Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 18th August 2025

OVK wys meer krag en minder brandstofverbruik by Arlington Boeredag

By 5 min read
1019 words

IMG_4917

Die Arlington Boeredag wat plaasgevind het op 23 Julie 2025, het gewys dat nie eens nat weer ՚n boer se belangstelling in tegnologie kan demp nie. Met 25 mm reën die vorige nag, moes die verrigtinge noodgedwonge verskuif word na ՚n droër gedeelte van die plaas. Besoekers kon egter steeds die trekkers in aksie sien, en verteenwoordigers het waardevolle insig gedeel oor die tegnologie agter elke model.

Vanuit die AGCO-stal het daar vier indrukwekkende trekkers die groep verteenwoordig naamlik die Fendt 728 Vario Gen7, Fendt 1162 Vario MT, Massey Ferguson se MF 8732 S, MF 8S.265, en MF 7S.180. Wimpie Nel van OVK Bethlehem het die besonderse eienskappe van elk van hierdie modelle uitgewys.

Fendt 728 Vario Gen7: Volledige outomatisering, ongelooflike brandstofdoeltreffendheid

Die Fendt 728 Vario Gen7 is ՚n 211 kW trekker wat met DynamicPerformancetegnologie toegerus is, wat addisionele krag lewer wanneer die trekker dit nodig het, sonder ekstra brandstofverbruik. Die AGCO Power 7,5-liter ses-silinder enjin werk volgens Fendt iD se lae-revolusiekonsep wat maksimum wringkrag teen slegs 1 300 rpm lewer en ‘n brandstofdoeltreffende maksimumspoed teen 1 700 rpm.

Die VarioDrive-transmissie is ՚n outomatiese vierwielaandrywingstelsel wat self die kragbalans tussen die voor- en agteras optimaliseer na gelang van die trekker se werksomstandighede. Dit beteken dat die trekker seepglad oorskakel tussen veldwerk (soos ploeg) en padvervoer sonder enige aksie van die bestuurder. Dit verhoog nie net werkdoeltreffendheid nie, maar beskerm ook die meganika teen onnodige spanning. Met ՚n minimum gewig van net oor die 8 ton en die vermoë om tot 15 ton te trek, lewer die 728 Vario ՚n kraggewigverhouding van wêreldgehalte.
In onafhanklike toetse het die model gemiddeld 10 tot 15% minder brandstof gebruik as sy mededingers in dieselfde kragklas.

Fendt 1162 Vario MT: Rusperbandkrag vir die groot werk

Hierdie masjien is die grootste trekker in die Fendt-reeks. ՚n Rusperbandtrekker wat meer as 500 kW lewer danksy ՚n MAN 16,2-liter enjin. Wat hom onderskei, is die CVT (Continuously Variable Transmission), uniek onder rusperbandtrekkerks, wat hom van 0 tot 40 km/h seepglad laat werk.

Die Fendt 1100 Vario MT-reeks is spesiaal ontwerp vir hoëkrag veldtoepassings soos swaar ploeë en skeurploeë. Sy SmartRideveringstelsel en ConstantGripruspervering verseker maksimum gronddrukverdeling wat hom geskik maak vir swaardiensgrondbewerking met minder verdigting. Ondanks sy grootte en krag, is die brandstofverbruik merkwaardig laag danksy die Fendt iD-konsep. By vol vrag kan dié trekker dieselfde werk as ՚n groter wieltrekker verrig teen ՚n laer brandstofkoste per hektaar.

Massey Ferguson 8732 S: Krag en eenvoud in een pakket


Die MF 8732 S is deel van Massey Ferguson se 8700 S-reeks, en bied 238 kW met ՚n maksimum wringkrag van 1 280 Nm. Die 8,4-liter AGCO Power-enjin voldoen aan vlak 2-emissiestandaarde, wat dit perfek maak vir die Suid-Afrikaanse mark sonder ingewikkelde uitlaatstelsels.

Die trekker is toegerus met ՚n Dyna-VT transmissie, wat presiese spoedbeheer in enige werksomstandighede moontlik maak. Hierdie model bied ՚n hoë hidrouliese kapasiteit met ՚n maksimum vloei van 205 liter per minuut wat ideaal is vir groot implement-werk soos hoëspoedplanters of strooiers.

