Categories: Tydskrif, Tydskrif (RSA)Published On: 12th October 2026

ProAgri SA 320

By 2 min read
344 words

Proagri_SA320_Oct_2026

NAMPO, vee en vooruitgang

Hierdie jaar het ek al drie die NAMPO-ekspo’s bygewoon. Enigiemand wat al by NAMPO was, weet dat daar merkwaardige dinge in die landbou gebeur – en dit is juis dáár waar ’n mens van al hierdie verwikkelinge leer.

By die onlangse NAMPO Alfa het ek die besondere geleentheid gehad om met stoettelers te gesels wat nuwe dinge in die beesbedryf probeer bereik deur middel van teling. Ons praat nie hier net van geharde, vrugbare diere wat goeie vleis lewer nie, maar van diere wat tweedoelig ingespan kan word. Dink maar aan bont Brahmane wat vir sowel hul vleis as hul vel gebruik kan word, of ’n massiewe Chianina wat met ’n Santa Gertrudis gekruis word – diere wat blitsvinnig daardie kilogramme aansit!

Vir my is die vee-afdeling van die landbou nog redelik nuut, so ek luister gewoonlik aandagtig na elke teler se droom. Dit maak my opgewonde om te hoor dat daar boere daar buite is wat bereid is om hierdie tipe kanse te waag. Dit was natuurlik ook sommer net lekker om weer die diere self by NAMPO te sien.

Wat veilings betref, het ons by ProAgri nog net twee op ons dagboek oor vir die jaar. Tog het ons vanjaar weereens veilingsresultate gesien wat jou werklik opgewonde maak — soos Tokkelos die ram wat onlangs vir ’n geskiedkundige R520 000 by die Hatari Platinumveiling verkoop is.

In hierdie maand se uitgawe kan jy terugkyk na al die hoogtepunte van NAMPO Kaap en meer leer oor waar die
Brangus-beesras oorspronklik vandaan kom. Ons kyk ook na die masjiene wat boere in die Drakensberge op hul suiwelplase inspan, en delf bietjie dieper in die wêreld van biobrandstof.

Landbou is nie net een van die belangrikste bedrywe vir die wêreldbevolking se oorlewing nie; dit is ook baie duidelik dat ons bedryf die voortou neem wanneer dit kom by innovasie en vooruitgang. Liewe leser, ons hoop jy geniet hierdie uitgawe terdeë — ons het dit immers terdeë geniet om hom vir jou saam te stel!

Lekker lees!

Natasha Pretorius

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0