Plaasaanval op Potgietersrus

doringdraad
Ockie Breedt is op Donderdagmiddag net voor 18:00 beseer in ‘n plaasaanval net buite Roedtan op die Marble Hall pad.
Ockie is buite by sy voertuig deur twee gewapende aanvallers met ‘n mes en pistool oorval. Hulle het hom in die huis ingedwing en vasgemaak. Die aanvallers het die huis begin omkeer en aangedring op kontant asook die kluis se sleutel. Daar het ‘n struweling ontstaan waarna Ockie agt keer met ‘n mes deur een van die aanvallers gesteek is. In die struweling is een van die aanvallers ook gewond waarop hulle weggehardloop het.
Die hulp van boere in die omgewing, HPG en die SAPD is ontbied. Die personeel van die DLU noodvoertuig het Ockie gestabiliseer en na die hospitaal in Mokopane geneem waar hy mediese behandeling ontvang het.
HPG het op die toneel spore positief geїdentifiseer waarna ‘n grootskaalse opvolgoperasie van stapel gestuur is.
Boere van die Roedtan omgewing onder leiding van die veiligheidsverteenwoordigers van Potgietersrus DLU het paaie in die gebied toegemaak.
Die reёn het die soektog bemoeilik en is afgelas omstreeks 21:00. Die ondersoek duur egter voort.
Johan de Beer, veiligheidsvoorsitter van Potgietersrus DLU het die aanval ten sterkste veroordeel. Hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by Georganiseerde Landbou en plaaslike veiligheidstruskture. Hy het sy dank uitgespreek teenoor HPG, Boere, die gemeenskap asook die SAPD wat so vining gereageer het.
Bron: TLU SA