ProAgri 198 – Augustus 2016

proagri_198_aug_2016.indd
“Span in manne, span in! Hotagter! Rooiberg! Voorslag! Blinkes!” Een van die dae sal ons maar weer die osse moet uithaal as dit ploegtyd is, want al die blinknuwe tegnologies gevorderde toerusting gaan niks help as daar nie diesel in die tenk is nie. Die staking in die petroleumbedryf het ’n mens weer laat besef hoe kwesbaar en wankelrig ons moderne samelewing eintlik is. Eskom se probleme het die meeste mense al gedwing om alternatiewe planne gereed te kry vir kraglose dae, maar in baie gevalle hang daardie alternatief af van die beskikbaarheid van diesel. So, wat nou as die dieselkraantjie opdroog?
Ek is geen doemprofeet nie, maar dit is vir my redelik duidelik dat ’n mens maar in Afrika so ver as moontlik planne moet maak om selfversorgend te wees. Die meeste boere kan darem ’n tenk op die plaas hou met voorraad, maar die stedelinge is redelik gedoem… Die plaaslike verkiesing, wat pas verby is, het my ook weer laat wonder hoe dit gebeur het dat partypolitiek ooit sy voet in die deur gekry het met betrekking tot munisipale bestuur. ’n Stadsraad se werk is om infastruktuur te verskaf en in stand te hou sodat die inwoners kan voortgaan met hulle ekonomiese bedrywighede en in veiligheid kan woon en leef. Niks meer as dit nie, maar dit het ontaard in ’n speelterrein van politieke mag.
As ek so kyk na party van die ingewikkelde boerdery-ondernemings wat ons soms vir artikels besoek, reken ek vir ’n baas van so ’n plaas sal die bestuur van die naaste dorp nie veel van ’n uitda- ging bied nie. Die paaie sal herstel word, die dorp sal nie sukkel met water oor die pompe nie in stand gehou word nie en almal sal minder betaal, want die groot salarisse sal verdwyn…
Maar nou ja, net so bietjie wensdenkery! Dit was ’n groot plesier vir ons span om aan hierdie Augustus-uitgawe met sy baie artikels te werk en vir my was dit ‘n persoonlike eerste om in Julie in die Vrystaat dit nie reg te kry om van die plaasopstal af tot by die skuur te loop of te ry nie, omdat dit te hard gereën het! Wat ’n wonderlike ervaring om die boere se vreugde te deel oor die reën wat die belofte inhou vir ’n beter seisoen. Laat ons mekaar steeds help dra deur hierdie bitter moeilike laatwintermaande wat voorlê. Lekker lees aa aan ons uitgebreide vee-afdeling, al die meganisasienuus en artikels oor tegnologie wat vir gewasproduksie beskikbaar is.
Boer slim!
Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za
Laai ProAgri 198 hier af: proagri_198_aug_2016_web