Pioneer se eerste Agronomiedag vir 2025: ‘n Dag van vernuwing, tegnologie en praktiese oplossings vir boere

DSC_0631
‘n Skatkis van kennis, inligting en vernuwing. Dit was die Pioneer Agronomiedag wat tussen Vredefort en Kroonstad aangebied is, met sy insiggewende program van teoretiese lesings en praktiese veldproewe. Hierdie dag het nie net inligting verskaf nie, maar het ook ‘n waardevolle platform gebied vir boere om direk van kundiges te leer en om die resultate van Pioneer se proewe op die land in aksie te sien.
Die dag het boere van die streek die geleentheid gegee om inligting te bekom oor die jongste kultivars en landboutegnologieë, sowel as om meer te leer oor hoe hulle die beste besluite vir die komende seisoen kan neem.
Onder leiding van Pioneer se ervare span het boere waardevolle insig gekry wat hulle sal help om die uitdagings van die landboubedryf met selfvertroue aan te pak.

Oorsig van die dag Johan (Fires) van Vuuren, Pioneer se plaaslike agent in die Kroonstad-streek, werk al twintig jaar by Pioneer. Johan het die plaas van Hannes van der Merwe, die gasheer van die dag, as ‘n voorbeeld van langtermyn boerderysukses genoem: “Hannes het ongeveer twintig jaar gelede met geenbewerking begin, en vandag pluk hy die vrugte van sy volgehoue boerderypraktyke en beplanning. Hierdie tipe langtermyn benadering is wat boere help om suksesvol aan te pas by veranderende omstandighede,” meen hy.
By die Pioneer Agronomiedag kon boere self die proewe wat jaarliks op die plaas geplant word sien. Hierdie proewe sluit mielies, sojabone en sonneblom in, wat Pioneer landwyd as deel van die PKP (Product Knowledge Trials) plant. Die proewe bied boere ‘n waardevolle blik op hoe verskillende kultivars in spesifieke omgewings aanpas en presteer en hoe dit die opbrengs kan beïnvloed.
Proefdata
Die proewe het ‘n gesamentlike fokus op die evaluering van Pioneer se kultivars gehad. Johan het beklemtoon hoe die proewe nie net inligting oor Pioneer se eie produkportefeulje bied nie, maar ook teen ander kultivars in die bedryf, wat boere die kans gee om ‘n realistiese vergelyking te maak en ingeligte besluite oor die kultivars te neem.
“Deur die data wat ons uit hierdie proewe kry, kan ons boere help om besluite te neem wat spesifiek vir hulle plaasomstandighede werk,” sê hy.
Hennie du Plooy, Pioneer se gebiedsbestuurder vir die Vrystaat en oostelike Noordwes-streek, verduidelik die mielieproewe wat aan die boere gewys is was van besondere belang. “Ons het die WPW-naam mielies, wat vir die eerste keer kommersieel beskikbaar is, op die proefplaas geplant en aan die boere gewys. “Die mielies gebruik die PowerCoreTM (PW) tegnologie, wat ‘n groot stap vorentoe is vir die bedryf. Die terugvoer wat ons van boere ontvang, is ongelooflik waardevol.”
Volgens Hennie bied die Agronomiedae aan boere die geleentheid om die kultivars te sien, om dit ook self aan te raak en tussen die proewe deur te loop. “Ons gebruik die dag om boere te wys hoe nuwe tegnologieë hulle boerdery kan verbeter,” het hy verder gesê en sien is glo.
Pioneer se ondersteuning aan boere
Die belangrikste voordeel van Pioneer se benadering is volgens Hennie die direkte betrokkenheid van hulle veldagente by die proewe.
Hy sê: “Ons agente in die veld is goed opgelei, ons doen self die proewe, ons is self betrokke by die praktiese uitvoering van die proewe en na my mening is dit waar jy jou produk die beste kan leer ken, jy kan sien waar werk hy en wat doen hy, wat is sy pluspunte en in watter grond werk die produk die beste.”
Boere word deur ‘n deeglike evaluasie van wat in hulle omgewing werk, ondersteun. Die agent in die veld benader dus elke plaas as ‘n unieke situasie en maak gebruik van Pioneer se sterk agronomiese span om boere die beste moontlike aanbevelings te gee. Hierdie benadering verseker nie net die beste resultate nie, maar bied ook ‘n gesamentlike benadering wat boere in staat stel om self besluite te neem wat hulle bedrywighede bevorder.
Waarde van die dag
Hannes van der Merwe, boer en eienaar van Kroonland Agri, op wie se plaas die Agronomiedag aangebied is, het die waarde van sulke dae beklemtoon. “As boere is ons dikwels gefokus op die daaglikse take op die plaas en ons verloor soms die groter prentjie uit die oog. Dit is belangrik om een keer ‘n bietjie terug te staan en ‘n geleentheid soos hierdie te gebruik om die nuutste tegnologieë en metodologieë te ontdek,” sê hy.
Hannes, wat al jare saam met Pioneer werk, skat die maatskappy se langtermyn betrokkenheid en ondersteuning as ‘n groot voordeel vir sy boerdery. “Pioneer presteer nog altyd goed in ons bewerkingsomstandighede. Ek het ervaar dat Pioneer se siekteweerstandigheid hoër as die van mededingers is en die diens wat ons op agronomiese en tegniese bystandsvlak dwarsdeur die seisoen van ons Pioneeragente en landboukundiges ontvang, is van groot waarde. Vir ons is die verhouding met die klante ook ‘n groot gedeelte van die sukses in ons verhouding met Pioneer.”

