P1225PW presteer goed in die gematigde Oostelike area van die Oranjerivier besproeiingsgebied

Picture2
Foto 1: P1225PW onder vol besproeiing in die Oranjerivier besproeiingsgebied met goeie blaargesondheid.
Die baster P1225PW is in die 2023-24 seisoen die eerste keer in strookproewe aangeplant, en het goed presteer in ‘n vroëe proef in die Luckhoff area teen bewese besproeiingsbasters. Die kultivar is aanvanklik ontwikkel vir die Oostelike produksie areas, maar word ook meer Wes aangewend, asook in proewe getoets vir aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal.
Die basisgenetika word reeds vir die afgelope 2 seisoene aangeplant en toon goeie aanpasbaarheid in die koeler gedeeltes van die Westelike besproeiingsarea. Die PowerCore™ weergawe maak die platform volledig, en bied weerstand teen veral Busseola fusca en Chilo partellus asook die gerief van Roundup toediening aan produsente. Figuur 1 toon die opbrengste aan wat behaal is met ‘n plantdatum van 4 Oktober 2023.

Figuur 1. Luckhoff proefopbrengste (t/ha) in die basis van die histogram met die vog persentasie tydens stroop bo.
Behandelings
Die proef is bemes teen 333 kg stikstof (N), 65 kg fosfor (P) en 113 kg kalium (K). Die plantestand was 95 000 pitte/ha en vol besproeiing is toegepas. Die stroopdatum was 7 Maart 2024.

Foto 2. Graan van P1225PW.
Opbrengspotensiaal en graankwaliteit
Die kultivar besit uitstekende opbrengspotensiaal met baie goeie graankwaliteit soos Foto 2 aantoon. Die kultivar pak baie rye op ‘n dun stronk wat die goeie opbrengs tot gevolg het.
Kophoogte tot plantgrootte verhouding
Die koppe word op ± 48% van plantgrootte gedra onder besproeiing. Dit maak die kultivar heeltemal aanvaarbaar vir besproeiing. Plante wat te hoog dra onder besproeiing kan omvalrisiko vergroot. Die plantgrootte van 2.44m is aanvaarbaar vir besproeiing. Hoe later die plantdatum gewoonlik aangeskuif word, hoe hoër sal die koppe gedra word.
Staanvermoë
P1225 en P1225PW besit ‘n goeie staanvermoë op droëland en onder besproeiing.
Baarsiekte-weerstand
P1225 besit die Ht-N geen wat verantwoordelik is vir goeie blaarsiekte weerstand (sien Foto 3). Hier kan gesien word hoe die plantweerstand veroorsaak dat ‘n geel afsnylaag om die Noordelike blaarskroei letsel vorm, en dit isoleer om nie verder te versprei nie. Die besmette plantweefsel binne sterf wel af, maar die siekte verspreiding word beperk.

Foto 3: Nekrotiese Noordelike blaarskroei letsel op P1225 blaar wat weerstand teen die siekte demonstreer.
Verwysings
Corteva Agriscience – Pioneer Agronomy.
Kontak gerus die Pioneer Landboukundige in u gebied vir kundige advies en aanbevelings.