Boere waardeer die betroubaarheid van die 8732 S, veral in streekstoestande waar robuuste werkverrigting en lae loopkoste noodsaaklik is. Wimpie brei uit oor die betroubaarheid van die trekker: “Nadat ek hom by die boer afgelaai het sien ek die boer nie weer behalwe wanneer die trekker sy gereelde diens moet kry nie. Die trekkers breek nie.”

Massey Ferguson 8S.265: Vernuwende ontwerp, doeltreffende enjin


Die MF 8S.265 het ‘n 7,4-liter AGCO Power-enjin wat 197 kW lewer, met ՚n EPM-kragverhoging tot 212 kW indien nodig. Die trekker se unieke ontwerp, met ՚n 24 cm skeiding tussen enjin en kajuit, beperk hitte en geraas wat by die bestuurder uitkom, en verleng ook die lewensduur van komponente. Dit maak die trekker nie net langdurig nie, maar ook uiters gemaklik vir die bestuurder se lang dae in die lande.

Die model beskik oor die nuwe Dyna E-Power-transmissie – ՚n dubbele kragkoppelaarstelsel wat brandstofverbruik verder verbeter en kragoordrag optimaliseer. Hierdie ratkas verminder verliese wat normaalweg aan konvensionele ratkaste verbonde is met tot 26%, en bied steeds die eenvoud van ‘n semi-outomatiese stelsel. Die MF 8S het ook ‘n hoogs aanpasbare hidrouliese stelsel wat hom geskik maak vir ‘n wye reeks implemente. Dit is ՚n moderne, slim trekker wat presisieboerdery perfek aanvul vertel Wimpie.

Massey Ferguson 7S.180: Die regte balans vir mediumgroot boerderye


Die MF 7S.180 lewer 135 kW en is gemik op boere wat hoë werkverrigting soek in kleiner trekker modelle. Die trekker gebruik dieselfde AGCO Power-enjinreeks as die 8S, met EPM-ondersteuning tot 150 kW kan lewer wanneer dit nodig is.

Met ՚n kompakte bou en relatief lae gewig is die 7S.180 geskik vir gemengde boerderye en kontantgewastake, en is dit maklik om te versien én te onderhou. Waarom AGCO bo uitstaan in ՚n kompeterende mark.

Doeltreffende enjins met lae verbruik:

AGCO se eie AGCO Power-enjins is ontwikkel met ՚n duidelike fokus op wringkrag teen lae omwentelings per minuut. Dit verseker laer brandstofverbruik en minder slytasie op onderdele sonder dat werkverrigting ingeboet word.

Gevorderde transmissies:

Van Fendt se VarioDrive en Massey Ferguson se Dyna E-Power tot traplose stelsels is elke transmissie ontwerp om brandstofverbruik tot ՚n minimum te beperk sonder om werktempo in te boet. “Ek praat aspris van ‘n transmissie, want die tegnologie is al so gevorderd dat dit lankal soveel meer is as ‘n ratkas,” vertel Wimpie.

Ligter bou en slim gewigverspreiding:

Minder grondverdigting, beter wendbaarheid, en groter trekkrag per liter diesel Dit bring produksiekoste af en beskerm die grond wat beteken dat dit boere help om hoë insetkostes teen te werk maak nie saak watter tipe bewerkingsmetodes hulle verkies nie.

AGCO se teenwoordigheid by die Arlington Boeredag het duidelik gewys hoekom hulle wêreldwyd en plaaslik boere se vertroue geniet. Elke trekker wat vertoon is, kombineer krag, tegnologie en kostedoeltreffendheid op ՚n wyse wat aanpas by Suid-Afrika se unieke landbouvoorwaardes. Vir enige boer wat sy bedryf ernstig opneem, is Fendt en Massey Ferguson meer as net trekker handelsmerke – dit is beleggings in volhoubare produksie.

Wimpie Nel, bemarker by OVK Bethlehem vertel die besoekers by Arlington meer oor die AGCO aanbod wat op die dag teenwoordig was.

Vir enige verdere navrae kan Wimpie Nel by OVK Bethlehem telefonies gekontak word by (+27)79-497-6015 of stuur vir hom ‘n e-pos by wimpien@ovk.co.za, of volg die OVK groep op sosiale media om op hoogte te bly van hulle nuutste aanbiedings.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0