PANNAR: Met saad en raad die boer se maat

pannar 2 maart
’n Hoogtepunt op die kalender van enige akkerbouer is PANNAR se jaarlikse Gewasextravaganzas. Vanjaar was geen uitsondering nie. Dit is die plek waar boere hulle plantpakket vir die volgende jaar deeglik kan beplan en raad en steun van die voorste saad- en landboukundiges kan vra.
Die inligtingsdiens wat by PANNAR se Gewasextravaganzas gebied word, is boonop regdeur die jaar gerieflik beskikbaar met die PANNAR Sprout-slimfoontoep wat onder meer talle plantsiektes identifiseer, oesskattings doen, saadbasters vergelyk, en plantdigtheid bepaal – sommer daar in die land.
Tydens moeilike omstandighede moet boere nog omsigtiger te werk gaan om winsgewendheid en selfs oorlewing te verseker. Nick Goble, PANNAR se besturende direkteur, belowe: “Te midde van al die onsekerhede in landbou, kan jy op PANNAR staatmaak om jou die beste internasionaal-beskikbare saadtegnologie te bring, uniek verpak vir plaaslike sukses en gerugsteun deur betrokkenheid en kundigheid om die uitdagings skouer aan skouer met die boer aan te pak.”
Soos by die Gewasextravaganza en in PANNAR se nuttige produkkatalogus gesien kan word, bied PANNAR die regte produkkombinasie vir elke gewassamestelling en boerderypraktyk. Hier is ’n paar van PANNAR se produkte waaroor boere opgewonde kan raak:
Wen met witmielies
Die keuse van ’n plantpakket is een van ’n boer se belangrikste bestuursbesluite. Die volgende eienskappe speel almal ’n rol by basterkeuse: groeiklas, opbrengspotensiaal en stabiliteit (betroubaarheid), staanvermoë, siekte- en insekteweerstand, meerkoppigheid, kop- en graaneienskappe, saadgrootte en gehalte, die baster se vereiste vir bestuur en die spesifieke eindgebruik van die oes. Die PANNAR-witbasterpakket beskik oor goeie prestasie, aanpasbaarheid en stabiliteit. Deur ʼn pakket van basters uit verskillende groeiklasse aan te plant, word risiko die beste bestuur.
PAN 3A-157:
Hierdie is PANNAR se eerste ultravinnige witbaster. Dit is ʼn besproeiingsbaster wat goed by ʼn dubbeloesproduksiestelsel inpas. PAN 3A-157 word vir al die produksiestreke onder besproeiing teen hoëplantbevolkings van 60 000 tot 80 000 plante per hektaar aanbeveel. Dit word ook op droëland vir die oostelike produksiegebiede aanbeveel. Die baster beskik oor die tipiese planttipe-eienskappe van ultravinnige basters. Dit is enkelstammig en enkelkoppig met goeie algemene siekteverdraagsaamheid. In gebiede waar noordelike blaarskroei ondervind word, word die YIELDBOOST®-swamdoderspuitprogram aanbeveel om die siekte in toom te hou.
PAN 4R-511R en PAN 4R-711BR:
Die twee basters pas in die vinnige groeiklas. Hulle is ʼn uitstekende droëlandkeuse vir al die oostelike produksiegebiede, insluitende die Noordoos-Vrystaat. Hulle presteer ook baie goed in die misgordelgedeeltes. Hierdie twee basters vul PAN 4A-111 en PAN 4B-311B, wat tans PANNAR se gewildste reeks in die oostelike produksiestreek is, goed aan. Die basters pas goed waar slegs ’n enkele mielie-oes per seisoen onder besproeiing of aanvullende besproeiing verbou word. Hulle beskik oor goeie algemene siekteverdraagsaamheid, staanvermoë, graangehalte en skepelmassa. In die produksiestreke waar blaarsiektes gewoonlik ʼn probleem is, word die YIELDBOOST®-swamdoderspuitprogram aanbeveel.
