Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 28th October 2022

Pekanneute wen veld in die Klein-Karoo

By 9 min read
1814 words

pekan 1

Die pekanneut word deur die harde swart en bruin dop beskerm. (Source: Pixabay)

deur Tisha Steyn

Hoewel pekanneute reeds sedert 1972 kommersieel in Suid-Afrika verbou word, word dit maar eers sedert in 2010 in die Wes-Kaap aange­plant. Anders as die ander provinsies in die land, word die Wes-Kaap nie as ՚n gebied wat pekanneute kommersieel produseer gereken nie.

Volgens navorsing wat in 2019/20 gedoen is, hou die Wes-Kaap heelparty uitdagings in vir die produksie van pekanneute. Dit sluit die afwesigheid van ՚n volhoubare bron van voldoende water soos uit ՚n besproeiingskema, onvoldoende koue-eenhede van minder as 7 °Celsius, ՚n warm, droë Mediter­reense klimaat en die moontlikheid dat dit weens klimaatsverandering nog warmer en droër kan raak, asook die vlak, klipperige grond wat arm is aan organiese stowwe.

Die navorsing kon nie met sekerheid vasstel hoeveel kommersiële pekan­neutboorde in die provinsie is nie, maar noem wel aanplantings by Bonnievale, Franschhoek en Clanwilliam. Tisha Steyn het nog ՚n paar in die Klein-Karoo opgespoor:

Wanneer die vrug ryp word, bars die groen vrugomhulsel oop en die swart en bruin dop is sigbaar. (Bron: Pixabay)

 Christoph Strydom

Christoph Strydom boer met pekan­neute op die plaas Klein-Doornrivier sowat 25 km vanaf Oudtshoorn. Hy glo die gebied is uiters geskik vir pekan­neute vanweë die warm somers en koue winters, mits jy voldoende water en diep rivieroewergronde het.

Toe Christoph in 1979 sewe jaar oud was, het sy pa, Basie, vanaf Jansenville in die Oos-Kaap na die Klein-Karoo verhuis. Op die 1 500 ha plaas, Klein-Doornrivier in die omgewing van Mount Hope in die Oudtshoorn-distrik, het hy aanvanklik met volstruise, sybokke en Döhne-Merinoskape geboer. In 1993 en 1996 het hy altesaam 400 pekanneutbome aangeplant.

Christoph het in 2005 voltyds by die boerdery aangesluit. In 2007 het hy van die volstruise ontslae geraak en in 2010 nog sowat 600 pekanneutbome aangeplant sodat daar vandag sowat 1 000 bome op 10 ha van die plaas gevestig is.

Naas die pekanneute het hy ook met sybokke geboer en saad en voer ver­bou. “Weens die droogte het ek in 2019 van al die vee ontslae geraak en die verbouing van ander produkte gestaak om al die water eerder vir die pekan­neute te hou,” vertel hy. Hy hou wel ՚n trop Meatmasters aan wat met die  onkruid in die lowerryke boord klaarspeel.

Pekanneute word in gebak gebruik. (Bron: Pixabay)

Kultivars

Omdat Basie as baanbreker nie geweet het watter kultivars die beste in die warm, droë, klipperige Mount Hope-omgewing gaan aard nie, het hy agt ver­skillende kultivars aangeplant, naamlik Pawnee, Barton, Choctaw, Wichita, Ukul­inga, Shoshoni, Mohawk en Cape Fear.

Volgens Christoph doen al die kulti­vars goed al lewer pekanneutbome van nature nie elke jaar dieselfde opbrengs nie. Boonop volg die kultivars Pawnee en Shoshoni hulle eie patroon. “Ten spyte daarvan het my bome die afgelope sewe jaar gemiddeld 3 ton/ha neute gelewer, wat baie goed is.”

Basie het destyds 100 bome per hektaar geplant, terwyl Christoph nou 138 bome per hektaar plant. “Deesdae word aanplantings van tot 200 bome per hektaar geplant sodat ’n boord ’n hoër opbrengs per hektaar teen ’n jonger ouderdom kan lewer en gouer ’n gelykbreekpunt bereik.”

Die lang wagtyd is nogal ՚n probleem as ՚n man sukkel met kontantvloei, wat waarskynlik voornemende pekan­neutboere bietjie afskrik. “Die bome begin eers ná sowat vier jaar noemens-waardig dra, terwyl ’n boer eers aan die einde van die agtste jaar ’n ge­lykbreekpunt bereik.

