Categories: NuusPublished On: 30th June 2025

Opwindende nuwe elemente beloof ‘n onvergeetlike ervaring by NAMPO Kaap 2025

By 3 min read
637 words

nampo kaap

NAMPO Kaap keer van 10 tot 13 September 2025 terug na Bredasdorp Park en beloof om met ’n hele rits nuwe en opwindende funksies die mees dinamiese ekspo nóg aan te bied. Van sportaksie tot vee-uitstallings, lugbesigtiging tot kosmarkte – die program vier landbou, tegnologie en gemeenskap op sy beste.

“NAMPO Kaap groei voortdurend as ’n platform waar landbou-innovasie, tradisie en uitnemendheid bymekaarkom,” sê Dirk Strydom, Besturende Direkteur van NAMPO (Edms) Bpk. “Saam met Bredasdorp Park NPC bied ons vanjaar ’n verfrissende ervaring wat produsente, landboukundiges en gesinne verbind met die nuutste ontwikkelings wat ons sektor se toekoms vorm.”

Uitgebreide toegang en parkering

Om voorsiening te maak vir die toenemende getalle besoekers, is die parkeerterrein met 7 hektaar uitgebrei tot ’n totaal van 13 hektaar. ’n Nuwe ingang naby die Neptun-saal sal toegang en verkeersvloei verbeter.

Nuwe sporthoogtepunt: Tentpegging internasionaal

Die Western Cape Lubricants-arena is opgradeer om pensteek aan te bied – ’n hoëspoed ruitersport waar ruiters swaard- en lansvaardighede vertoon. ’n Internasionale kompetisie tussen Suid-Afrika en Australië sal beslis ’n hoogtepunt wees.

Uitgebreide lewendehawe tent

Die nuwe Landbank Lewendehawe Tent, nou langs die BKB Lewendehawe Sentrum, huisves 35 uitstallers. Nuwe telers sluit in Île-de-France-, Suffolk- en Persiese skaaprasse, sowel as Limousin- en Chianina-beeste.

Lugbesigtiging: Helikopterritte

Overberg Aviation bied ritte van 3 tot 30 minute aan in Bell 206 Jet Rangers of Robinson R44s – vir asemrowende lugfoto’s van NAMPO Kaap en die Overberg.

Merino Classic keer terug & vagskou maak debuut

Merino SA bring die BKB Merino Classic weer terug op 11 en 12 September ná ’n afwesigheid van drie jaar, met meer as 300 inskrywings van stoet- en kommersiële boere verwag. Die BKB Nasionale Merino Vagskou sal ook vanjaar vir die eerste keer aangebied word – met die fokus op die sagte en fyn eienskappe van Merinowol.

Tentverblyf op die terrein

Vir die eerste keer is daar luukse en standaard tente vir tot 150 mense beskikbaar op die terrein. Geriewe sluit in privaat parkeerplek, 24/7 sekuriteit, ’n kuier-tent en toegewyde ablusies. Minimum bespreking van vier nagte via Antionette Events: admin@antoinetteevents.co.za

Fokus op die Boerboel

Op Saterdag 13 September sal die Suid-Afrikaanse Boerboel Telersgenootskap hul Wes-Kaap Kampioenskappe aanbied met 100 geregistreerde Boerboele wat in die arena meeding. Kenners en telers sal ook in die Landbank Lewendehawe Tent beskikbaar wees vir gesprekke oor dié unieke Suid-Afrikaanse ras.

Neptun Deli maak sy debuut

Die voormalige Neptun-saal word omskep in die Neptun Deli – ’n kulinêre kuierplek met wyn, droëvrugte, olywe en handgemaakte produkte. Die gewilde Napier Garden Café bly steeds op dieselfde plek oop vir iets te drink, eet of net ’n bietjie rus.

Landbou inligting en strategiese samesprekings

Gereorganiseerde landbou speel steeds ’n sleutelrol in ondersteuning aan produsente. Lede van Graan SA, Vinpro, die Rooivleisprodusente-organisasie en die Melkprodusente-organisasie kan strategieë bespreek in die Santam Ouditorium. SA Stamboek sal gesprekke lei oor teeluitnemendheid in melkbeeste, vleisbeeste en kleinvee.

“NAMPO Kaap is ’n trotse samewerkingsprojek tussen Bredasdorp Park NPC en Graan SA,” sê Henk Aggenbach, Voorsitter van Bredasdorp Park NPC. “Vanjaar se toevoegings en verbeterings reflekteer die idees en behoeftes van ons landbougemeenskap. Ons sien daarna uit om besoekers te verwelkom na wat ons glo die beste ekspo nog gaan wees.”

Beskermde groenteproduksie seminaar

Die seminaar oor Beskermde Groenteproduksie bring kenners bymekaar om die volgende onderwerpe te bespreek:

  • Volhoubare waterbestuur
  • Grondlose boerdery-innovasies
  • Geïntegreerde plaag- en siektebeheer
  • Presisieboerdery en kweekhuis-tegnologie
  • Bemagtiging van opkomende boere
  • Markneigings en waardetoegevoegde geleenthede

Kaartjies en ure

Toegangskaartjies is vanaf 1 Julie 2025 aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za, met afslag op toegangsfooie vir aanlynaankope, teen R100 vir volwassenes. Kaartjies sal by die hekke te koop wees teen R110 vir volwassenes en R50 vir kinders. Voorskoolse-kinders kry gratis toegang.

Ekspo Ure:
10 – 12 September: 08:00 – 17:00
13 September: 08:00 – 14:00

Laai die 2025 NAMPO Kaap tema-ontwerpe hier af

Vir meer inligting besoek www.nampokaap.co.za, kontak Chrystal van Wyk by 028-050-1385 of stuur ‘n e-pos aan admin@expo.org.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0