PAN 5B-485B en PAN 5R-785BR:
Die basters het MON 89034 stronkboorderweerstandsgene en pas in die baie gewilde medium-vinnige groeiklas. Hulle word deur goeie stabiliteit en meerkoppigheid gekenmerk en word veral vir die westelike droëlandproduksiestreke (Noordwes-Vrystaat, Noord-oos-Vrystaat en Noordwes) as deel van die hoofaanplanting aanbeveel. Die basters is ook goed aangepas vir die gematigde oostelike produksiestreke. BG 5685R en PAN 5R-591R is geskik as toevlugsoord vir PAN 5R-785BR. Die basters het ’n goeie agronomiese balans en toon goeie verdraagsaamheid teen kop- en pluimbrand en noordelike blaarskroei.
PAN 5A-291, PAN 5R-591R en PAN 5R-791BR:
Hierdie groep medium-vinnige basters is baie sterk meerkoppig. Hulle is goed aangepas vir al die westelike produksiestreke (Noordwes-Vrystaat, Noord-oos-Vrystaat en Noordwes) en word as deel van die hoofaanplanting aanbeveel.
PAN 6B-465B en PAN 6Q-865BR:
Die basters beskik oor MON 89034 stronkboorderweerstandsgene. Albei pas in die medium groeiklas. PAN 6B-465B is soortgelyk aan PAN 6Q-445B en PAN 6Q-345CB, terwyl PAN 6Q-865BR soortgelyk is aan PAN 6R-845CBGT. Dit is hoofsaaklik droëlandbasters wat goed aangepas is vir al die mielieproduserende gebiede. Laat plantdatums in die koel, oostelike dele moet vermy word. Die basters kan aangeplant word waar slegs ’n enkele mielieoes onder besproeiing en aanvullende besproeiing verbou word. Hierdie basters bied goeie weerstand teen diplodia kopvrot, grysblaarvlek en kop- en pluimbrand. Hulle beskik oor goeie staanvermoë en redelike goeie aluminiumverdraagsaamheid.
Geelmielies groei geil
Dit formidabele geelmieliepakket van ultravinnige, vinnige en medium basters bied ’n goeie langtermyn-risikoverspreidingstrategie. Die ultravinnige pakket handhaaf ’n uitsonderlike prestasierekord in die oostelike produksiestreke onder besproeiing en droëland. BG 3492B het weer uitstekende opbrengsprestasie onder besproeiing in die LNR-proewe behaal. PAN 5A-182 is ’n nuwe medium-vinnige baster wat besonder goed in die LNR-proewe vir die oostelike produksiestreek gepresteer het. Die medium-pakket handhaaf ’n uitstekende prestasierekord in die oostelike en westelike produksiegebiede.
PAN 4B-376B:
Die baster het MON 89034 stronkboorderweerstandsgene. Dit pas in die vinnige groeiklas en is soortgelyk aan PAN 4R-776BR. Dit is by uitstek ʼn droëlandbaster wat goed in die produksiegebiede van die Sentrale Hoëveld, Oos-Vrystaat en die koel dele van KwaZulu-Natal aangepas is. Dit pas goed in waar slegs ’n enkele oes van mielies onder besproeiing of aanvullende besproeiing verbou word. Dit toon goeie weerstand teen phaeosphaeria blaarvlek. Dit het ’n goeie staanvermoë en toon geen sensitiwiteit teenoor sulfonielureum nie. Hierdie baster het ʼn risiko vir noordelike blaarskroei (NCLB). Die YieldBoost®-swamdoderspuitprogram word in gebiede waar blaarsiektes voorkom aanbeveel om die produksiepotensiaal te behou.
PAN 4A-172 en PAN 4R-672R:
Hierdie opwindende nuwe, vinnige geelbasters is ʼn uitstekende keuse vir die oostelike produksiestreke, insluitende KwaZulu-Natal. PAN 4A-172 het homself die afgelope twee jaar onderskei deur koning te kraai in PANNAR se baster-evaluasieproewe. Die basters bied goeie agronomiese balans en is by uitstek enkelkoppig. Koppe word laag gedra en staanvermoë is baie goed. In gebiede waar noordelike blaarskroei ondervind word, word die YIELDBOOST®-swamdoderspuitprogram aanbeveel.
PAN 5A-182:
Dié konvensionele medium-vinnige baster het die topprestasie in die LNR se proewe in die oostelike produksiestreek vir 2015/2016 behaal. Dit presteer baie goed en is goed aangepas vir al die produksiestreke op droëland of onder besproeiing. In die Noordwes-produksiegebiede word dit net vir aanplanting op hoëpotensiaalgrond aanbeveel. Dit lewer uitstekende gehalte, blink graan en bied uitstekende algemene siekteverdraagsaamheid, veral goeie blaarsiekteweerstand.