Aan die ander kant is ՚n pekan­neutboom amper vir ewig. “Die bome bereik hulle piekproduksie tussen tien en elf jaar, maar hoef nooit weens ouderdom vervang te word nie. Dit sal nie in my of my kinders se leeftyd nodig wees nie, want in optimale omstan­dighede word pekanneutbome tot 300 jaar oud!” Bome word net verwyder as hulle ՚n siekte het of as hulle waaragtig nie meer winsgewend is nie. Sover is al pes op Klein-Doornrivier stamboorders wat ՚n oplettende boer maklik kan raaksien.

Volgens Christoph help die warm droë somers in die Klein-Karoo (tot 40 °C plus) om hoë humiditeit te voorkom, wat tot swamsiektes soos skurfsiekte en antraknose kan lei.

“Vir pekanneutbome om optimaal te kan produseer, het die bome 450 koue-eenhede (uur) teen ’n temperatuur van onder 7 °C nodig. Indien dit nie koud genoeg is in die winter nie, veroor­saak dit dat die boom laat en onegalig bot, sowel as verhoogde neutval, wat produksiesyfers nadelig beïnvloed.”

Pekanneute is afhanklik van baie water, koue-eenhede en diep, vrugbare grond vir goeie vrugvorming en neutvulling. (Bron: Pixabay)

Water

Christoph se grootste uitdaging is water. Hy kry water uit die Kande­laarsrivier-Waterverbruikersvereniging, wat resorteer onder die Breede-Gouritz Catchment Management Area (BGC­MA).

’n Volwasse pekanneutboom in produksie gebruik tot 1 200 liter water per boom per dag in sy piektyd. As die boom te min water kry in die verskil­lende fases van neutontwikkeling, kan dit lei tot klein neute en swak neutvulling. As die boom gelyktydig onder wa­ter- en hittedruk is, kan dit daartoe lei dat neute afgespeen word. Waterspan­ning aan die einde van die seisoen kan daartoe lei dat die lobbe nie oopmaak nie en die neute staan as ‘stick-tights’ bekend.

Al kry die plaas sy naam van ՚n rivier, is water beslis nie volop nie. “Ons is afhanklik van leibeurte uit die Klein-Doornrivier wat uit die Outeniekwa­berge gevoed word.”

Wanneer daar water beskikbaar is, herlei Christoph sy leibeurt na ’n gronddam vanwaar die water deur middel van swaartekrag na ’n mikrobe­sproeiingstelsel versprei word.

Die ‘mini wobbler’-besproeiingstelsel se sproeier staan sowat 700 mm bo die grond en versprei vetter druppels oor ’n groter gebied rondom die boom se stam as wat ’n gewone mikrobesproeiingstelsel doen.

Pekanneute word in die dop aan verwerkers verskaf. (Bron: Pixabay)

Vrugbare grond

Pekanneutbome verkies diep, vrug­bare grond wat goed gedreineer is en ՚n goeie waterhouvermoë het. Selfs al voldoen die grond aan hierdie ver­eistes, is dit raadsaam om jaarliks ՚n grondontleding te laat doen sodat reg­stellings betyds gemaak kan word.

Grondvoorbereiding behels dat die grond met ’n eentandploeg gebreek en die plantgate vooraf voorberei word. Voedingstowwe word vooraf met die grond uit die gat gemeng voordat die jong boompies geplant word.

“Die pH (suurheid) van die grond moet tussen 5,5 en 6,5 wees, maar ’n pH van tussen 5,0 en 5,5 en 6,5 tot 7,0 kan relatief maklik reggestel word.” Grond met ՚n lae pH kan reggestel word met die toeding van kalk, terwyl grond met ՚n hoë pH reggestel kan word met swael of sulfaat.

Sink word in die vorm van agt blaarbespuitings in die groeiseisoen toegedien, asook ander spoorelemente soos yster, koper, boor, mangaan en nikkel tydens twee blaarbespuitings in die seisoen.

Jong bome word in Augustus geplant wanneer die bome uit hulle dormante winterperiode begin ontwaak. “Die boompies uit die kwekery is teen daardie tyd al drie jaar oud: vanaf die kweek van die saailing (jaar 1), ent van die saailing (jaar 2), die plant van die geënte boompie (jaar 3). Ons tel die ouderdom van die boompie eers van die dag wat ons dit plant.” Bome is beskikbaar by geakkrediteerde kwekerye. ՚n Lys van dié kwekerye is beskikbaar op Suid-Afrikaanse Pekanprodusente-assosiasie (SAPPA) se webtuiste.

Pekanneutbome is tweeslagtig en die mannetjie- en wyfieblomme word nie noodwendig gelyktydig ryp nie. Daar word onderskei tussen ՚n tipe 1, wanneer die manlike blomme voor die vroulike blomme ryp is, en ՚n tipe 2, waar die wyfieblomme voor die mannetjieblomme ryp is. Die oorvleuelings-tydperk vir die mannetjie- en wyfieblomme vir ՚n spesifieke kultivar is gewoonlik nie genoeg om doeltref­fend te selfbestuif nie, daarom word meer as een kultivar geplant sodat die bome deur die wind kruisbestuif kan word. Wichita is die enigste kulti­var wat doeltreffend kan selfbestuif aangesien die oorvleuelingstydperk van die mannetjie- en wyfieblomme lank genoeg is.

