Ons groet nog ‘n legende in die landboubedryf: Dr Jasper Coetzee

FB_IMG_1541490231734
Dr Coetzee(regs) en sy vrou, Johanna. Foto: Facebook
Dr Jasper Coetzee is Maandagoggend aan kanker oorlede. Hy was bekend vir sy kennis oor skaapboerdery.
Hy het sedert 2012 as private konsultant gewerk waar hy tegniese ondersteuning aan skaapboere en die bedryf gebied het.
Hy het op baie boeredae landswyd gepraat en kort kursusse aangebied aan skaapstudiegroepe. Hy het graag oor presisieboerdery gepraat. Hy was ook verbonde aan Feedfirst, dit is waar hy gevorderde tegniese voedingsinligting oor skape aan boere en voedingsmaatskappye gegee het.
Dr Jasper het sy graad in B.Sc.Agric in 1973 aan die Universiteit van Stellenbosch (US) verkry, sy honneursgraad in 1975 en doktorsgraad in 1988, almal aan die US. Hy was onder andere ‘n lektor in skaap- en wolkunde by die US, het ook lank navorsing vir die Universiteit van Melbourne in Australiё gedoen en het by voermol gewerk.
Hy is in 2002 aangewys as Landbouskrywers SA se Wes-Kaapse Landboukundige van die Jaar.
Die roudiens is op 8 November vanuit die NG Kerk Welgelegen in Stellenbosch.