Voorblad_proagri_272_october_2022_WEB
Laat iets van waarde na
Groen is die land van Natal, maar in die Overberg is die wêreld bedek
met die allermooiste geel kanolalande en lappe groen graan.
Met ons onlangse besoek aan NAMPO Kaap in Bredasdorp, is dit net groen en geel waar jy kyk.
Wat ‘n ongelooflike voorreg om toegang te hê tot die dinge wat ons eintlik
as alledaags beskou, wat my weer eens opnuut laat besef hoe lief ek my land het. My hart klop diep en opreg vir Suid-Afrika se uitgestrekte Karoo, die diep, ysblou Weskussee, die malse groen van wingerd op wingerd in die Bolandse somer, die stilte en vrede van wuiwende grasvelde in die binneland, en die goue vreugde van ‘n land vol oopgesig sonneblomme in die Vrystaat.
Ons kuier die Kaapprovinsie plat. Een van die hoogtepunte was ons kuier
by oom James O’Kennedy, boer van Doornkloof in die Swellendam-distrik.
Met aankoms sit hy en wag vir ons onder die koelteboom voor sy huis, die ketel op die vuurtjie voor hom sing uit volle bors. Hy bied vir ons ‘n koppie boeretroos aan, en gooi dadelik, want dan moet jy darem ‘n rukkie by hom vertoef.
Hy begin vertel van sy lewe op die plaas sedert die middel van die negentigerjare. Ek verkyk my aan sy groot hande soos hy beduie, hande wat al hard gewerk het en knieë wat al baie gebid het. Oom James los my met die gedagte: “Daar is niks soos self nie, so sorg dat jy tevrede is met jou doen en late wanneer die son sak, want die son kom nie vir ewig op nie.”
Dit val my toe by – wat is jou nalatenskap? Soos ons wegry, kom ek tot die besef dat die grootste les wat ons elke dag by ouer geslag boere leer, is dat jy die vrugte sal pluk van alles wat jy doen. Die toekoms van landbou is in die
hande van ʼn nuwe en jonger geslag, en as ek om my rondkyk dan raak ek
opgewonde oor die toekoms.
Maak kontak met ons – ons wil graag jou storie hoor! Tot volgende keer, hou jou kop in die wolke en jou voete op die grond.
ProAgri groete!
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za