Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 16th May 2023

Op die voorvoet teen laatroes

By 3 min read
605 words

syngenta logo

Laatroes kom selde op Suid-Afrikaanse aartappels voor, maar is veel meer aggressief as die bekende en meer gereelde vroeëroes. Syngenta se siekterisikodiens (sien: https://www.syngenta.co.za/service/weather-and-risk-map-service) help om hierdie verwoester te stuit.

Roes is ‘n konstante kopseer vir aartappelprodusente. In Suid-Afrika is vroeëroes die groot sondebok en produsente weet dat ‘n voorkomende spuitprogram ‘n gegewe is om hierdie siekte wat in warm, klam toestande floreer, te beheer. Laatroes, daarenteen, het koeler nat weer nodig en is meer algemeen in die Europese klimaat. Die feit dat kultivars wat hier verbou word, uit Europa ingevoer word en geteel is om laatroesbestand te wees, beskerm Suid-Afrikaanse produsente teen hierdie siekte.

“Dit is waar tot ’n groot mate, maar nie ‘n waterdigte waarborg nie,” sê André Labuschagne, bemarkingsbestuurder (Aartappels en Subtropiese Vrugte) van Syngenta. “Laatroes kom gewoonlik in April/Mei in Limpopo en die Sandveld voor, en in Augustus/September op die Hoëveld en Limpopo wanneer toestande in die siekte se guns tel.”

Laatroes het net ‘n paar uur onder ideale toestande, soos wanneer ‘n onverwagse front koel en nat weer bring, nodig om vatplek te kry en groot skade aan te rig. Die feit dat ‘n ernstige uitbraak ‘n hele oes kan vernietig, beklemtoon die noodsaaklikheid om in chemiese swamdoders wat laatroes kan voorkom, te belê. Gegewe die sporadiese aard van die siekte, selfs onder gunstige toestande, neig produsente egter om nie voorkomend te spuit nie ten einde die koste van hul gewasbeskermingprogramme so laag as moontlik te te hou.

Hoe ‘n produsent weet wanneer dit regtig nodig is om te spuit, is ‘n vraag wat Syngenta met sy siekterisikodiens help beantwoord. Hierdie diens is gratis vir Suid-Afrikaanse produsente op Syngenta se webwerf beskikbaar en kombineer weervoorspellings en siekterisikomodelle om waarskuwings te genereer vir spesifieke weerstasies of areas rondom ‘n weerstasie. Produsente kry ‘n waarskuwing via WhatsApp wanneer die weer wat vir die volgende vyf dae voorspel word, gunstig is vir die ontwikkeling van laatroes. Dit gee hulle genoeg tyd om hul aartappellande met ‘n voorkomende bespuiting teen besmetting te beskerm.

Al wat ‘n produsent te doen staan, is om te registreer en die gewas, siekte, weerstasies en tydperk te kies waarvoor waarskuwings nodig is. Dit is maklik om weerstasies by te sit of af te haal, en om die diens te stop of te aktiveer na gelang van bewerkingstoestande. Syngenta het onlangs die diens uitgebrei om ook ryp- en hittestremmingwaarskuwings aan te bied. Hierdie gevorderde sisteem trek data op Maandae en Donderdae en stuur om 07:00 ‘n WhatsApp uit vir elke stasie. As daar geen risiko is nie, word geen boodskap gegenereer nie. Produsente word dus nie met irrelevante kennisgewings lastig geval nie.

‘n Beduidende voordeel is die geskiedenis wat in die sisteem geberg word vir verwysingsdoeleindes. Die argief bevat weerdata sedert 2016 wat produsente kan gebruik om spuitprogramme op te stel en te bepaal waarom een bespuiting meer of minder suksesvol as ‘n ander was. Sodoende kan die tydsberekening van toedienings voortdurend verfyn word.

Laatroes affekteer ook ander gewasse, soos tamaties. Tamatieprodusente vind dus ook baat by die risikodiens, siende dat hul roesprobleme ooreenstem met dié van aartappelprodusente.

“Volhoubaarheid is ‘n prioriteit vir almal van ons,” sê Labuschagne. “Net so min as wat produsente ‘n oes aan laatroes wil afstaan wil hulle ook nie kanse waag wanneer weerstoestande onverwags gunstig is vir die ontwikkeling van siektes nie. Met hierdie diens haal Syngenta heelwat onsekerheid uit die besluitnemingsproses, en help ons produsente om tyd te spaar en opbrengs en oeskwaliteit te verbeter terwyl hulle ook geld spaar deur onnodige chemiese toedienings te vermy.”

https://www.syngenta.co.za/service/weather-and-risk-map-service

Bron: Syngenta

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0