Categories: Artikels, Gewasproduksie, NuusPublished On: 9th January 2026

Pioneer vier 100ste bestaansjaar

By 3 min read
601 words

156623526_1182265728870705_8430361089054502019_n

Pioneer, ’n wêreldleier in die verskaffing van landbousaad en agri-oplossings, vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar. As deel van hierdie vieringe beklemtoon Pioneer hul diepgewortelde vennootskap met Suid-Afrikaanse boere.

“Net soos Pioneer boere wêreldwyd die afgelope eeu ondersteun het, staan ons reg om die volgende 100 jaar saam met Suid-Afrikaanse boere aan te pak,” sê Jaco Snyman, besigheidsbestuurder van Pioneer Saad Suid-Afrika.

Die handelsmerk, wat 100 jaar gelede deur Henry A. Wallace gestig is, is gebou op ’n nalatenskap van innovasie, volharding en ’n onwrikbare verbintenis tot produsente. Sedert hulle die eerste baster mieliesaad in die 1920’s ontwikkel het, is Pioneer steeds aan die voorpunt van landbou-ontwikkeling. Danksy ’n diepgaande begrip van die unieke grondomstandighede, klimaat en die uitdagings wat Suid-Afrikaanse boere daagliks trotseer, is die maatskappy se storie in Suid-Afrika ook reeds dekades heen diep gewortel in die plaaslike landbousektor.

“Die Pioneer-viering gaan nie bloot oor terugkyk nie; dit gaan oor die viering van miljoene suksesverhale saam met kliënte,” sê Snyman. “Die kern van hierdie verbintenis is ons ‘Farmer First’-filosofie. Dit beteken dat die boer die middelpunt van ons besigheid is, en dat elke daaglikse besluit in die boer se beste belang geneem word.”

Daneel Fourie, agri-besigheidsbestuurder van Pioneer Saad Suid-Afrika, voeg by dat om die boer voorop te stel, Pioneer se eerste prioriteit is: “Hetsy dit in-die-veld-ondersteuning is of die produkte wat ons vir sy spesifieke behoeftes ontwikkel, sal ons altyd poog om hom in staat te stel om so winsgewend en volhoubaar as moontlik te kan boer.”

Voorbeelde van hierdie vooruitgang sluit in droogtebestande kultivars, sowel as insek- en onkruidbestande kultivars wat Corteva se PowerCore™-tegnologie bevat. Hulle bied ook digitale oplossings wat boere in staat stel om met presisie te boer, soos die Pioneer Farmer App en gLink-tegnologie wat help met die akkurate voorspelling van onder meer kuilvoersnytyd.

“Pioneer Suid-Afrika benut hul toegang tot globale hulpbronne en wêreldklas-tegnologie, wat verfyn word met behulp van plaaslike kennis om perfek by Suid-Afrikaanse boere se praktyke te pas,” sê Emile van den Berg, nasionale agronomiese bestuurder van Pioneer Saad Suid-Afrika.

Wat Pioneer van hul mededingers onderskei, is deurlopende agronomiese ondersteuning. Die maatskappy verskaf nie net saad nie, maar ondersteun dit met data en oplossings vir presisieboerdery, met die doel om beter opbrengste te bewerkstellig.

Van den Berg stel dit só: “Ons veld-agronome is die sleutel tussen wetenskap en praktyk; hulle is die betroubare adviseurs wat boere met vertroue in hul boerderye kan insluit. Hulle woon dikwels in dieselfde gemeenskappe as die boere, en bied heeljaar diens en kundige advies gegrond op gedetailleerde kultivarkennis en datagedrewe insigte.”

Die afgelope 100 jaar se sukses skep die vertroue onder produsente dat Pioneer vir nog ’n eeu en langer sal bestaan. As deel van die viering beplan Pioneer verskeie geleenthede, soos boeredae in Maart, deurentydse plaasbesoeke en ’n sterk teenwoordigheid by NAMPO.

In Suid-Afrika én in die buiteland het die maatskappy ook ʼn verbintenis tot gemeenskapsdiens gemaak deur 100 000 ure se vrywillige werk deur hul personeel en agente. Pioneer het hul personeel die tyd en aanmoediging gegee om betrokke te raak by enige opheffingsprojek van hul keuse. Pioneer Saad Suid-Afrika is ’n entoesiastiese deel van hierdie beweging wat fokus op voedselsekerheid en wetenskapsprogramme.

Snyman sluit af: “Ons nooi Suid-Afrikaanse boere, agente en ander belanghebbendes uit om deel te wees van hierdie mylpaal, wat vir ons die eerste tree van die volgende eeu van volhoubare en winsgewende landbou verteenwoordig.”

Vir meer inligting oor Pioneer Suid-Afrika se eeufeesviering, gesels met jou plaaslike Pioneer-agent, stuur ʼn e-pos aan info.rsa@pioneer.com of besoek hul webwerf by www.pioneer.com/za. Hou ook hul sosialemediaplatforms dop.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0