Hoogtepunte van die dag
Vernuwing en mikrobiologie: Die volgende stap
Volgens Hannes was een van die hoogtepunte van die dag die bespreking oor die rol van mikrobiologie in die verbetering van stikstofdoeltreffendheid. “Ons kyk na hoe voordelige bakterieë die doeltreffendheid van stikstof in mielies, wat ‘n hoëinsetgewas is, kan verbeter. As ons dit kan verhoog, sal dit ons boere help om die produksiekoste te verminder,” vertel hy.
Hy het die jonger geslag boere en manne wat die landboubedryf betree en wat die dag bygewoon het geprys: “Dit is opwindend om te sien hoe die nuwe geslag leergierig is en oor die nodige kennis beskik. Dit is duidelik dat die toekoms van die landbou in goeie hande is.”
Raad aan ander boere
Hannes meen dat dit altyd lekker is om te kan raad gee: “Ons werk in ‘n bedryf waar baie goed buite ons beheer is, maar solank as wat mens fokus op dit wat binne jou beheer is en nie toelaat dat dit wat buite jou beheer is jou beïnvloed nie, is sukses jou voorland. Ons boerderye word genoeg beïnvloed deur die op en af van die seisoene.”
Hy sluit af: “So, doen proewe, moenie elke nuwe gier in die bedryf op ‘n 100% skaal toepas nie, wees bewus van wat nuut is in die bedryf, maar pas dit stelselmatig in jou boerdery toe en sien hoe dit inpas by jou stelsel en watter voordele dit vir jou kan bring binne jou bestuurspraktyke.”
Die Pioneer Agronomiedag was meer as net ‘n blootstelling aan nuwe tegnologieë en kultivars. Dit was ‘n dag waarop boere hulle kennis kon uitbrei, met kundiges in die veld kon kommunikeer, en die nodige insigte kon kry om hulle besluite vir die komende seisoen te vorm. Die waarde van sulke dae is onskatbaar, en die vennootskap tussen Pioneer en die boere is iets wat die landboubedryf in Suid-Afrika sterker en meer volhoubaar maak.
Toekomstige agronomiedae
Vir boere wat nie die eerste Agronomiedag kon bywoon nie, is daar meer geleenthede om op die hoogte te bly.
Die volgende twee Pioneer Agronomiedae sal op 8 April in Douglas en 15 April in Sannieshof plaasvind. Vir meer inligting of navrae, kan boere Pioneer kontak deur ‘n e-pos te stuur na info.rsa@pioneer.com of besoek hulle webwerf by www.pioneer.com/za




