Opvolger bou voort op Yara Suid-Afrika se sukses

vecteezy_two-farmers-shaking-hands-in-a-field-of-crops-symbolizing_71119652
Ig Ferreira, voormalige streekdirekteur in Suid-Afrika van Yara, het na 42 jaar in die industrie afgetree. Die dinamiese leier sê “landbou is in my gene”. Hy beklemtoon die waarde van verhoudings, hetsy met kliënte, kollegas, die bedryf of landbou-organisasies.
Ferreira sê ook die passie, integriteit en deursettingsvermoë van Suid-Afrikaanse boere is “merkwaardig en
ongeëwenaard”. Ferreira is egter beskeie oor die uitsonderlike rol wat hy oor dekades heen by Yara vertolk het.
“Ek beskou myself nie noodwendig as ’n leier nie, eerder ’n dienaar wat die klippe uit die pad rol sodat die mense wat meer weet as ek, hul ooreengekome doelwitte kan bereik.”
Wikus Grové, voorheen die finansiële direkteur van Yara se hele Afrika-afdeling, het die leisels by Ferreira oorgeneem. “Ek is baie opgewonde dat hy my opvolger is,” sê Ferreira.
Deur Ferreira se nalatenskap van integriteit, aanpasbaarheid en klem op verhoudings te verbind met Grové se industriekennis, begin ՚n nuwe hoofstuk vir Yara Africa Fertilizer, een waarin die fondamente sterk is en die vooruitsig vir vernuwing en voortgesette groei opwindend bly.
Grové het meer as 10 jaar se leierskapservaring in finansies, strategie en transformasie binne die landboubedryf regoor die Afrikakontinent. Sy loopbaan by Yara getuig van strategiese insig, aanpasbaarheid en ՚n diep begrip van die uitdagings én potensiaal van landbou in Afrika, en hy bring kundigheid en ervaring na die pos.
“Suid-Afrika bevind hom op ՚n deurslaggewende plek in die landbougeskiedenis.”
Onder sy leiding is nuwe modelle geïmplementeer wat Yara se veerkragtigheid en prestasie versterk het, en die maatskappy se bedrywighede in lyn gebring het met Yara Afrika se langtermynstrategieë. Sy werk het die grondslag gelê vir groter doeltreffendheid, innovasie en volhoubare groei. Grové het ook verskeie belangrike
samesmeltings en ‘acquisition’-projekte oor die vasteland bestuur wat Yara se teenwoordigheid in die streek verder uitgebrei en geïntegreer het.
Sy gebalanseerde leierskapstyl wat finansiële dissipline kombineer met strategiese vooruitdenke, het Yara gehelp om uitdagende marktoestande te navigeer en nog sterker te maak. Yara Afrika is van mening dat Grové se leierskap die maatskappy sal help om ՚n nuwe era van groei en impak te betree, in lyn met sy streeks- en globale doelwitte.

Wikus Grové, Yara se nuwe besturende direkteur vir Suid-Afrika.
’n Nuwe fase vir Yara Africa Fertilizer
In sy nuwe hoedanigheid as besturende direkteur sal Grové verantwoordelik wees vir al Yara Africa Fertilizer se bedrywighede, met die fokus op besigheidsgroei, operasionele doeltreffendheid en die konsolidering van bestaande aanlegte. Hy sal voortbou op Yara se missie om volhoubare herlewingslandbou in Suid-Afrika en die res van die streek te bevorder.
“Suid-Afrika bevind hom op ’n deurslaggewende plek in die landbougeskiedenis,” sê Grové. “By Yara Suid-Afrika fokus ons daarop om gebalanseerde oplossings vir gewasvoeding te bied, ons bedrywighede te optimaliseer en strategiese vennootskappe te vorm wat toegang tot insette, asook landboutegnologie en markte verbreed.
“Deur kundigheid, innovasie en samewerking te kombineer, kan ons produsente bemagtig, produksie verbeter, waardekettings versterk en winsgewendheid en volhoubare groei oor die lang termyn dryf.”
“Ons wil nie net deel wees van die gesprek oor volhoubare landbou nie — ons wil die gesprek lei.”
Meer as drie dekades betrokke in Afrika
Yara, wat groot kommersiële en kleinskaalse boere ondersteun, is reeds ongeveer 40 jaar lank in Afrika aktief
en het hom as ’n betroubare vennoot in landbou-ontwikkeling gevestig. Deur kundige advies, moderne tegnologie en produkte van hoë gehalte bevorder Yara produsente se winsgewendheid en help om volhoubare sakepraktyke te ontwikkel.
Yara se plaaslike span werk nou saam met verspreiders, insetverskaffers en ander belanghebbendes om die landbousektor te versterk met ՚n kernfokus op kennis, innoverende tegnologie en samewerking.