PAN 6B-410B en PAN 6R-710BR:
Die basters het MON 89034 stronkboorderweerstandsgene en dieselfde genetiese agtergrond as PAN 6Q-408CB. Hulle lewer baie goeie resultate, met goeie stabiliteit in die oostelike en westelike produksiestreke. Hulle word as deel van die hoofaanplanting op droëland aanbeveel, maar daar moet streng by die aanbevole plantestand vir die betrokke produksiestreek gehou word. Te digte plantbevolkings kan die reeks se prestasie benadeel. Die basters is ʼn goeie keuse vir graan- en kuilvoerproduksie of weimielies. Hulle pas ook goed in waar slegs ’n enkele oes van mielies onder besproeiing en aanvullende besproeiing verbou word. Hulle het goeie weerstand teen roes en noordelike blaarskroei (NCLB) en beskik oor goeie staanvermoë en droogteverdraagsaamheid. Hulle toon nie sensitiwiteit vir sulfonielureum teen die aanbevole dosis nie.
Mik hoog met sonneblombasters
PANNAR handhaaf ’n uitstekende prestasierekord in die LNR se nasionale proewe. Die afgelope twee jaar het PANNAR ses uit die top tien sonneblombasters in die LNR-proewe gelewer. Die PANNAR-sonneblombasterpakket presteer goed in al die sonneblomproduksiestreke van Suid-Afrika en lewer goeie, stabiele prestasie vir uitstekende risikobestuur. Boere kan met groot gemoedsrus en vertroue PANNAR se sonneblomreeks aanplant met die wete dat die beste tegnologie in hierdie basters opgesluit lê.
PAN 7160CLP:
Hierdie drierigtingkruisbaster bevat die verbeterde CLEARFIELD® PLUS-eienskap met die voordeel van goeie onkruidbeheer. Die baster is geskoei op die konvensionele baster, PAN 7100, en beskik oor dieselfde goeie opbrengspotensiaal en stabiliteit as die konvensionele basters. PAN 7160CLP was die afgelope seisoen die nommer-een CLEARFIELD® PLUS-baster in die LNR-proewe. PANNAR se reeks basters met die CLEARFIELD® PLUS-eienskap ding kop aan kop mee met die konvensionele staatmakers om ʼn alternatiewe keuse in gewasverbouing te gee. EURO-LIGHTNING®-onkruiddoder (L8436, aktiewe bestanddeel: Imasapir en Imasamoks) bied doeltreffende na-opkomsbeheer van ʼn breë spektrum gras- en breëblaaronkruide. Die ingeboude onkruiddoderweerstand is ’n natuurlike mutasie; die basters is gevolglik nie geneties gemodifiseer nie en alle sonneblombasters is GMO-vry.
HOË-OLEÏENSUURBASTER
Die PANNAR-pakket sluit ʼn hoë-oleïensuurbaster (hoë mono-onversadigde olie-inhoud) in vir die produksie van gesonder olie wat beter vir diepbraai geskik is. Dié tipe olie is besig om ’n toenemende rol in Europa en die VSA te speel as ’n gesonder alternatief.
PAN 7158HO:
Die mediumseisoenbaster is goed aangepas vir al die sonneblomproduksiestreke. Dit lewer ʼn oleïeninhoud van 80% en hoër vir gesonder olie. Die baster is geskoei op die genetiese model van PAN 7080 en is hoogs mededingend met die konvensionele reeks basters. Dit het ʼn baie egalige planttipe.
