ProAgri: 30 jaar van diens aan die boer

128290
՚n Mooi trekker of stroper of baler is vir elke boer ՚n lus om te aanskou, maar vir die ernstige boer is dit belangriker om te weet hoe ՚n werktuig WERK as hoe hy LYK. Dit is hoekom ProAgri, die landboutegnologietydskrif, in 1994 tot stand gekom het – om boere te wys hoe nuwe landbouwerktuie lyk en WERK.
Wyle dr Francois Rall het gevind dat dit moeilik raak om tred te hou met die snel ontwikkelende landboutegnologie. Daar was geen plek waar die boer vinnig en maklik tegnologieinligting kon bekom waarvolgens hy sy besluite kon neem nie. Daarom het dr Rall in 1994 besluit om self ՚n landboutegnologietydskrif op die been te bring om die leemte te vul – ProAgri.
Niemand weet beter as ՚n boer wat werk vir ՚n boer nie. Daarom besoek ProAgri boere op hulle plase en dra die boer se eerstehandse ervaring met werktuie aan ander boere oor sodat boere sonder sukkel ingeligte besluite oor tegnologie kan neem. Die begindae het baie moeite en opoffering vereis. Dr Rall het self die poskantore in al die kleiner dorpe in die land besoek en hulle samewerking gewerf om ProAgri in al die boere van hulle omgewing se posbusse te plaas. Die tydskrif se destydse enigste joernalis, Buks Barnard (Dom Boer), was soms vir tot ses weke op ՚n slag op die pad om boere te besoek en artikels te skryf – het selfs op een dag 1 200 km gery, vier plase besoek vir inligting en foto’s, en die aand die artikels geskryf en aangestuur.
Destyds het die poskantoor nog gewerk en die joernalis kon sy filmrolletjies en later sy digitale foto’s op ՚n straalskyf met die oornagposdiens kantoor toe stuur. Nog later het die ontwikkeling van internettegnologie dit darem heelwat makliker gemaak. Etlike kere het die joernalis se ou flenterbakkie se uitlaatpyp afgebreek sodat hy dit met ՚n tou of ՚n stuk draad moes vasmaak dat dit nie op die grond skuur en heeltemal afbreek nie. Die grondpaaie was maar rof.
Daar was ՚n keer toe ՚n bemarker gesê het ՚n boer was naby Victoria-Wes en die joernalis moet hom sewe-uur die oggend van Victoria-Wes af bel om presiese aanwysings na sy plaas te kry. Dit blyk toe dat die boer nader aan
Carnarvon was en die môre nog moes ry om ՚n vlug te haal. Die oplossing was JAAG. Die joernalis was betyds vir ՚n vinnige, maar deeglike, onderhoud, maar die grondpad van Vosburg af was so rof dat al vier die bakkie se bande
die volgende dag vervang moes word.
Die gasvryheid en behulpsaamheid wat ProAgri strykdeur van boere ontvang het was verstommend. Boere is altyd gereed om ander boere te help, en dus ook die tydskrif wat as tegnologieskakel tussen boere dien. Die druk neem toe op die boer om al hoe meer teen ՚n al hoe laer koste te produseer. Die verskaffers van landboutegnologie maak al hoe meer en beter planne om die boer daarmee te help. En ProAgri help om die tegnologie en die boer bymekaar te bring tot voordeel vir die landboubedryf.
Meer oor die stigter, dr Francois Rall

Dr Francois Rall en sy vrou, Ester.
Vir ProAgri se stigter en eerste eienaar, die landbou-ekonoom en deeltydse beesboer, dr Francois Rall, was die droom om nuus oor landboutegnologie by elke boer uit te kry, sodat boere kan sien watter opsies beskikbaar is en beter kan boer.
Van die begin af is ProAgri as ’n familie-onderneming bedryf met dr Francois se vrou, Ester, die kinders, Coenraad, Pieter, Adriaan en Suzanne, en later hulle vriende en aanhangsels wat betrek is. ’n Groot hartseerdag in die geskiedenis van ProAgri was die afsterwe van dr Francois in ’n motorongeluk in 1999.
Pieter het in sy universiteitsjare die bestuur van die tydskrif oorgeneem. Onder sy bestuur het ProAgri hande gevat met AgriTrader, die breinkind van Stefan van Wyk, ’n bekende in die veebedryf. Stefan is ook tragies in 2018 oorlede.

ProAgri se heel eerste uitgawe!
Ererol
Buks Barnard was van die eerste uitgawe in November 1994 tot vandag toe betrokke by ProAgri se beriggewing en taalversorging oor tegnologie en keurige Afrikaanse (en Engelse) taalgebruik. Dankie oom Buks vir oom se kennis oor al die jare. Min mense ken al die tegniese terme van ՚n werktuig so goed soos hy.
Ontwikkeling oor die jare:
In Oktober 2015 het ons eerste Afrikatydskrif, ProAgri Zambië, verskyn (Engels). Later het ons ook Botswana, Namibië en Zimbabwe bygevoeg en in Maart 2024 het dit in een Afrikatydskrif, ProAgri Afrika verander wat
oor al hierdie lande handel. In 2019 het www.agri4all.com ontstaan, wat as aanlyn-koop-enverkoop-forum dien.
ProAgri is digitaal beskikbaar op www.proagri.co.za en www.proagrimedia.com. Ons het ook ՚n wye sosialemedianetwerk (Facebook, Instagram, Tik-Tok, YouTube).
Die toekoms
ProAgri het ook hande gevat met AgriSphere Global, die vinnig groeiende beleggings- en mediagroep wat spesialiseer in landbou, landboubedrywe en hoogs waardevolle toerisme in Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate. Na meer as ‘n dekade van samewerking met Agri4all, ontsluit ProAgri se integrasie in AgriSphere nuwe geleenthede vir boere, landboubedrywe en belanghebbendes in die bedryf. Met die gesamentlike krag van ProAgri, Agri4all en
ProAgriMedia, bied die platform nou ‘n ongeëwenaarde mediahuis – wat groter waarde het, meer mense bereik en versnelde groei vir klante lewer.
Onder AgriSphere sal die handelsmerk nou:
• Sy e-handels- en digitale reikwydte uitbrei deur gebruik te maak van AgriSphere se medianetwerk om beter toegang tot bedryfsnuus, insigte en geleenthede te verskaf.
• B2B-verbindings verbeter: Sy rol versterk in die verbinding van sake-ondernemings regdeur die landbouwaardeketting.
• Vernuwing: Gebruik maak van AgriSphere se hulpbronne om nuwe digitale oplossings en bemarkingstrategieë vir landbouondernemings in te stel.
“Hierdie is die begin van ‘n belangrike oomblik vir ProAgri,” het Diane Do Nascimento, verkoopsdirekteur, gesê. “Deur by AgriSphere aan te sluit, sal ons nie net ons nalatenskap uitleef nie – ons sal ons impak versterk,
wat verseker dat meer boere en landboubedrywe in ‘n toenemend mededingende landskap kan floreer.”
- 51,3 miljoen kykers maandeliks op sosiale media
- 10 000 landbouprodukte is gewys op al ons platforms
- 1,8 miljoen artikels is gelees op ons webtuiste
- 136 000 + sosialemediavolgelinge oor al ons Facebookblaaie
- 350 000 unieke produkkyke (views)
- 512 000 maandelikse besoekers op ons webtuistes
- 131 000 boere word bereik deur gedrukte en digitale tydskrifte