Ig Ferreira
Yara AllFarm™: digitale ondersteuning vir volhoubaarheid
Een van Yara se toonaangewende oplossings is Yara AllFarm™ – ‘n geïntegreerde ekosisteem wat produsente, insetverskaffers en ander belanghebbendes in staat stel om doeltreffende besluitneming en bestuur te bewerkstellig wat terselfdertyd die produsent in staat stel om winsgewendheid, omgewingvriendelikheid – en volhoubaarheid na te streef.
AllFarm™ kombineer met die druk van ՚n knoppie presisiedata, aanlyn bestuursfunksies en marktoegang
in ՚n gebruikersvriendelike platform wat oplossings vir ekonomiese volhoubaarheid, produsentwelvaart en respek vir die omgewing bied. In ՚n wêreld wat vinnig verander, beklemtoon Yara dat aanpasbaarheid en volhoubaarheid hand aan hand moet gaan.
AllFarm™ ondersteun produsente met intydse besluitneming op vinnig veranderende omstandighede. Verder ondersteun dit kosteeffektiewe besluitneming binne ‘n volhoubare raamwerk. AllFarm™ se slagspreuk, “shaping the future”, wat ՚n getuigskrif is van Yara se toewyding aan innovasie en kliëntgerigte oplossings wat die toekoms van landbou vorm.
Gewasvoeding
Yara se plantvoedingoplossings is beskikbaar in korrel-, vloeibaar- en wateroplosbare vorme en sluit ook spoorelemente en biostimulante in. Dit voorsien plante van al die noodsaaklike voedingstowwe wat vir optimale groei nodig is, waaronder stikstof, swael, fosfaat en kalium, sowel as ՚n reeks mikrovoedingstowwe. Hierdie produkte wat volg op eeue se navorsing en tegnologiese ontwikkeling, word wêreldwyd erken vir hul deurlopende kwaliteit en doeltreffendheid. Die veiligheid en welstand van werknemers, kontrakteurs, sakevennote en die gemeenskap bly altyd ՚n prioriteit.

՚n Erfnis van innovasie en impak
Yara is in 1905 gestig om die voedseltekorte in Europa aan te spreek en het sedertdien ontwikkel tot ՚n wêreldleier in plantvoeding. Vandag beskik Yara oor sowat 17 000 werknemers en bedryf aktiwiteite in meer as 60 lande wêreldwyd.
Die pad vorentoe
Onder Wikus Grové se leiding sal Yara Africa Fertilizer voortgaan om innovasie, doeltreffendheid en volhoubaarheid te kombineer om produsente en die breër landbousektor te versterk. Met sy stewige finansiële agtergrond, strategiese insig en passie vir Afrika se landboupotensiaal, is Grové goed geplaas om Yara Africa Fertilizer in ՚n tyd van transformasie en groei te lei.
“Ons wil nie net deel wees van die gesprek oor volhoubare landbou nie,” sê Grové.
“Ons wil die gesprek lei saam met boere, verspreiders en gemeenskappe wat glo dat die toekoms van voedselproduksie verantwoordelik, slim en samewerkend moet wees.”
Met hierdie nuwe aanstelling begin Yara Africa Fertilizer ՚n belowende nuwe hoofstuk waarin tradisie en innovasie hand aan hand loop om die wêreld verantwoordelik te voed en die planeet te beskerm.