Sojabone: ’n dawerende deurbraak
PANNAR se veelsydige sojaboon-pakket bied ongeëwenaarde stabiliteit by verskillende opbrengspotensiaalvlakke en in verskillende produksiestreke. PANNAR het toegang tot die beste kommersiële sojaboonkultivars, hetsy dit plaaslik of in die buiteland ontwikkel is. PANNAR se beleid is om die beste moontlike kultivars in die Suid-Afrikaanse mark vry te stel, ongeag van waar hulle afkomstig is. Die LNR se nasionale kultivarproefresultate vir 2015/16 illustreer dit goed. PANNAR-kultivars behaal die topposisie in die koel, gematigde en warm produksiestreke, asook die algehele topposisie. PANNAR maak dus skoonskip! Hierdie voortreflike prestasie word ook in PANNAR se interne proefresultate weerspieël. PAN 1664R, waarskynlik die gewildste sojaboonkultivar in die geskiedenis in Suid-Afrika, kon net daarin slaag om tiende posisie onder die nuwer variëteite in PANNAR se proewe te behaal. Die topkultivar (PAN 1521R) het in elf gebiede gemiddeld 290 kg/ha meer as PAN 1664R gelewer. Met hierdie nuwe reeks is ʼn omvangryke sprong in genetiese potensiaal ondervind. PANNAR se pakket bied ’n volledige reeks groeiklasse wat aan byna alle plantdatum- en produksiegebiedkombinasies voldoen.
PAN 1532R:
Die kultivar pas in die medium-groeiseisoenklas en is ʼn uitstekende keuse vir die koel en gematigde droëlandstreke asook onder besproeiing. Dit lewer baie goeie en stabiele prestasie in al die produksiestreke. Onder besproeiing is dit die eerste keuse vir ’n koring-sojaboonwisselboustelsel. Die kultivar is ʼn regop planttipe en is goed aangepas vir hoë plantbevolkings en nouryproduksietoestande. Dit het baie goeie staanvermoë en stroop maklik.
Graansorghum staan sterk
PANNAR se sorghum-teelprogram word reeds vir meer as 30 jaar bedryf en is een van die oudste programme in die wêreld. Die moutmark het die afgelope tien jaar só afgeneem dat daar besluit is om die graderingstelsel van sorghum aan te pas. In die ou graderingstelsel was drie klasse, naamlik GM, GL en GH (klas GM en GL het geen tannien bevat nie, terwyl die GH-klas tannien bevat). Die GM-klas het slegs basters met hoë moutwaardes ingesluit, terwyl die GL-klas slegs geskik was vir veevoer. Die stelsel is nou verander en die GM- en GL-klas is saamgegooi in die GM-klas. Die nuwe GM-klas het niks te doen met moutwaardes nie, maar sluit alle basters in wat nie tannien bevat nie.
PAN 8945:
Die medium baster word as hoofaanplanting op droëland en onder besproeiing vir al die graansorghumproduksiestreke aanbeveel. Dit gradeer GM en is spesifiek vir die maalbedryf en vir etanolproduksie geskik. PAN 8945 het ʼn baie egalige groeiwyse en goeie aarlengte. Die sade is groot en helder oranje, en lewer goeie skepelmassa. Dit het ’n uitstekende staanvermoë en algemene blaarsiekteverdraagsaamheid en vertoon goeie weerstand teen aarbrand en fusarium. Dit kan vroeg aangeplant word, want dit verdra koue goed.
’n Vuisvol inligting:
Die gratis aflaaibare PANNAR® Sprout™ toepassing (app) vir selfone:
Die PANNAR® Sprout™ mobiele toepassing (app) plaas boerdery by jou vingers. Sodra dit afgelaai is, kan die toepassing van lyn af funksioneer en is ideaal vir gebruik in die lande. Wat meer is, die toepassing ontwikkel voortdurend om aan die behoefte van ons boere te voldoen en is daar altyd iets nuuts en nuttig aan‘t kom om boerdery nog meer te vereenvoudig. Dit is ’n moet-hê vir alle graanboere.
Die volgende toepassings is beskikbaar:
- Nuus en kennisgewings
- Alle PANNAR-saadprodukte
- Vind ʼn PANNAR-verteenwoordiger
- Volledige oorsig van siektes
- Siekte-identifikasie
- Rekenaars en hulpmiddels
- Mieliebastervergelykings
- Beraamde opbrengsberekening
- Mees geskikte mieliebaster
- SAFEX-pryse
- Plantestandaanbevelings
- Omskakeling van verskillende eenhede
- Omskakeling van geldeenhede
- Oorplantrekenaar – ekonomies regverdigbaar
Vir meer inligting, kontak jou naaste PANNAR-verteenwoordiger of besoek www.pannar.co.za.