ProAgri SA 264

Voorblad_proagri_264_february_2022_v1
En toe sous dit …!
Ek wonder op hoeveel plase is daar die afgelope maand eers gejuig, toe benoud geraak en toe maar net besef waar ‘n trekker vir twee weke lank nie kan loop nie, gaan daar ook nie geoes word nie.
By hoeveel kombuistafels is daar gesê: “Ek weet ek moet dankbaar wees vir die reën, maar kan iemand nou net die kraan toedraai.”
As boere is soveel dinge nie in ons hande nie. Aan die weer, markpryse, beleidsbepalings, staatskorrupsie en die verkeerde kêrel op wie jou dogter verlief raak kan jy nie veel doen nie. Wel, die kêrel kan jy darem nog probeer regruk, maar teen die res kan jy jouself maar net so ver as moontlik probeer verskans.
Oesversekering is een van die dinge wat noodsaaklik geword het in die tyd van klimaatsverandering. Veelsydige boerderye met verskillende soorte gesaaides en diere kan help om risiko te versprei. Verskansing op kommoditeitsmarkte deur self graan te koop en verkoop kan beteken dat jou dood ook jou brood kan wees wanneer die pryse noodwendig styg as gevolg van tekorte.
Vir groenteboere kan meer intensiewe boerderymetodes in tonnels en nethuise ‘n goeie bestuursmetode wees en nuwe kanale van bemarking wat in die tyd van inperking ontstaan het, kan ondersteun en uitgebou word. Hoe korter die ketting tussen die boer en die verbruiker, hoe beter.
Ek het so pas weer verneem van ‘n boer wat maar R24 vir ‘n boksie lietsjies op die mark kry. Dieselfde boksie word in die kettingwinkels vir R80 tot R100 verkoop. Met regstreekse verkope aan die publiek kon hy darem R50 behaal. Met sulke groot prysverskille in die tradisionele waardeketting, raak dit sowaar tyd om bietjie huis skoon te maak.
Nog ‘n manier om deur die swaar tye te kom, is om so suksesvol as moontlik te boer en te verkoop in die tye wat dit goed gaan sodat daar ‘n neseier opgebou kan word. Tegnologie kan jou help en dit is waaroor ProAgri gaan.
Lees en blaai deur op papier of aanlyn en onthou wat jy sien, want wat jy nie vandag nodig het nie gaan jy dalk oor ‘n paar maande soek. Alles wat ons publiseer bly altyd op ons webwerf beskikbaar. Gaan krap gerus op www.proagri.co.za of www.agri4all.com terwyl jy nou in elk geval nog nie in die lande kan kom nie!
Boeregroete
Annemarie Bremner