President Ramaphosa verklaar bek-en-klouseer ’n nasionale ramp – maar wat beteken dit?

President Cyril Ramaphosa het tydens sy 2026-staatsrede die aankondiging gemaak waarop boere reeds ’n jaar lank wag: bek-en-klouseer (BEK) is amptelik as ’n nasionale ramp verklaar.
“Ons het BEK as ’n nasionale ramp geklassifiseer en sal al die nodige vermoëns binne die staat mobiliseer om hierdie krisis te hanteer,” het Ramaphosa gesê.
Die siekte, wat reeds al nege provinsies bereik het nadat die Wes- en Noord-Kaap ook hierdie week onder kwarantynmaatreëls geplaas is, het boere die afgelope jaar onder geweldige druk geplaas. Ramaphosa het aangekondig dat die regering 14 miljoen beeste oor die volgende 12 maande wil inent. Dit beteken sowat 38 000 diere per dag moet ingeënt word – elke dag, vir ’n volle jaar.
So, wat beteken hierdie aankondiging vir boere?
Wanneer BEK as ’n nasionale ramp verklaar word, kry die regering ekstra magte en hulpbronne om die siekte vinniger en meer doeltreffend te beheer. Dit verander die situasie van ’n provinsiale probleem na ’n gesentraliseerde, landwye reaksie.
Die praktiese gevolge vir boere:
- Die regering kan entstowwe invoer en versprei sonder om deur lang tenderprosesse te gaan.
- Alle provinsies werk onder een strategie. Boere hoef nie alleen te probeer beheer nie – hulp kom van die Nasionale Rampbestuursentrum.
- Voertuie, toerusting, ontsmettingsmiddels en noodfondse kan vinnig vrygestel word.
- Die polisie, weermag en verkeersowerhede kan ontplooi word om padversperrings, kontrolepunte en inspeksies te doen.
- Beweging van diere vereis gesondheidsverklarings.
- Nuwe diere moet 28 dae geïsoleer word.
- Nie-nakoming kan lei tot boetes of selfs tronkstraf.
- ’n Nuwe stelsel sal dierebewegings en inentings elektronies monitor.
- Boere bly verantwoordelik om verspreiding op hul eie plase te voorkom.
Handelsbeperkings: Uitvoerverbod en beperkte marktoegang bly ’n groot finansiële uitdaging.

Waarom is hierdie belangrik?
- Vinniger reaksie: Toetse, nasporing en inentings kan beter gekoördineer word.
- Noodfondse: Geld kan herlei word om veeartsenykundige dienste en inperkingspogings te versterk.
- Nasionale samewerking: Provinsies wat swaar getref is, soos KwaZulu-Natal, kry nou ekstra ondersteuning.
Die rampverklaring gee die regering die mag om vinniger, sterker en meer gesentraliseerd op te tree teen BEK. Vir boere beteken dit, strenger beheer en dokumentasie, grootskaalse inentingsveldtogte, hulpbronne en personeel wat nasionaal gemobiliseer word. Dit beteken ook groter verantwoordelikheid, hoër kostes en ’n tydelike verlies aan marktoegang.
Dit klink goed op papier, maar in die praktyk is dit ’n enorme uitdaging. Die entstof moet beskikbaar wees, die mense en infrastruktuur moet regstaan, en alles moet presies volgens plan verloop. Boere weet dit is makliker gesê as gedaan.
![]() Foto: Getty Images |
![]() Foto: Gallo Images/OJ Koloti |
Reaksie van die landboubedryf
Landbou-organisasie AgriSA sê hulle verwelkom die rampverklaring, maar beklemtoon dat vinnige, goed-gekoordineerde aksie nou krities is.
Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA, sê: “AgriSA se verwagting is dat hierdie stap die bevorderlike regulatoriese omgewing skep wat nodig is vir ’n beter gekoordineerde nasionale reaksie.”
Boere in geaffekteerde gebiede voel reeds die druk: bewegingsbeperkings, vertraagde marktoegang, hoër biosekuriteitskoste en die feit dat diere nie altyd verkoop kan word wanneer dit nodig is nie. Hierdie skade raak nie net individuele plase nie – dit strek deur die hele waardeketting, van voerkrale en slagpale tot vervoer en kleinhandel. Klein dorpies en landelike gemeenskappe wat van veeverwante werk afhanklik is, sal besonder swaar getref word as die uitbraak nie vinnig ingeperk word nie.
Die nasionale taakspan wat die president ingestel het, sal maandeliks rapporteer, maar uiteindelik hang alles af van wat op die plase gebeur.