Pekanneute is ‘n gewilde snoephappie. (Bron: Pixabay)

Oestyd

Die ryp neute word, afhangend van die streek, tussen Junie en Augustus geoes wanneer die bome dormant is. “Die oestyd hang ook af daarvan of diefstal in die omgewing voorkom, want dan word die neute vroeër geoes.” Diefstal vind gewoonlik in die nag plaas wanneer mense inkom en neute van die grond af optel of van die bome af pluk. Dit gebeur merendeels waar ՚n digbewoonde buurt naby die boorde geleë is.

Wanneer die blare vergeel, is die vrugte ryp en die meeste lobbe oopge­breek om die kenmerkende bruin-en-swart neutedop ten toon te stel, maar nie al die kultivars word gelyk ryp nie.

Die neute word geoes deur die bome te skud met ՚n ’n spesiale toestel wat aan ’n trekker gekoppel word. Die neute reën saam met die geel blare neer. ՚n Sterk waaier wat aan ’n tweede trekker gekoppel is, blaas die blare, takkies en dowwe (leë) neute onder die tweede ry bome in, sodat die bruikbare neute onder die boom wat geskud is bly lê. Vier heeltydse werkers word in­gespan om die trekkers en die toerusting te hanteer, terwyl twintig tydelike werkers agter die trekkers aanloop en die neute optel. Een hektaar word só per dag geoes.

Neute wat op die grond in die boord lê kom niks oor nie, tensy die yster­varke hulle bykom. ՚n Heining om die boord word met klippe toegepak sodat die ystervarke nie onderdeur kan grawe nie, maar hulle kry dit tog soms reg!

Die neute word in 50 kg-sakke ver­pak en na ՚n verwerkingsaanleg by SA Pecans by Hartswater in die Noord-Kaap vervoer. Daar word die neute verwerk vir die plaaslike en oorsese mark.

Christoph Strydom boer met pekanneute by Mount Hope in die Oudts- hoorndistrik van die Klein-Karoo.

Mark toe

Christoph meen die neute het ՚n geweldige groeipotensiaal, veral in die Oosterse lande.

Die neute se prys word deur die rand-dollar-wisselkoers bepaal. Ses jaar gelede (in 2016), toe die wisselko­ers op sowat R16/$ gestaan het, was die gemiddelde prys sowat R85/kg. Die dollarprys was toe ook goed.

In 2020 en 2021 was die gemiddelde pryse baie swak weens die Covid-pandemie, wat handel met Sjina aan bande gelê het. “My inkomste uit die pekan­neute het gedurende hierdie tydperk met 40% gedaal,” sê Christoph.

Heffing

Alle produserende pekanneutboere betaal ’n statutêre heffing en is ou­tomaties lid van South African Pe­can Nut Producers Association NPC (SAPPA). Die heffing word vir navorsing aangewend. As lid het ՚n boer toegang tot al die navorsingsinligting wat op SAPPA se webtuiste gepubliseer word.

“As jy goeie grond en ’n goeie, volhoubare bron van water en genoeg koue-eenhede het, kan jy baie sukses­vol met pekanneute in die Klein-Karoo boer,” voer Christoph aan.

Kontak Christoph Strydom by 082-633-1488 of christoph.strydom@hilbert.co.za vir meer inligting.

Die neute word geoes deur die bome te skud met ’n spesiale toestel wat aan ’n trekker gekoppel word.

Verwysingsbronne

Lötze, E., Oberholzer, S., Taylor, N.* (2020). “Investigating the potential income and future water requirements of existing pecan orchards in the Western Cape.”

Dept of Horticultural Science, Faculty of AgriSciences, Stellenbosch University, *Dept of Plant and Soil Sciences, University of Pretoria, https://www.sappa.za.org/wp-content/uploads/docs/2020/11/2020Sep-EL-NJT.pdf

South African Pecan Nut Producers Association NPC (SAPPA) https://www.sappa.za.org/

0

Deel hierdie artikel.

2 Comments

  1. sakkie gelderblom 2nd April 2023 at 21:21 - Reply

    naand se
    ek soek 100 pekaneut bome
    ek wil 100 bome in die cedeberge plant om te sien of hulle sal vat
    waar kan ek 100 koop wat so 2 tot 3 jaar oud is
    die plaas is nuwerust in die cederberge
    dankie
    sakkie gelderblom
    0767770215

Leave A Comment

0